Sunday 31 March 2013

Kastele en Uile

Vrydagoggend het die langnaweek begin. Ons het geen planne gehad, maar die son het skielik nie te skaam gelyk nie, so toe bespreek ons sommer blitsvinnig vir ons 'n kamer in 'n gastehuis in Kent en besluit om 'n paar National Trust eiendomme te gaan besigtig. Ons het heerlik gekuier, maar ons bene en voete is so pê, ons gaan sweerlik die volgende twee dae net hier in die bed bly lê.

Ons het oorspronklik net beplan om by Sissinghurst te gaan loer, maar het opgeeindig om 6 plekke te gaan besoek - ons het baie gestap en baie trappe geklim.

Sissinghurst Castle & Gardens


Sissinghurst was ons eerste stop. Hulle noem dit 'n kasteel, maar dit is eintlik net 'n groot herehuis. Gedurende die Sewe Jaar Oorlog het hulle oor die duisend Franse soldate hier aangehou as oorlogs gevangenes, wat blykbaar die plek geruineer het, en later was dit 'n huis vir werkloses. Nou is dit net 'n lieflike plek om te gaan piekniek hou en blomme kyk.


Natuurlik met die Lente wat so laat draai die jaar, moes ons maar hard soek vir blomme, maar dit was lieflik om oral klein tekentjies van lewe te sien. Die uitsig vanaf die toring was ook pragtig - veral met die effense sneeu wat geval het.

Scotney Castle

Ons volgende stop was Scotney Castle. Ons het amper nie gegaan nie, want dit was nie deel van ons plan nie, maar ek kan nooit die woord 'Castle' weerstaan nie. En hoe bly was ons nie, dit is rerig 'n pragtige plek - soos iets uit 'n sprokie boek.


Die tuine het blykbaar onlangs 'n prys gewen as die mees Romantiese tuin in Engeland. Beslis nie moeilik om te glo nie. En selfs met die goor weer, kon mens presies sien hoekom. Die kasteel was gebou in 1378, maar is nou vervalle sedert die hoofhuis in 1843 klaar gebou is, en dien nou bloot as 'n lieflike 'garden feature'.


Na 'n heerlike aand by die Downs View Guest Lodge het ons vroeg in die pad geval en besluit om 'n draai te gaan gooi by Bodiam Castle.

Bodiam Castle

Bodiam is 'n lieflike vervalle ou middeleeuse Kasteel omring deur 'n grag - dit huisves vlermuise (wat ons ongelukkig nie gesien het nie) en 'n magdom nuuskierige eende. Op die dag van ons besoek was daar ook 'n paar uile en valke en het ek een van naderby leer ken.
Ek was vreeslik in my noppies!
Ons het menigte bitter styl spiraal trappies geklim om die wonderlike uitsigte vanuit die 14de eeuse torings te besigtig. Die kasteel is gebou in 1385 om die area te beskerm teen die Franse gedurende die Honderd Jaar Oorlog - nie dat ek dink dit ooit enige aksie gesien het nie. Blykbaar was dit ook gebruik as 'Swamp Castle' in Monty Python and the Holy Grail. Steeds indrukwekkend, kan mens jou net indink hoe ongelooflik dit op sy dag moes gewees het.


Na Bodiam het ons 'n draai gaan gooi by Rudyard Kipling se huis, Batemans.

Batemans

Kipling en sy gesin het 34 jaar op Batemans gewoon en die huis en meubels is besonder goed geonderhou. Tekens van Kipling se besondere lewe en liefde vir Indie is oral te sien. Sy 1928 Rolls Royce Phantom I staan nog net so in die motorhuis. Die tuine is nie groot nie, maar mooi uitgelê, en daar is selfs 'n werkende watermeul waar ons kon meel koop wat nog op die tradisionele manier gemaak is.


Na al die dinge was ons rerig klaar met die dag, maar oppad huistoe sien ons toe 'n bordjie vir Emmet's Garden, en dog toe maar ons sal net vinnig kyk hoe dit daar ook lyk en na dit het ons ook toe nog vinnig 'n draai gegooi by Chartwell, waar Sir Winston Churchill gewoon het.

Chartwell

Al was ons toe al baie moeg en al het dit gesneeu toe ons 4uur die middag daar opdaag het, was ons steeds baie bly dat ons gegaan het. Chartwell het 'n lieflike groot tuin en teen 650 voet bo seevlak, 'n pragtige uitsig oor die Weald of Kent. Churchill het die landgoed in 1922 gekoop en daar gewoon, saam met sy vrou Clementine, vir die res van sy lewe. Sy geliefde gemmerkat, Jock, se vyfde nageslag woon steeds hier, ook genaamd Jock.


Die uitsig oor die dam was ook besonders - ons moes net ompad stap om hulle kwaai swart swaan te vermy. Nie moeilik om jou in te dink dat ou Winston hier baie lekker kon sit en verf nie.

As al hierdie plekke so mooi is nog voor die Lente ordentlik hier is, sal ons beslis weer moet gaan sodra al die blomme gesig kom wys. Uit en uit 'n heerlike uitstappie, maar dit is darm altyd lekkerder om in jou eie bed te slaap...so laat as wat jy wil.

5 comments:

  1. Baie interessant!! Program/ series op BBC kanaal oor Engeland se geskiedenis wys op oomblik en het jou inligting geniet oor kastele ens wat aansluit by geskiedenis!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Klink na 'n interessante program. Lekker om so bietjie te leer terwyl mens rondloop tussen al die mooi plekke.

      Delete
    2. Ai my kind - wat 'n voorreg het jul nie om die ou Engelse geskiedenis te kan bekyk en waardeer Hier in SA verander hul al ons geskiedkundige name verwyder die geskiedenis uit die parlement vervang die geskiedkundige skilderye - wat 'n tragedie. Geniet dit - fotos soos gewoonlik baie baie mooi.

      Delete
  2. Baie interessant, stem saam met vorige kommentaar. Ons geskiedenis word verwyder, weet nie wat bly oor vir ons nageslag nie.

    ReplyDelete
  3. Dit is 'n vreeslike jammerte ja. En as dit eers weg is, is dit moeilik om weer terug te kry. Hier in Engeland het hulle mos op 'n stadium die klippe en ander bou materiaal gesteel van ou kloosters om huise en mure te bou - nou staan daar geraamtes oral.

    ReplyDelete