Saturday 29 June 2013

Lekkerste Beskuit

Vandag het ons groot nuus gekry - ons aansoek om Britse Burgerskap was suksesvol. Dit beteken nie dat ons nou Brits is nie - ons moet eers trou sweer aan die Koningin - maar baie binnekort sal ons die gesogte rooi boekie in ons hande hê en dan lê die wêreld aan ons voete. Wel, ek mag dalk nou basies Brits wees, maar ek bak steeds goeie ou Suid-Afrikaanse beskuit. En vandag bak ek die heel lekkerste beskuit wat ek ken. Hierdie resep het ek geleer by my vriendin Marlé se Ma en dit was net die lekkerste ding om wakker te word na 'n oorslaap en 'n koppie koffie in die bed te kry met daai beskuit. Dit was nou nie haar eie resep nie en ek het geen idee waar dit oorspronklik vandaan kom nie. Hierdie blog vertel wel dat die resep 'n Rooi Rose kompetisie vir die Heel Lekkerste Beskuit in die Land gewen het in 1996 - en ek beaam dit 100%.
Ek hou wel daarvan om beskuit resepte aan te pas - want in my wêreld moet beskuit altyd rosyne hê - so ek sal die basiese resep gee, maar vertel wat ek byvoeg. Hoop julle geniet dit net so baie soos ons.
All Bran en Sonneblomsaad Beskuit Resep
(ook bekend as: Die Lekkerste Beskuit in die Land)

500g (2 k) Gesmelte Botter (nee, geen margarine vir my nie!)
500ml (2 k) Karringmelk
15ml (1 groot e) Vanieljegeursel
840g (6 k) Koekmeelblom
50ml Bakpoeier
7ml Sout (ek gebruik gemaalde pienk Himalaja sout)
300g (1.5k) suiker (ek hou van sagte bruin suiker)
750ml (3 k) All Bran, effens fyngedruk
250ml (1 k) sonneblomsaad (ek gooi sommer pampoen pitte ook by)

Voorverhit die oond tot 180C. Voer oondpanne uit met bakpapier of smeer met botter.
Smelt botter en laat effens afkoel en roer an die karringmelk en vanieljegeursel by.
Sif meel, bakpoeier en sout saam en voeg suiker, All Bran en sonneblomsaad by. Ek voeg sommer 'n groot hand vol rosyne ook by...en 'n bietjie klapper en 'n bietjie semels en papawersaad. Meng goed.

Voeg dan die bottermengsel by die droë bestanddele en meng dit deur. Dit vorm ‘n redelike stywe deeg. Vorm dan bolletjies met die hand en plaas teen mekaar in die gesmeerde panne. Lek jou vingers af.

Bak vir sowat 60 minute of tot dit vir jou reg lyk. Laat dit afkoel en breek die bolletjies van mekaar los en pak op bakplate om uit te droog teen 100C.
My bolletjies was 'n bietjie klein, maar mens leer maar met elke probeerslag. Wens julle kon ruik hoe heerlik dit nou hier ruik. Het juis vandag ook 'n ruikertjie van die soetste Sweet Peas uit my tuin in die vensterbank gesit. Dit is die eenvoudige dinge in die lewe wat mens so tevrede maak.
'n Groot dankie aan Marlé se Ma, Tannie Marita, wat my so baie van die lekker beskuit gevoer het.

9 comments:

  1. Stunning resep! Ek het hom "gesteel" :)

    ReplyDelete
    Replies
    1. Geniet dit! Ek probeer gereeld ander resepte, maar kom altyd na hierdie een terug. :)

      Delete
  2. Mmm... dit lyk baie lekker! W

    ReplyDelete
  3. Dit lyk HEERLIK! Net 'n vinnige vragie : geen eiers nie?

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Daar! Ek het gou gaan seker maak, maar nee, daar is geen eiers in hierdie resep nie. Lekker dag!

      Delete
  4. Is die bakpoeier nie te veel nie? 50ml?

    ReplyDelete
  5. Hi. Nie geweet jy het n blog nie. Dit was n groot verrassing toe iemand dit vir ons aangestuur het.
    Ek voeg soms n koppie gesnyde glanskersies of cranberries by.

    ReplyDelete
  6. Ek het die Pannemerwe panne. Kan ek dit gebruik of is dit baie belangrik om die bolletjies te maak?

    ReplyDelete