Wednesday 3 April 2013

Die vraag is net...

Met die ongure weer wat ons tans beleef – blykbaar was Maart kouer as die hele winter – is daar baie opinies oor wanneer jy jou saadjies buite kan gaan plant. Die raad wat tot dusver vir my die meeste sin gemaak het is, "As dit vir jou warm genoeg is om kaalgat in jou bedding te gaan sit, is dit warm genoeg om jou plantjies/saadjies te plant." Wat kan nou meer logies wees? Nee, moenie bekommerd wees nie, ek is nie van plan om die bure te verwilder deur kaalgat in die tuin rond te kuier nie.

Sover het ek suksesse en teleurstellings. My murgpampoenjties het tot dusver baie mooi uitgedraai. Ek was bekommerd oor een wat nie wou opkom nie, maar hy het nou mooi opgevang. Die tamaties lyk ook baie gelukkig en die komkommer doen baie goed. Die beet het mooi opgekom, maar aangesien die idee is om hul so gou moontlik uit te plant (want hulle hou nie van rondsit in die huis in potjies nie), begin hulle nou ‘n bietjie ongelukkig lyk. Die aarbeie lyk ook nou baie lewendig en ek het dringend nodig om hulle in hulle eie potte te gaan uitplant voor hulle wortels meer gevestig raak. Die mielies sal ek klas as ‘n redelike mislukking. Ek dink hulle moet seker maar eerder direk in die grond geplant word, en het tien teen een baie meer spasie nodig om eers ordentelik wortel te skiet voor hulle begin groei. So ja, my mielies maak my tans bietjie hartseer, maar ek het oorskiet saad, en die sal ek dan plant wanneer dinge nou uiteindelik warm begin lyk. Die weervrou se juis die warm Atlantiese weerpatrone doen hulle beste om by ons uit te kom – hulle moet net harder werk, die luigatte!

As my vingers ook net nie wou aanhou verkluim as ek vir meer as 10 minute buite is nie, sal ek ook graag wou begin om my grond reg te kry. Ek het ‘n reuse sak kompos gekoop – ‘n 120l – en ‘n groot boks been, vis en bloed meel. Ons is ook besig om ‘n versameling eierdoppe en teesakkies aan te skaf (gelukkig is Juan baie lief vir tee en eiers) en het ons ‘n hele sak vol ou plastiek bottels wat ek wil inspan om te help met plante nat hou wanneer ons dalk mag weggaan. Die idee is om die bottel vol klein gaatjies te steek en hulle dan te begrawe naby die plante met net hulle koppe wat bo die grond uitsteek. As ons dan weggaan vir die vakansie, maak ek al die bottels vol water en hulle behoort dan stadig water te voer aan die plante terwyl ons weg is. Wel, dit is die plan, ons sal maar moet sien of dit werk.

Verder sal ek eersdaags my eiervrug en spanspek saad ook plant en hoop dat dit gou warm genoeg is om die mange tout, sweet peas en ander saad direk buite te gaan saai. Ek kan ook nie wag om my giant mongolian sonneblomme te plant nie. So baie om nog te doen, die vraag is net...is die grond al warm genoeg?
 
 

No comments:

Post a Comment