Saturday 14 September 2013

Tradisionele Britse Skons

Wat is nou lekkerder as 'n vars, warm skon met tuisgemaakte aarbei konfyt en room? Veral as die weer skielik so koud lyk en die Winter vinnig weer nader staan. 

Hier in Engeland word skons tradisioneel bedien met aarbei konfyt en 'clotted cream'. Ek weet nie wat clotted cream in Afrikaans genoem word nie, maar dit is heerlik. Dit is baie dik, maar is nie bloot styf geklitste room nie, maar eerder 'n stywe dik room wat nie klop nodig het nie. Dit kom oorspronklik vanaf Cornwall of Devon en geen Brit sal 'n skon eet sonder dit nie. 

Op ons onlangse kamp, het ons menigte bordjies langs die pad gesien Cream Tea adverteer - Cream Tea bestaan uit 'n skon met konfyt en clotted cream bedien met tee. Ek kon sien hoe Juan se oë al hoe groter en groter raak en moes maar vinnnig 'n plan maak om skons te maak toe ek by die huis kom. 

Daar is so baie skon resepte beskikbaar, maar hierdie een is op die oomblik my heel gunsteling. Ek vind sommige skons smaak soms baie na bakpoeier of laat jou tande wollerig voel, maar hierdie resep is net reg.

Tradisionele Skon Resep
6 - 8 Skons - 20 minute
  • 350g Bruismeel
  • 1/4 Teelepel Sout
  • 1 Teelepel Bakpoeier
  • 85g Botter in blokkies gesny
  • 3 Eetlepels Strooisuiker
  • 175ml Melk
  • 1 Teelepel Vanieljegeursel
  • 'n Skeet Suurlemoensap
  • 'n Bietjie geklitste eier

Voorverhit jou oond tot 220 grade (200 vir waaier oonde). Voer 'n bakplaat met papier uit of strooi dit liggies met meel. Dit kan ook help om jou bakplaat effens op te warm voor jy die skons daarop plaas om te bak.

Sif meel, sout en bakpoeier saam in 'n groot bak. Voeg die botter by en vryf in met jou fingers totdat die meel krummelrig lyk. Roer nou die suiker by. 

Gooi die melk in 'n bekertjie en verhit dit effens in die mikrogolfoond vir so 30 sekondes - dit moet net lou wees, nie warm nie. Voeg nou die vanieljegeursel en suurlemoensap by. Laat dit eenkant rus. Die suurlemoensap karring die melk so effens en maak dat die bakpoeier beter werk en jou skons lekker rys. 

Meng nou jou nat mengsel by jou droë mengsel met 'n mes. Moet dit nie oorwerk nie - dit moet net effens gemeng wees en kan dan op 'n melerige oppervlakte verder bewerk word deur dit twee of drie keer om te vou totdat dit effens gladder lyk. Die deeg moet 3 tot 4 cm diep wees. Sny nou die skons met 'n koekiedrukker uit of 'n glas uit. 

Plaas die skons op 'n bakplaat en borsel met geklitste eier. Bak vir 10 minute tot goudbruin. Bedien met room en konfyt van jou keuse.

Ek maak sommer my eie vinnige 'konfyt' deur 'n paar aarbeie in 'n pot met 'n bietjie water en suiker te kook terwyl ek skons maak. Wanneer ek die skons in die oond sit, haal ek die konfyt van die hitte of om dit kans te gee om af te koel en by die tyd wat die skons klaar is, is die 'konfyt' sommer ook reg. Deur die konfyt self te maak, kry jy 'n baie beter aarbei smaak en hoef dit ook nie so soet of kunsmatig soos winkel konfyt te proe nie.  

Wat kan nou lekkerder wees as dit? As jy merkwaardiglik nog van hierdie konfyt oor het na al die skons op is, is dit net so lekker bo-oor joghurt en hou 'n hele paar dae in die yskas. Smul!

2 comments:

  1. Heerlike skons...regtig lig. Sal dt beslis weer maak

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ag ek is bly! Ek dink ek moet ook weer 'n slag skons maak. Geniet dit!

      Delete