Saturday 23 March 2013

Perfekte Pizza

Op universiteit het ek in Stellenbosch se Dros gewerk en buiten die geld, het ek dit sweerlik hoofsaaklik gedoen vir hulle Bacon en Feta Pizza. Ek was mal daaroor - heeltemal verslaaf - en steeds as ek na 'n Dros gaan, is dit al wat ek wil hê. Op 'n stadium het ek basies niks anders geëet nie - dit was 'n wonderlike diet mits jy heel week lank net aan een pizza geëet het en niks anders nie.
 
Hier in Engeland ken niemand van feta op 'n pizza sit nie (hulle verkies mielies - weird), plus meeste feta proe vir my maar blêh. Gelukkig het ek 'n tyd terug Apetina Feta ontdek en nou voel dinge vir my minder vreemd en eet ek aansienlik meer feta. Onlangs het ek die lekkerste pizza deeg resep raak gelees, wat vir my net so lekker dun en bros soos daai Dros pizza is. Die resep kom oorspronklik van fearlesshomemaker - wat sal ek sonder ander mense se awesome blogs doen - en vannaand het ek my gunsteling pizza ge-recreate.

Perfekte Plankdun Pizza Resep
 
3/4 koppie water (lou warm)
1/2 teelepel instant yeast
2 koppies meel (gewone of broodmeel sal doen)
1/2 teelepel sout
Olyfolie, knoffel, spek, feta en roosmaryn  
 
Voeg die sout by die meel. Los die kitsgis in die lou warm water op en gooi dit stadig by die meel terwyl jy dit meng - ek doen dit met my voedselverwerker, maar ek is seker jy kan dit met die hand of 'n lepel ook doen. Die deeg sal begin om 'n bol te vorm - knie dan die bol tot glad op 'n gemeelde oppervlak - dit behoort net 'n paar minute te neem. Deel dit in twee bolletjies en laat rus vir so 'n paar minute (ek was sommer solank skottelgoed).
 

Rol dan die bolletjies uit tot plat en dun op 'n gemeelde oppervlak en plaas hulle op twee pizza plate. Borsel met olyfolie (ek voeg sommer fyn gekapte knoffel by die olie) en bak dan vir so 3 - 5 minute teen 220 grade. Haal dan uit en plaas jou pizza bestandele op - ek het spek, feta en vars roosmaryn opgesit. Bak dan tot bros en gaar - dit neem enige iets van 5 - 8 minute.
 
Absoluut heerlik, maklik en vinnig...en nou het ons nog leftovers vir more en wat is lekkerder as leftover pizza?
 
Ek was rerig van plan om baie meer oor plante te skryf, maar hierdie belaglike Britse weer wil net nie saam werk nie. Blykbaar is daar nou nog sneeu oppad en vir die volgende week gaan die nagte steeds in die minusse wees. Ongelooflik! Ek was aanvanklik baie bevrees dat my arme bol plante nooit hierdie vriesende nagte en zero son sou oorleef nie, maar iewers moet daai bolle gevul wees met baie hoop, want hulle sukkel voort tens spyte van die goor weer, en verbeel hulle dat dit Lente is.
 
 

1 comment:

  1. Pizza lyk heerlik en daffodil is pragtig! W

    ReplyDelete