Saturday 9 March 2013

Devils Punch Bowl

Vandag was 'n heerlike dag, selfs al was die weer lekker goor - tipies Brits. Sommer gisteraand al het ons besluit, ten spyte van die weer (en die moontlikheid van nog sneeu), dat ons nie vandag in die huis gaan rondlê nie en ook nie in die winkels nie, maar die Devils Punch Bowl gaan aanpaak.

Dit is 'n Area of Outstanding Natural Beauty op die A3 tussen London en Portsmouth - 'n natuurlike reusagtige amfiteater. So, na Juan my vanoggend met 'n lekker ontbyt in die bed verras het, het ons in die pad geval, al was dit toegetrek buite en die windjie effens koel. Daar aangekom was alles toe met digte mis en kon ons aanvanklik nie in die heide valleie afkyk nie, maar dit het nie saak gemaak nie, want ons het die plek plat gestap - goed oor die 5km.


Ek het gehoop dat ons van die Wilde Ponies of die Highland Cattle wat daar woon sou raakloop. Ek en Juan het behoorlik spoor gesny en was toe gelukkig om op 'n klein bokkie (ons dink dit was 'n wyfie Roe Deer) en 'n paar Ponies af te kom. Maar dis nie net die viervoetige natuur wat ons opgewonde gemaak het nie, daar was ook pragtige heide, bome, mosse, strome en fungi. Ons het ook 'n oormaat voëls gehoor, maar met die mis kon ons nie veel opspoor nie. Ek kan heeltemal verstaan dat dit gesien word as 'n Site of Special Scientific Interest. So belangrik ag hulle nou die gebied, dat die A3 wat tot onlangs nog digby die reservaat verby gegaan het, nou met 'n reuse tonnel, onderdeur die plek gaan.


Op 'n stadium het ons natuurlik lekker verdwaal en moes ons 'n vreeslike steil bult klim - basies vertikaal - maar dit was net eenvoudig heerlik. Al die vars lug en oefening het ons goed gedoen en ek dink vannaand gaan ons heerlik vas slaap en more het ons 'n goeie verskoning om dan behoorlik lui te wees.

No comments:

Post a Comment