Monday 18 March 2013

Korrel Konfyt en Konsulate

Vandag het ek en Juan die dag afgevat om 'n bietjie by die Suid-Afrikaanse Konsulaat in London te gaan kuier. Ok, dit was nie 'n sosiale besoek nie...voor ons aansoek doen vir ons Britse burgerskap, moet ons eers aansoek doen vir 'dual citizenship' anders verloor ons automaties ons Suid-Afrikaanse burgerskap. Ek het ook sommer besluit om vir 'n nuwe paspoort aansoek te doen, aangesien myne volgende jaar verval en byna vol is. Ons het ons klaar gemaak om die hele dag daar te sit en ons het natuurlik nie vreeslik daarna uitgesien nie. Maar dit het toe heel lekker uitgedraai...as 'n besoek aan 'n konsulaat nou ooit as 'lekker' beskryf kan word. Ons was redelik voor in die ry (nommer 6 en 7), is baie vinnig en vriendelik gehelp (het lekker saam met die beampte gelag oor my verbrande vingerafdrukke) en is binne omtrent twee ure daar uit met ons papiere in die hand.

Met 'n oop dag voor ons, het ons 'n bietjie in Trafalgar Square en St James Park uitgehang en het onderskydelik 'n eekhoring, 'n pelikaan en 'n valk (en haar handler) ontmoet. Terug by die huis wil dit voorkom of die weer hier in Epsom die hele dag lekker ellendig was, so uit en uit 'n wen vir ons!

 Vir ontbyt het ons lekker weggelê aan varsgebakte brood met tuisgemaakte korrel konfyt. Ai, ek moet my Ouma se resep in die hande kry! Myne het heel lekker uitgedraai...maar dit is natuurlik nie my Ouma sin nie. Toe ek die lekker Suid-Afrikaanse druiwe op 'n uitverkoping sien, kon ek dit nie weerstaan om te probeer nie. Juan het botteltjies gewas en gesteriliseer terwyl ek konfyt gemaak het...lekker spanwerk.
 
Korrel Konfyt Resep
 
374g suiker vir elke 500g druiwe

 
Gebruik 'n lekker diep pot en wees versigtig vir brand. 'n Klein bietjie botter sal help vir die skuim en jy kan of Jam suiker (met pektien) gebruik of 'n klein bietjie suurlemoensap - dit sal help vir die set.
Sit die druiwe in die pot en vewarm effens - gooi suiker by en roer op lae hitte tot gesmelt. Sodra die suiker gesmelt is, skuif die hitte op en kook dit vir so 10 - 15 minute sonder om te roer. Jy sal sommer sien die skuim verander as hy reg is. As daar 'n digte wit skuim op is, skep af. As jy wil toets of dit reg is kan jy 'n bietjie op 'n koue piering laat staan vir 'n minuut om te kyk na die tekstuur.
 
Skep in warm gesteriliseerde bottels en seel.
 
 
Sien, geen moeite...veral nie as jou man die opwas werk doen nie.
Ek kan jou een ding sê, ek weet wat Juan vir die volgende paar weke op sy brood gaan eet.


No comments:

Post a Comment