Monday 4 March 2013

Brood bak en brandwonde

Ek dink ek het nou op ‘n baie lekker brood resep afgekom. Moet my net nie vra waar presies dit vandaan kom nie – dit is sommer aangepas van ‘n paar Amerikaanse resepte wat ek onlangs op die internet gesien het en ander brood tips wat ek so met die tyd opgetel het. Ek kan mos nooit ‘n resep los soos ek hom kry nie! Die rede hoekom ek so mal is oor hierdie resep, is die min moeite wat dit vat en die feit dat jy dit nie hoef te knie nie. My polse en hande raak maklik seer, so as ek dit kan vermy, dan is dit wonderlik. Die nadeel is dat jy nie in ‘n japtrap gaan brood eet nie, dit gaan jou ten minste ‘n dag vat, maar as jy reg beplan, dan is dit nie ‘n probleem nie en jy hoef hom nie op te pas nie. Nou weet julle wat ek Sondae doen.

Maklike ‘no fuss’ Brood Resep

3 kopies brood meel
315ml water
¼ teelepel fast-acting instant yeast korrels
1 ½ teelepel sout
1 teelepel suiker
‘n Hand vol saad

Heel eenvoudig, gooi al die droë bestandele saam (behalwe die saad) en meng deurmekaar, gooi die water by en roer hom sommer so rofweg met ‘n houtlepel totdat hy so ‘n effense rowwe deeg bol maak. Hy hoef nie mooi te wees nie en jy hoef nie jou vingers vuil te maak nie. Nou maak jy hom toe (ek het sommer ‘n stortkappie wat ek oor my mengbak trek) en laat staan hom vir 10 – 18 ure. Ja, ek weet dit klink vreeslik lank, maar dit beteken jy maak die mengsel voor jy gaan slaap op ‘n Saterdag aand en dan behoort hy lekker te lyk teen die tyd dat jy opstaan – of maak hom vroeg Sondagoggend en laat staan hom tot laat die aand en bak hom dan net voor jy gaan slaap.

Na die lekker lang staan haal jy die deeg uit, en op ‘n melerige oppervlak, werk jy hom terug na ‘n lekker bal en meng dan sommer terselfde tyd die sade in (ek het poppie, sonneblom en pampoen sade ingewerk) – dit behoort jou net so 5 minute te neem. Maak hom dan weer toe en laat staan hom vir 1 na 2 ure. Sit die oond so ‘n halfuur voor jy hom gaan bak op 200 grade en sit ‘n pot met ‘n deksel in die oond om op te warm. Wanneer jy dan gereed is, plop die deeg in die warm bak (moet nie jouself verbrand nie – later meer hieroor), sit die deksel terug en plaas hom in die oond vir 30 minute. Haal dan die deksel af en bak hom verder vir nog 10 minute tot hy goudbruin is en hol klink wanneer jy hom klop. Laat hom maar ‘n bietjie in die pot afkoel en haal hom dan uit om ordentlik af te koel op ‘n droograk. Staan terug en bewonder jou brood en verlekker jou aan die opgewonde blink in jou man se oë.
 Sien, skaars enige werk, dit vat net tyd. Dis rerig ‘n lekker broodjie en ek gaan hierdie resep nog baie gebruik. Mens kan natuurlik ook kaas en uie of mielies daarin sit, of enige ding waarvoor jy lus het. Mmm..ek sien ‘n kaasbrood in ons toekoms!

Nou vir die raad oor brandwonde...

So as jy nou nie so lekker aandag gee aan dinge nie, en dink jy is brand bestand, mag jy dalk so af en toe jou vingers verbrand. Gewoonlik is dit koue water en ys en dan aanvaar ek maar die blase – ek worry gewoonlik nie oor die pyn nie. Maar gisteraand toe ek daai 200 grade celsius deksel met my kaal hand optel, dog ek ek brand my vingers tot op die been af. Ek het rerig groot geskrik. Ek het natuurlik dadelik die deksel laat val en my hand onder die koue kraan gehou. Juan moes maar die brood in die oond sit. As ek vandag so na my vingers kyk – en neem in ag ek tik hierdie blog met daai gebrande vingers – dan moet ek hierdie revelations deel:

Stap 1: Hou gebrande vingers onder die koue kraan vir ten minste 10 minute (ja, ek weet dit klink lank) – jy kan dit ook in ‘n bakkie koel water hou – dis nodig om dadelik die ‘brand’ te stop.

Stap 2: Moet nie direk met ysblokkies werk nie, want hulle kan jou vingers dalk verder brand. Gebruik eerder ‘n icepack wat jy vir jou coolerbag sou gebruik het – plaas dit liggies op die area vir ten minste ‘n uur.

Stap 3: Behandel area mildelik met tea tree oil en dan draai jy dit toe met clingfilm en neem ‘n ibuprofin.
Ek het so met my tea tree clingfilm vingers gaan slaap en vanoggend die behandeling herhaal en sit nou so by die werk. My vingers voel wel effens dood, maar daar is geen blase en basies geen pyn nie. So as dieselfde dalk met jou gebeur, probeer gerus die raad. Ek moet natuurlik byvoeg, as jy jouself heeltemal oop gebrand het, moet jy sekerlik dokter toe gaan (en tea tree moet nie op oop wonde gesit word nie), maar ek is seker almal is sensible genoeg om te weet wanneer dinge ‘n werklike noodgeval is en ‘n dokter benodig en wanneer jy maar ‘n bietjie huisraad kan volg.

Ps. As jy nie tea tree in jou huis het nie, dan mis jy uit!

2 comments:

  1. Ek dog jy het vir 'n LLb gestudeer van wanneer is jy 'n dokter!! Slim kind

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ha ha! Ek kan nie glo hoe goed dit gewerk het nie - my vingers is nou weer heeltemal normaal. Ongelooflik!

      Delete