Saturday 23 March 2013

Klapper Karplaks

Een van die lekkerste dinge van grootmens wees, is die feit dat ek kan poeding eet vir aandete en niemand kan my keer nie. Ha! My Ma het onlangs vir my 'n link na Sarie.com gestuur en die eerste ding wat ek raak gesien het, was 'n Hollandse Pofpannekoek. As daar nou een ding is waarop ek en Juan groot is, is dit pannekoeke. Pannekoeke met botterskorsie, feta en dennepitte...of pannekoeke met frankfurters en kaas...of pannekoeke gevul met 'n romerige tuna kaas mengsel...of pannekoek met piesangs gebraai in brandewyn. Water my mond nou!!

Dus met die sneeu wat heeldag hier buite val en ons alby wat so effens verkouerig voel, dog ek ons moet maar die pannekoek resep probeer. In plaas van die bessies wat hul voorstel, wou ek graag 'n paar pruime gebruik wat ek tot dusver nie aan my lippe kon sit nie - hulle is net so suur! Gekonfronteer met hierdie vreeslike suur pruime dink ek toe dit sal dalk help as ek hulle in brandewyn en suiker week, maar Juan het al die brandewyn gedrink en dus moes ek maar settle vir Coconut Rum. Toe besluit ek sommer om ekstra klapper by te gooi en eerder klapperolie te gebruik as botter. 
 
Ek is mal oor klapperolie en as ek 'n kans kry om dit te gebruik benut ek dit. Ek smeer dit nie net aan my gesig nie, maar eet dit in my kos en sit dit ook sommer aan my hare. Dit is rerig 'n Super Food. Dit is goed vir hoë bloedruk, cholesterol, gewigsverlies, breinfunksie, infeksies en vele meer. Ons sou almal aansienlik gesonder wees as ons meer daarvan sou eet. Gaan lees gerus meer daaroor. Ek gebruik die Groovy Food Company se Organic Virgin Coconut Oil - 100% organies met niks slegte byvoegsels nie.  

Klapper Karplaks Pannekoek Resep
(genoeg vir 2 - of 4 as jy baie mededeelsaam wil wees)
 
2 groot eiers
1/2 koppie melk
1/2 koppie meel
30ml suiker
60ml klapper
1 groot eetlepel klapperolie (of 20ml botter)
knippie sout
'n sku'tjie vanilje geursel en 'n sku'tjie kaneel (want dit is ook goed vir jou)
 
Vrugte van jou keuse (ek het twee pruime en 'n klein peer gevat) geweek in drank van jou keuse (ek het Coconut Rum gebruik). Gooi die drank af voor jy die vrugte by die beslag voeg. Ek het die boozy aftreksel eenkant gehou en by die ingedampte melk gegooi waarmee ek die 'pannekoek' bedien het.
Verhit jou oond tot 200 grade. Meng alles saam behalwe die olie/botter en die vrugte. Laat rus die beslag vir 20 minute terwyl jy 'n oondvaste pan (30cm) in die oond laat warm word.

Na die 20 minute behoort die pan lekker warm te wees - werk versigtig met hom. Smelt die botter/olie in die warm pan en gooi dan die beslag in en versprei dan die vrugte bo-oor. Bak in die oond vir 20 minute. Sif 'n klein bietjie versiersuiker bo-oor en bedien met roomys, room of ingedampte melk.
En nou sit ons lekker warm in die bed (in die donker, want dit is Earth Hour) met warm poeding en alles is reg met die wereld.





Ps. Ons het ook die volgende oggend uitgevind dat dit 'n heerlike brunch kan maak met bacon, uie, mushrooms en kaas...smul! Vat net die basiese beslag sonder al die soetgoed en sit dan jou gunsteling bestandele op wanneer jy dit gaan bak - jy hoef dit nie eens vooraf te braai nie, want na 20 minute in die oond, is alles mooi saam gaar. Sit die kaas dan so 3 minute voor dit gaar is op, sodat dit darm nie brand nie. Geniet!

 

No comments:

Post a Comment