Saturday 16 March 2013

Donker Beet Sjokolade Koek

Wat 'n koue week het ons nie onlangs gehad nie - met sterk winde en ligte sneeu - koud genoeg om jou asem weg te vat. Dinsdag was veral bitterlik koud en sal dit nou nie net mooi die dag wees wat my arme ou aarbeie steggies hier opdaag in die pos nie.

Natuurlik is ek veronderstel om hulle dadelik te plant, maar die weer was so sleg, ek kon dit nie buite waag nie. Juan is wel uit in die koue om 'n half gevriesde sak kompos te gaan soek en 'n pot in te bring - die het ons toe volgemaak en die aarbeie geplant en voor die heater staan gemaak. Nou trek ons al by Saterdag en die weer is steeds te sleg vir ons om hulle uit te neem, maar hulle lyk heel gelukkig hier binne by ons - staan net die hele kombuis vol. Ons sien baie uit na hierdie Mara Des Bois aarbeie - hulle is blykbaar die heel lekkerste van die 'ever bearers'. As ons hulle mooi grootmaak, gaan hulle die hele seisoen lank vir ons lieflike vars aarbeie besorg.
Sedert Januarie werk ek mos nou weer - my werk is net 5 minute se stap van die huis af en die mense in my span is rerig vriendelik en gesellig. Ek verveel hulle gereeld met my plante stories en toe een van hulle onlangs opmerk dat hulle nog nooit beet geëet het nie en nie belangstel om dit ooit te probeer nie, het ek beloof om vir haar 'n beet koek te bak wat sy nie sal kan weerstaan nie. Groot praat van my kant af, want ek is nie groot op koek bak nie en het self nog nie 'n beet koek geëet of gemaak nie. Maar so gesê, so gedaan.

Donker Beet Sjokolade Koek Resep

Laat ek sommer dadelik bieg, dit is natuurlik nie my eie resep nie en omdat ek bang is vir koek maak, het ek dit ook glad nie aangepas nie. Die resep het ek gekry op die BBC Food website en is geskryf deur Nigel Slater - hy weet waarvan hy praat. As jy self wil gaan kyk, gaan loer gerus hier - hy het sommer 'n video en alles.

Jy benodig:

200g Botter in blokkies gesny
250g Sag gestoomde/gekookte beet
200g goeie kwaliteit donker sjokolade
4 eetlepels warm espresso (of sterk aangemaakte koffie)
135g gesifte meel
1 opgehoopte teelepel bakpoeier
3 eetlepels kakao poeier
5 groot eiers geskei
190g strooisuiker

Hierdie resep moet jy met 'n ligte hand aanpak omdat die beet so swaar is, want jy wil so veel moontlik lug in die koek behou. My Magimix voedselverweker was 'n wonder met beet chop en eierwitte klits.
 
Sit jou gestoomde beet deur die voedselverwerker tot fyn.

Smelt die sjokolade oor 'n kastrol met warm water - moet dit maar eerder nie in die mikrogolf doen tensy jy seker is jy gaan dit nie brand nie - gebrande sjokolade is baie bitter. Sodra die sjokolade gesmelt is, gooi jy die warm koffie by en dan die botter en meng alles saam tot gesmelt. Laat dit effens afkoel.

Sif die droë bestandele (buiten die suiker).

Klop die eiergele tot skuimerig en vou liggies by die sjokolade mengsel en vou dan die beet by.

Klop die eierwitte styf en vou die suiker in. Vou dan die eierwit mengsel by die sjokolade mengsel en dan voeg jy laaste die meel mengsel by.

Gooi liggies in gesmeerde oondpan en bak vir 40min teen 180grade.

Laat dit effens afkoel in die pan voordat jy dit uitkeer en bedien dan met room of versiersel.

Hierdie koek is beslis iets anders - dig en tog lig en heerlik indulgent. Die werksmense het omtrent daaraan weggelê en niemand het geworry oor hulle diets nie. Ek kon ook heel eerlik sê, "It is one of your five a day." Ek moes net keer of Juan het nie 'n stukkie gekry nie.


Is dit nie 'n pragtige kleur nie?

1 comment:

  1. Dit lyk na 'n interessante koek en heel anders as die normale W

    ReplyDelete