Monday 29 April 2013

Ruspe Skermitseling

Met die aflope nat winter, die selfs natter somer voor dit en sommer net al die nat wat Engeland beleef het, word daar nou in die koerante vir ons 'n oormaat slakke voorspel. Ek het myself dus hiervoor voorberei en was toe heel onkant gevang deur die ruspes wat in die middernagtelike ure aan die groeipunte van al my groentes vreet en wat natuurlik geen saak het met die slug pellets wat ek so mooi uitgesit het nie.
 

Wat nou gemaak? Party mense stel voor dat ek moet garlic plant, want Ruspes hou nie van die smaak/reuk van garlic nie. Ek is nie seker of die Ruspes hiervan bewus is nie, want hulle eet net so lekker aan my garlic soos aan my boontjies en beet. My raad? Hol in die nag in jou pajamas rond met 'n flits en jag ruspes terwyl jou man effens verdwaas vir jou deur die kombuis venster kyk. As jy hulle vang, gooi hulle oor die muur as jy nie van jou buurman hou nie, of voer hulle die volgende oggend vir die voëls.

So is ek nou al drie nagte na mekaar uit. Die eerste aand het ek so twee of drie gevang, die volgende aand vyf en gisteraand net een. Vannaand was daar geen. Sukses! Ek sal maar die saak so aanhou beloer en die bure moet maar wonder hoekom daar 'n vrou met wilde hare en pajamas in die tuin rond kruip in die middel van die nag. 
 
Ek onthou nog in my eerste jaar van groente groei het ek weer oorlog gevoer teen earwigs (oorkruipers) - gril my vrek! Daar was hordes en hordes van die blink swart bliksems met hulle klein knypers en harde grillerige lyfies. Orals waar ek my flits geskyn het, het daar net blink swart ogies vir my terug geglinster. Ontmoontlik om te vang - wie sal nou aan hulle wil raak - en immuun teen meeste gif. Maar gewapen met 'n spritser vol afgewaterde seep het ek hulle wel baas geraak en so sal ek ook oorwin teen die ruspes.
 
 
Die plantjies in die huis is nog salig onbewus van die gevare wat vir hulle buite wag. Ek weet ek moet my tamaties uitplant, maar is nog so bang hulle kom iets oor, of kry te koud. So hulle sal maar nog 'n week saam met my in die sitkamer kan sit en TV kyk voor hulle uit gaan. Die komkommers sal maar nog 'n rukkie langer moet uithou - hulle is nog maar klein en groei stadig en die spanspekkie sal seker heel laaste uit gaan - hy gaan nog baie huis hitte nodig hê om iewers uit te kom.
 
Lekker week vir almal - moenie worry, Maandag is darm nou amper verby...

No comments:

Post a Comment