Saturday 20 April 2013

Eenvoudige Dinge

Iewers deur die week het ek een middag besef dat al wat ek in my yskas het, is 'n ou beet en 'n stuk chorizo wors - met geen pasta of rys in die kas en geen idee wat ek gaan maak vir aandete nie.
 
Te lui om winkel toe te gaan en met Juan wat altyd se dit is ok om soms maar net brood te eet vir aandete, het ek besluit om vir ons 'n beet en chorizo foccacia te maak. Ek kon nie so 'n resep vind nie, toe pas ek maar hierdie resep aan wat ek op die BBC se website gevind het. Baie oulik - gaan kyk gerus. Hulle resepte werk altyd vir my - al pas ek hulle so effens aan. 
 
Dit was smul lekker en die maklike foccacia resep kan aangepas word tot enige iets wat jy in jou kaste het. Tot my skaamte moet ek erken ons het byna die hele ding net so warm met botter opgeeet - salig. Soms is die eenvoudigste dinge in die lewe, die heel lekkerste.

Basiese Foccacia Resep

500g Broodmeel
2 teelepels Sout
7g Kits Gis
60ml Olyf Olie
250ml Lou Warm Water

Maak seker jou water is nie te warm nie - anders sal dit die gis doodmaak. Los die gis in die water op, voeg die olie by en meng. Ek gooi ook soms 'n paar korreltjies suiker by - ek glo dit voed die gis. Gooi die sout (seesout werk lekker) by die meel en gooi dan die vloeistof stadig by - meng tot alles 'n nat deeg vorm. Die deeg behoort nat te wees, nie so droog soos 'n gewone brood deeg nie.
 
Knie dit op 'n melerige oppervlak, maar moet nie te veel ekstra meel byvoeg nie, werk dit net lekker stadig met jou palms tot dit 'n gladde elastiese deeg vorm. Dit behoort so 10 minute te neem. Jy weet die deeg is reg as jy dit in 'n bol vorm en met 'n melerige vinger 'n klein holte in die deeg druk en dit weer terug spring.


Vorm die deeg op 'n bakplaat of in 'n bak - dit behoort 30cm x 20cm te wees - en bedek met 'n geoliede stuk kleefplastiek. Laat dit rus in 'n warm plek tot dubbel die grote - dit behoort so 'n uur te neem. Voorverhit die oond teen 200grade. Na die brood gerys het kan jy met 'n melerige vinger holtes in dit druk om die classic foccacia look te kry en jy kan dit ook bedek met waarvoor jy lus is. Heel eenvoudig kan mens maar net seesout bo-oor gooi en dan bak vir 25-30 minute. Na die tyd kan jy nog olyfolie bo-oor drizzle.  
 
Vandag was nog 'n lekker tuinwerk dag, afgesluit met die eerste braai van die jaar. Met die oop skoon lug, nie 'n wolkie in sig, kon Juan vannaand die maan mooi bekyk en selfs 'n paar pragtige fotos neem. Is dit nie pragtig nie?
 
 
Ons bekyk nou die maan kaarte en dink dat die groot krater die Copernicus krater is. Die krater word geskat as meer as 800 miljoen jaar oud. Dit is 93km in deursnee en 3.8km diep - kan jy dit indink?  
 
Die dag, water, son, maan, nag - hierdie dinge hoef ek nie met geld te koop nie. ~ Plautus (254-184BC)

2 comments:

  1. Fantasties fantasties - is die maan nie mooi nie - Juan geniet hom seker gate uit. aai brood klink hemels. Jy het seker 'n ma wat lief was vir kos maak of hoe!!!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Maar beslis - sy het my mooi geleer.
      Dit is werklik besonders om die maan so in jou eie agterplaas deur die teleskoop te bekyk. Ons sal probeer om nog mooi fotos te neem.

      Delete