Tuesday 16 April 2013

Flukse Naweek

Naweke blits so vinnig verby, mens kry skaars kans om te ontspan, maar somtyds laat 'n lekker hardwerkende naweek my met meer energie as 'n lui een.

Saterdagoggend kon ons afskop met 'n lekker beskuit na Vrydagaand se bak sessie en met die son wat heerlik deur die venster skyn het ek besluit op 'n lekker bederf middagete van souttertjies. Nee, dis nie net vir gaste en partytjies nie!

Met my plantjies wat buite in die son kuier en my man wat papierwerk doen kon ek die goedjies sommer in 'n japtrap opdis. Soms is dit net eenvoudig vinniger om deeg te koop, maar dit is rerig maklik om jou eie shortcrust pastry te maak. Een of ander tyd sal ek my gunsteling botter deeg resep deel, maar die een sal doen vir sommer so...

Botter Broskorsdeeg Resep

125g Meel met 'n knippie sout
55g Botter in blokkies gesny
2 - 3 eetlepels Koue Water

Met 'n voedselverwerker kan jy die deeg sommer baie vinnig en maklik maak, maar dit is nie veel moeiliker met die hand nie. Vryf die botter in die deeg in of pols dit deur die lemme van jou voedselverwerker. Gooi dan eetlepel vir eetlepel die water by die mengsel terwyl jy die mengsel pols of meng - jy hoef nie al die water by te voeg nie, net genoeg om die deeg in 'n bol by mekaar te bring. Sodra dit 'n bol gevorm het druk dit mooi met jou hande saam en vou toe in kleefplastiek - rus dit in jou yskas vir 'n halfuur. Jy kan dit natuurlik ook vooraf maak en dan gebruik wanneer jy dit nodig het - as jy dit vir langer as 'n dag of twee wil hou, vries dit eerder.

Ek het my deeg mooi dun uitgerol en met 'n glas my tertjie bodems uitgedruk en hulle gevul met 'n mengsel gebraaide bacon, uie en knoffel. Steek eers met 'n vurk liggies gaaitjies in die bodems - dit help dat hulle nie vreemd oppof nie. Meng een eier met 'n paar eetlepels melk en 'n teelepel mosterd en vul die tertjies halfpad. Bedek met kaas en bak teen 180 vir 15 - 20 minute.
 
Met die lieflike weer Sondag het ek ons bederf met Blueberry & Poppy Buttermilk Pancakes vir ontbyt. Ek wil nog bietjie werk aan die resep so ek deel dit 'n volgende keer, wanneer ek heeltemal gelukkig is daarmee. Juan kla natuurlik glad nie om proefkonyn te speel nie. En met 'n maag vol pannekoeke wat 'n gesin kon gevoed het, het ons heeldag in die tuin spandeer.

Nie net moes my murgpampoentjies en beet uitgeplant word nie, maar ek moes nog beddings spit, blomme, beet en mielie saad plant en natuurlik ook in die son rondle en my rug verbrand. Juan het vir ons nette gespan waarteen ons plante kan rank - so 'n handige man! Met van my 'kinders' uit die huis het ek ook uiteindelik my spanspek saadjie geplant asook twee eiervrug sade.

Die tamatie plantjies het nou ook elkeen hul eie potjie met plastiek bottel huisies (wat Juan so gaaf was om vir hulle te maak) om hulle te beskerm wanneer hulle die dag buite kuier - hulle sal ek eers uitplant wanneer hulle aansienlik groter is. Buite het ek ook solank een van die reuse sonneblom sade geplant - skoon opgewonde.

Nou voel dit vir my asof dinge so gereed as moontlik in die tuin is, nou moet die saad net opkom en dinge moet begin groei. Siestog, ek het die arme hommelbye so jammer gekry - kom soek na blomme, maar daar is nog niks. Hou net 'n bietjie uit manne, een van die dae sal ons sien...

1 comment:

  1. Ag jy is darem maar oulik - gaan daardie pizza resep net die naweek probeer - moeg vir jaag na die pizza plek

    ReplyDelete