Thursday 25 April 2013

Sommer net vir mooi wees

Waar is die tyd met my heen. Ek wou nog Sondagaand geblog het en toe stel ek dit uit na Maandagaand en nou is dit skielik Donderdag. Ek sal maar die goeie weer my verskoning maak – te lekker om in die soel skemer aande rond te wandel saam met Juan en te kyk hoe die vlermuise goggas vang – wie wil nou voor ‘n rekenaar sit?

Sondag het ons uiteindelik die heining, randjies en ander hout stukkies in die tuin klaar geverf – alles is nou ‘n mooi donker bruin kleur wat die helder groen plante baie mooi laat lyk. Ons is baie trots, dit was harde werk. Om ons te beloon, het die son super lekker geskyn die week – vandag en gister was beide oor die 20 grade, wat baie is vir ons. Die klein saadjies wat ek laas naweek geplant het, kom nou almal stadig maar seker op. Ek het ‘n oormaat van beetplantjies en is baie opgewonde daaroor. Verder het my eerste mange tout kopuitgesteek en my sonneblom het ook sy opwagting maak. 
 

Ek het verder vir my ‘n paar sweetpea, mielie en boontjie plantjies gekry en die almal uitgeplant. Ek kry die bytjies so jammer wat kom soek vir blomme en dan is daar niks nie, so hopelik sal die nuwe plantjies gou groei en blomme maak. My murgpampoentjies kom ook mooi aan en ek dink die groter een gaan een van die dae blomme begin maak en dan sal ek in ‘n japtrap die eerste glisterinde groen murgpampoentjie in my hande he, en kort daarna op my bord en dan in my pens – hoera!

Ons het ook die naweek ‘n draai gemaak by ‘n antique fair, waar die pragtigste skulpie pilhouertjie my hart gesteel het. Selfs Juan het gedink ons moes dit koop en gewoonlik stry hy hard teen al my ‘dingetjies’. Is dit nie pragtig nie? Nee, ek weet ook nie wat ek daarmee gaan maak nie, dis sommer net vir mooi wees.


Sondag was daar ook die eerste groot car boot sale van die seisoen hier in Epsom. Gewoonlik is daar hope dinge wat ek wil koop, maar hierdie keer was dit meer tweedehandse klere en kinder speelgoed as enige iets anders. Ek het wel op ‘n groot houtstomp paddastoel afgekom – ek wou nog altyd een gehad het – en teen £4 kon ek hom nie daar los nie. Nou staan hy lekker in my tuin. Nee, ek weet ook nie wat mens daarmee doen nie, dis ook maar net vir mooi wees.


Wel, die naweek le om die draai en alhoewel hulle reen voorspel, gaan ek nie kla nie, nou dat daar plantjies is, is die reen altyd welkom – solank daar darm ook so af en toe son is.

2 comments:

  1. Daai pilhouer is iets besonders Nietie - dit laat my dink aan dardie snaak gevormde perel dasspeld wat oupa vir ouma in 'n ring verander het. - baie uniek!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ek dink ook so - kon nie glo die vrou verkoop dit vir net £5 nie. So lieflik en baie goed versorg, nie 'n merkie aan dit nie. Nou moet ek dit net mooi oppas. Juan se ek moet 'n glaskas kry om alles in te sit.

      Delete