Saturday 13 April 2013

Heerlike Reuke

Vannaand ruik my huis na beskuit - warm en botterig, soos 'n drukkie uit jou oond uit. En ek ruik net so lekker, maar na laventel, nie beskuit nie. Toe ek klein was en by my Ouma gaan bly het oor 'n naweek of met vakansie was die heerlikste tye badtyd. Ek het bad ballet gedoen in Fenjal badolie terwyl Ouma op haar rooi stoel langs die bad gesit en gesels het. Na ek warm afgedroog is het sy 'n groot pot fyn poeier vanaf bo-op die badkamer kassie gehaal en dan kon ek my poeier met die heerlikste sagste poeier pof. Sulke luuksheid - dit was hemels - gereed om dan in my roomys bed te gaan slaap - so genoem omdat jy net eenvoudig daarin weggesmelt het. 

Onlangs het ek gewonder wat het geword van hierdie groot potte fyn poeier met donsige sagte poeier poffe en waar ek vir my so 'n stukkie nostalgie kon bekom. Ek weet nie watse tipe Ouma gebruik het nie, maar ek is seker dat sy sou gehou het van Woods of Windsor (Est. 1770) se Lavender Dusting Powder (with traditional soft body puff).  My pakkie het vandag gearriveer en ek kon nie wag om dit te gebruik nie - en ek is so bly ek het dit gekoop. Al die heerlike herinneringe wat dit darm vir my terug bring.

En min ander dinge laat jou dink aan Oumas en jou Ma, soos goeie ou beskuit. Ek het 'n hele paar goeie beskuit resepte en probeer dit gewoonlik maar redelik gesond hou, maar so af en toe indulge ek so bietjie met hierdie lekker kondensmelk beskuit.

Kondensmelk Beskuit

1kg Bruismeel
125ml Suiker (ek gebruik bruin)
500ml Hawer
250ml Volkoring Meel
150ml Sonneblom Saad (ek gooi ook pamoen en poppie saad by - die afmetings is nie so belangrik)
1 koppie Rosyne (gooi sommer gedroogde cranberries en ander bessies ook by - dis kleurvol)
15ml Bakpoeier
5ml Sout

2 Eiers
500ml Karringmelk
1 Blikkie Kondensmelk
450ml gesmelte botter (ek gebruik soms 'n 250ml botter en top dit op met olyfolie na 400ml)

Ek meng al die droee bestandele saam en spoel gewoonlik die saad en rosyne af met water voor ek dit byvoeg (dit keer dat dit te veel van die mengsels se vog absorbeer). Dan smelt ek die botter en gooi die kondensmelk by en dan die karringmelk en heel laaste die eiers.

Maak 'n holte in jou droee bestandele en gooi dan die nat mengsel in en meng goed. Maak seker jy begin met 'n lekker groot bak - myne maak dit net net.

Skep uit in gesmeerde oondpanne en bak teen 180 vir 35 - 40 minute. Ek voer my ouer panne gewoonlik uit met bakpapier.

'n Handinge wenk is om die papier eers in koue water af te spoel, droog dit dan uit soos 'n lappie en sit dit dan in jou pan. Dit is dan baie makliker om te maak pas en dit suig ook nie al jou botter op nie.
Na dit klaar gebak het, laat dit afkoel op 'n droograk en sny dan in skywe voor jy dit in die oond uitdroog teen 100 grade (met 'n effense oop oond deur - ek druk sommer 'n houtlepel in my deur om hom oop te hou) vir so 2 - 4 ure, afhangende van hoe dik jou skywe is. As dit nodig is, draai die skywe halfpad om, om seker te maak hulle raak regdeur droog.

Geniet die wonderlike reuk wat deur jou huis trek en die groot glimlag op jou man se gesig (onthou om aan te dring op koffie in die bed die volgende oggend). Lekker bak!

No comments:

Post a Comment