Monday 6 May 2013

Vordering

Wel dit is lang naweek en ek het gedink ek gaan sommer baie tyd in die tuin spandeer - veral met al die sonskyn wat voorspel is. Aangesien ons in Engeland leef, het die beloofde son nie heeltemal te voorskyn gekom nie en het ek nie naastenby soveel tyd in die tuin spandeer nie. Dit beteken natuurlik nie dat ek nie dinge gedoen gekry het nie.
 
Die naweek was dit tyd dat ons tamatie plantjies uiteindelik uitgeplant word op hulle regte plek. Ek het hulle heel week geaklimatiseer aan die buitelig in 'n terracotta pot en met die redelik warm, windstil weer, het ek gedink dit is veilig dat hulle nou die nes heeltemal verlaat.
 
En toe ek eers die tamaties op hulle plek het, besluit ek toe sommer ook om die komkommers uit te plant. Ek het nog heeltyd verwag dat hulle moet groter word, maar ek dink ek het nie heeltemal in ag geneem dat hulle miniatuur komkommers is nie. Ek het seker gedink die plant sal normaal wees en die vruggies klein - maar wat weet ek nou inelkgeval van komkommers groei. So die tweetjies is toe ook sommer uitgeplant en lyk ook heel knus in hulle plek. Nou is my murgpampoentjies, mielies, beet, komkommer, tamaties, aarbeie, boontjies, ertjies en knoffel almal aan die groei en in my blomme beddings kom daar oral dingetjies op - selfs my Giant Mongolian Sunflower het nou al twee groot blare en lyk al redelik sterk.


En wat van die ruspes? Wel, ek is sover nog elke aand ten minste twee keer uit vanaf ek laas geskryf het. Soms is daar een of twee en dan is daar weer niks en dink jy alles is verby. Vannaand het ek seker drie gevang. Ek het in die week met my buurman gepraat en hy het blykbaar 'n plaag van die goed - so ek dink hulle het daar uitgebroei en ek kry net 'n paar verdwaalde siele so nou en dan. Van my boontjies lyk maar goor, maar een hou nog sterk en ek hoop hard hy gaan lewer - dan kan ek my Ma se lekker boontjie brede maak. Smul!
 

So van kos gepraat, nee, ek het onlangs niks veel interesants gemaak nie. Ons het Saterdag saam met vriende gaan eet in die Spur (ja, die goeie ou Spur) en het dit heeltemal aan die lekker kos oordoen. Maar wat is nou beter as goeie kos saam met goeie vriende? In die week het ek wel sulke lekker koeskoes en wortel koekies uitgedink en hulle was super lekker, maar ek sal die resep eers wil verfyn voor ek hom deel. Hopelik skyn die son more lekker en kan ons braai.
 
Lekker week aan almal - mag die son skyn waar jy is.

1 comment:

  1. Sus jy moet oppas om draad te gebruik vir goed wat rank - die son brand die draad warm en dan brand die steeltjie van die rankplant en dan vrek hy. Gebruik fyn gekapte eierdoppe om die steeltjies van jou plante - slakke en wurms hou nie daarvan nie. Hou ook die wit [by ons] skoenlapper dop hul le so 'n klein klein groen eiertjie op die agterknt van die plant se blaar - dan broei die eier uit en die wurmpie broei uit en begin vreet aan die plant - bedags kruip hy op die grond langs die plant se steeltjie [daar kan jy hom uitgrawe] maar hou maar die agterkant van jou plante se blare dop - die eiers sit daar. Hoop jy het groot sukses.

    ReplyDelete