Sunday 7 April 2013

Harde werk, lekker kos

Vandag het ek so hard in die tuin gewerk dat ek nie weet hoe ek more werk toe gaan stap nie. Dit was ons tweede sonnige dag sover en ons het lui lekker afgestap dorp toe om sommer te browse, maar het natuurlik huis toe gekom met 'n sak vol goed. Onder andere 5l se fence and shed timber care. Ek is nie seker of ek beplan het om vandag al die heining en die shed te verf nie, maar dit is wat gebeur het. Een oomblik het ons nog lekker op ons kampstoele in die son gesit en bak terwyl ons 'n sak biltong verorber en toe is ek ernstig aan die verf terwyl Juan vir ons nog 'n prieel bou en potte en dinge uit my pad uit skuif.

 
Aanvanklik was ek bekommerd oor die kleur, maar toe dit eers droog geword het, het dit so 'n groot verskil gemaak. En toe ek eers sien hoe mooi dit is, kon ek ook nie ophou nie en het veel meer geverf/gewerk as wat goed is vir my. My arme arms en bene is nou so styf, maar ek kan nie spyt wees nie, dit lyk soveel beter.
 

En na al die harde werk in die lekker son, het mens iets nodig wat vullend en bevredigend is. Iets wat nie te swaar is nie en vinnig is om te maak. En aangesien ek so uitsien na die jaar se murgpampoentjie oes, kan ek solank 'n paar resepte beproef. Probeer gerus die heerlike tert wat ek raak gelees het op BBC Good Food. Die resep skryf 3 murgpampoentjies voor, maar twee was meer as genoeg vir my.

Murgpampoentjie Tert

1 Rol Puff Pastry
2 Groot Murgpampoentjies gewas en in dun skywe gesny
2 Knoffelhuisies fyn gekap
4 Eetlepels Mascarpone kaas (ricotta sal ook werk)
Olyf olie
50g Parmesan

Meng die murgpampoentjie skywe met olyf olie en gekapte knoffel - sit spesery (sout/peper) by na smaak. Ek het sommer oorskiet vars roosmaryn 'n skeut seesout ingegooi. Meng helfte van die parmesan saam met die mascarpone en smeer die uitgerolde deeg daarme - los 'n 2cm rand skoon. Pak die murgpampoentjie skywe bo-oor, vou die randte om, en bak dan in die oond vir 15 minute teen 180 grade. Gooi die res van die parmesan oor en sit dan terug in die oond vir 10 - 15 minute. Laat dit eers effens afkoel voor jy inskep - gee die geure 'n kans om te ontwikkel en die deeg 'n kans om te ontspan.


En was dit nou nie lekker na al die harde werk om so lekker te eet nie - so sappig en lig, net reg. Ek wou nog vannaand ook beskuit bak, maar ek en Juan sit nou hier op die bank geplant asof ons nooit weer gaan beweeg nie - ooo, die seer spiere darm.

No comments:

Post a Comment