Monday 29 April 2013

Ruspe Skermitseling

Met die aflope nat winter, die selfs natter somer voor dit en sommer net al die nat wat Engeland beleef het, word daar nou in die koerante vir ons 'n oormaat slakke voorspel. Ek het myself dus hiervoor voorberei en was toe heel onkant gevang deur die ruspes wat in die middernagtelike ure aan die groeipunte van al my groentes vreet en wat natuurlik geen saak het met die slug pellets wat ek so mooi uitgesit het nie.
 

Wat nou gemaak? Party mense stel voor dat ek moet garlic plant, want Ruspes hou nie van die smaak/reuk van garlic nie. Ek is nie seker of die Ruspes hiervan bewus is nie, want hulle eet net so lekker aan my garlic soos aan my boontjies en beet. My raad? Hol in die nag in jou pajamas rond met 'n flits en jag ruspes terwyl jou man effens verdwaas vir jou deur die kombuis venster kyk. As jy hulle vang, gooi hulle oor die muur as jy nie van jou buurman hou nie, of voer hulle die volgende oggend vir die voƫls.

Thursday 25 April 2013

Sommer net vir mooi wees

Waar is die tyd met my heen. Ek wou nog Sondagaand geblog het en toe stel ek dit uit na Maandagaand en nou is dit skielik Donderdag. Ek sal maar die goeie weer my verskoning maak – te lekker om in die soel skemer aande rond te wandel saam met Juan en te kyk hoe die vlermuise goggas vang – wie wil nou voor ‘n rekenaar sit?

Sondag het ons uiteindelik die heining, randjies en ander hout stukkies in die tuin klaar geverf – alles is nou ‘n mooi donker bruin kleur wat die helder groen plante baie mooi laat lyk. Ons is baie trots, dit was harde werk. Om ons te beloon, het die son super lekker geskyn die week – vandag en gister was beide oor die 20 grade, wat baie is vir ons. Die klein saadjies wat ek laas naweek geplant het, kom nou almal stadig maar seker op. Ek het ‘n oormaat van beetplantjies en is baie opgewonde daaroor. Verder het my eerste mange tout kopuitgesteek en my sonneblom het ook sy opwagting maak. 
 

Ek het verder vir my ‘n paar sweetpea, mielie en boontjie plantjies gekry en die almal uitgeplant. Ek kry die bytjies so jammer wat kom soek vir blomme en dan is daar niks nie, so hopelik sal die nuwe plantjies gou groei en blomme maak. My murgpampoentjies kom ook mooi aan en ek dink die groter een gaan een van die dae blomme begin maak en dan sal ek in ‘n japtrap die eerste glisterinde groen murgpampoentjie in my hande he, en kort daarna op my bord en dan in my pens – hoera!

Saturday 20 April 2013

Eenvoudige Dinge

Iewers deur die week het ek een middag besef dat al wat ek in my yskas het, is 'n ou beet en 'n stuk chorizo wors - met geen pasta of rys in die kas en geen idee wat ek gaan maak vir aandete nie.
 
Te lui om winkel toe te gaan en met Juan wat altyd se dit is ok om soms maar net brood te eet vir aandete, het ek besluit om vir ons 'n beet en chorizo foccacia te maak. Ek kon nie so 'n resep vind nie, toe pas ek maar hierdie resep aan wat ek op die BBC se website gevind het. Baie oulik - gaan kyk gerus. Hulle resepte werk altyd vir my - al pas ek hulle so effens aan. 
 
Dit was smul lekker en die maklike foccacia resep kan aangepas word tot enige iets wat jy in jou kaste het. Tot my skaamte moet ek erken ons het byna die hele ding net so warm met botter opgeeet - salig. Soms is die eenvoudigste dinge in die lewe, die heel lekkerste.

Basiese Foccacia Resep

500g Broodmeel
2 teelepels Sout
7g Kits Gis
60ml Olyf Olie
250ml Lou Warm Water

Tuesday 16 April 2013

Flukse Naweek

Naweke blits so vinnig verby, mens kry skaars kans om te ontspan, maar somtyds laat 'n lekker hardwerkende naweek my met meer energie as 'n lui een.

Saterdagoggend kon ons afskop met 'n lekker beskuit na Vrydagaand se bak sessie en met die son wat heerlik deur die venster skyn het ek besluit op 'n lekker bederf middagete van souttertjies. Nee, dis nie net vir gaste en partytjies nie!

Met my plantjies wat buite in die son kuier en my man wat papierwerk doen kon ek die goedjies sommer in 'n japtrap opdis. Soms is dit net eenvoudig vinniger om deeg te koop, maar dit is rerig maklik om jou eie shortcrust pastry te maak. Een of ander tyd sal ek my gunsteling botter deeg resep deel, maar die een sal doen vir sommer so...

Botter Broskorsdeeg Resep

125g Meel met 'n knippie sout
55g Botter in blokkies gesny
2 - 3 eetlepels Koue Water

Met 'n voedselverwerker kan jy die deeg sommer baie vinnig en maklik maak, maar dit is nie veel moeiliker met die hand nie. Vryf die botter in die deeg in of pols dit deur die lemme van jou voedselverwerker. Gooi dan eetlepel vir eetlepel die water by die mengsel terwyl jy die mengsel pols of meng - jy hoef nie al die water by te voeg nie, net genoeg om die deeg in 'n bol by mekaar te bring. Sodra dit 'n bol gevorm het druk dit mooi met jou hande saam en vou toe in kleefplastiek - rus dit in jou yskas vir 'n halfuur. Jy kan dit natuurlik ook vooraf maak en dan gebruik wanneer jy dit nodig het - as jy dit vir langer as 'n dag of twee wil hou, vries dit eerder.

Saturday 13 April 2013

Heerlike Reuke

Vannaand ruik my huis na beskuit - warm en botterig, soos 'n drukkie uit jou oond uit. En ek ruik net so lekker, maar na laventel, nie beskuit nie. Toe ek klein was en by my Ouma gaan bly het oor 'n naweek of met vakansie was die heerlikste tye badtyd. Ek het bad ballet gedoen in Fenjal badolie terwyl Ouma op haar rooi stoel langs die bad gesit en gesels het. Na ek warm afgedroog is het sy 'n groot pot fyn poeier vanaf bo-op die badkamer kassie gehaal en dan kon ek my poeier met die heerlikste sagste poeier pof. Sulke luuksheid - dit was hemels - gereed om dan in my roomys bed te gaan slaap - so genoem omdat jy net eenvoudig daarin weggesmelt het. 

Onlangs het ek gewonder wat het geword van hierdie groot potte fyn poeier met donsige sagte poeier poffe en waar ek vir my so 'n stukkie nostalgie kon bekom. Ek weet nie watse tipe Ouma gebruik het nie, maar ek is seker dat sy sou gehou het van Woods of Windsor (Est. 1770) se Lavender Dusting Powder (with traditional soft body puff).  My pakkie het vandag gearriveer en ek kon nie wag om dit te gebruik nie - en ek is so bly ek het dit gekoop. Al die heerlike herinneringe wat dit darm vir my terug bring.

En min ander dinge laat jou dink aan Oumas en jou Ma, soos goeie ou beskuit. Ek het 'n hele paar goeie beskuit resepte en probeer dit gewoonlik maar redelik gesond hou, maar so af en toe indulge ek so bietjie met hierdie lekker kondensmelk beskuit.

Kondensmelk Beskuit

1kg Bruismeel
125ml Suiker (ek gebruik bruin)
500ml Hawer
250ml Volkoring Meel
150ml Sonneblom Saad (ek gooi ook pamoen en poppie saad by - die afmetings is nie so belangrik)
1 koppie Rosyne (gooi sommer gedroogde cranberries en ander bessies ook by - dis kleurvol)
15ml Bakpoeier
5ml Sout

Sunday 7 April 2013

Harde werk, lekker kos

Vandag het ek so hard in die tuin gewerk dat ek nie weet hoe ek more werk toe gaan stap nie. Dit was ons tweede sonnige dag sover en ons het lui lekker afgestap dorp toe om sommer te browse, maar het natuurlik huis toe gekom met 'n sak vol goed. Onder andere 5l se fence and shed timber care. Ek is nie seker of ek beplan het om vandag al die heining en die shed te verf nie, maar dit is wat gebeur het. Een oomblik het ons nog lekker op ons kampstoele in die son gesit en bak terwyl ons 'n sak biltong verorber en toe is ek ernstig aan die verf terwyl Juan vir ons nog 'n prieel bou en potte en dinge uit my pad uit skuif.

 

Saturday 6 April 2013

Die son het geskyn!

Selfs al kon ons, sou ons net nie vanoggend wou laat slaap nie...die son het van vroeg af al net te heerlik deur die venster geskyn. Uiteindelik kon ek my tuinhandskoene gaan opgrawe uit die shed en in die tuin gaan werk en Juan kon uiteindelik 'n slag gras sny. Dit was so heerlik buite, ek het selfs my arms uit gehaal - die arme goed is so verblindend wit van heel winter in moue wegkruip, dit is iets vreesliks. Ongelukkig het die son niks gehelp met my wit arms nie, maar dit was baie lekker om buite saam in die tuin te werk. 

Wednesday 3 April 2013

Die vraag is net...

Met die ongure weer wat ons tans beleef – blykbaar was Maart kouer as die hele winter – is daar baie opinies oor wanneer jy jou saadjies buite kan gaan plant. Die raad wat tot dusver vir my die meeste sin gemaak het is, "As dit vir jou warm genoeg is om kaalgat in jou bedding te gaan sit, is dit warm genoeg om jou plantjies/saadjies te plant." Wat kan nou meer logies wees? Nee, moenie bekommerd wees nie, ek is nie van plan om die bure te verwilder deur kaalgat in die tuin rond te kuier nie.

Sover het ek suksesse en teleurstellings. My murgpampoenjties het tot dusver baie mooi uitgedraai. Ek was bekommerd oor een wat nie wou opkom nie, maar hy het nou mooi opgevang. Die tamaties lyk ook baie gelukkig en die komkommer doen baie goed. Die beet het mooi opgekom, maar aangesien die idee is om hul so gou moontlik uit te plant (want hulle hou nie van rondsit in die huis in potjies nie), begin hulle nou ‘n bietjie ongelukkig lyk. Die aarbeie lyk ook nou baie lewendig en ek het dringend nodig om hulle in hulle eie potte te gaan uitplant voor hulle wortels meer gevestig raak. Die mielies sal ek klas as ‘n redelike mislukking. Ek dink hulle moet seker maar eerder direk in die grond geplant word, en het tien teen een baie meer spasie nodig om eers ordentelik wortel te skiet voor hulle begin groei. So ja, my mielies maak my tans bietjie hartseer, maar ek het oorskiet saad, en die sal ek dan plant wanneer dinge nou uiteindelik warm begin lyk. Die weervrou se juis die warm Atlantiese weerpatrone doen hulle beste om by ons uit te kom – hulle moet net harder werk, die luigatte!