Tuesday, 31 December 2013

Gelukkige Nuwe Jaar!

En hier is dit nou...2013 op sy rug en 2014 staar ons in die gesig. Wat 'n jaar het ons nie gehad nie, 'n Tuin vol heerlike groente, pragtige uitstappies, heerlike kos en baie seëninge. Ek het groot verwagtinge van 2014 en glo dat dit vir ons elkeen 'n goeie jaar gaan wees. Ek en Manlief vat so 'n bietjie van 'n internet breuk vir 'n paar weke en wil dus hierdie geleentheid benut om almal 'n baie geseënde Nuwe Jaar toe te wens. Mag hy val waar hy wil!

Wednesday, 25 December 2013

Geseënde Feesgety!

En so staan ons jaar vinnig einde se kant toe en is die feesseisoen op hande. Ons boom is opgeslaan, ons klein geskenkies is toegedraai en ons kos is beplan vir more...maar skielik lyk die boom vir my 'n bietjie kaal en wonder ek of ek van iets vergeet het. Natuurlik, my jaarlikste kerskoekies! 

As kind het my Tannie se boom altyd tuisgebakte koekies opgehad en dit was vir my meer magical as al die liggies en geskenke saam. Ek maak dus 'n punt daarvan om self ook koekies te maak elke jaar. Ek het 'n resep wat ek aanlyn gevind het bietjie aangepas en is heel tevrede met die resultate. 

Kerskoekie Resep
  • 100g sagte botter
  • 100g strooisuiker (ek gebruik sommer bruin)
  • 1 geklopte eier
  • 275g gesifte meel
  • 1 teelepel vanieljegeursel
  • Gemengde speserye (kaneel, naeltjie ens.)
Om te versier:
  • 50g versiersuiker
  • 1 - 3 teelepels water
  • kleursel 
Voorverhit die oond tot 190 grade en voer 'n bakplaat met bakpapier uit. 
Verroom die botter en suiker saam tot sag. Voeg die vanielje  en 'n paar skote gemengde speserye by die eier en klits dit dan stadig by die botter mengsel tot goed gemeng. 

Roer die gesifte meel dan in totdat die mengsel saam kom tot 'n deeg.

Rol die deeg uit op 'n meelbestrooide werksoppervlak tot 'n dikte van nie meer as 1cm. Gebruik dan jou gunsteling koekiedrukkers of 'n glasie om die koekies uit te druk. Hou maar die meel byderhande om te help dat alles nie aan alles anders vassit nie. 

As jy van plan is om hulle aan die boom te hang, onthou om 'n gaaitjie te maak om 'n lussie aan te ryg.  
Bak die koekies vir 8-10 minute tot bleek goudbruin. Los dit op die bakplaat vir 5 minute om hard te raak en haal dan versigtig af en laat afkoel op 'n draadrak. 

Vir die versiersel, sif die versiersuiker in 'n mengbak en roer stadig maar seker genoeg water in om 'n gladde mengsel te skep. Voeg dan versigtig 'n druppel of twee voedselkleursel by tot jy die regte kleur bereik het. 

Versier jou koekies soos jy goed dink. Ek is nie besonders goed met hierdie sy van dinge nie, maar ek dink soms hoe leliker hulle is, hoe meer tuisgemaak lyk hulle. 

Jy kan versiersuiker bo-oor sif of glitter of gekleurde of silwer balletjies gebruik om dit verder mooi te maak. Los eenkant om hard te raak, ryg dan garing deur en hang aan jou boom.

Pragtig op die boom en lekker om te eet saam met 'n lekker koppie tee - wat meer wil jy nou hê? Salig! 

Ons wens julle almal 'n vreeslike Geseënde Feesseisoen toe en net alles wat mooi is vir die Nuwe Jaar wat voorlê. Ek het sommer 'n baie goeie gevoel oor 2014... 

Monday, 23 December 2013

Daar is sterre in my man se oë

Mr. Kaalvoet het onlangs verjaar en ek het hom verras met 'n 'geskenkbewys' om homself 'n bietjie te bederf met 'n nuwe teleskoop. Ek hou natuurlik daarvan om deur dit na die planete en maan te kyk (en sterre kyk is baie romanties en als), maar ek verstaan nie helfte van die werkinge van die goeters nie en het hom dus gevra om 'n bietjie meer te vertel, vir die wat belangstel.

Dus...Mr. Kaalvoet, die vloer is joune...
Al kry mens honderde tipes teleskope, is daar basies net twee keuses, en die vraag wat jy moet vra wanner jy een kies is, wat wil jy sien. Diep ruimte voorwerpe (Deep Space Objects) of planete?
Enige normale mens sal sê maar hoekom nie als nie? Wel...vir diep ruimte voorwerpe benodig jy soveel as moontlik lensopening en vinnige fokale lengte (f/5, wide-angle, low-zoom, helder) waar planete 'n kleiner lensopening en lang fokale lengte benodig (f/15, narrow-angle, high-zoom, dof). Ugh!
My besluit was om met iets te gaan wat:
a. Vervoerbaar maar stewig is,
b. Iets van als kan doen, en
c. Nie die bank gaan breek nou of in die toekoms nie.
Schmidt-Cassegrain Telescope (SCT) was blykbaar die antwoord met f/10!

'n Man het 'n paar maande terug 'n Celestron C6 XLT 150mm (6") f/10 Schmidt-Cassegrain met EQ5 mount en tripod met 'n enkel-as motor en 'polar scope' geadverteer op Astrobuysell. Ek het my oog daarop gehad en na hope navorsing hom gekontak in die hoop dat iemand anders dit nog nie opgeraap het nie. Na 'n week se gewag het ons uiteindelik by sy huis opgedaag om dit te besigtig. Die man was vol raad en het vir ons 'n paar ekstras by gegee, plus 'n afslag en ons is baie tevrede daar weg. Dit is 'n aangename verbetering op wat ek reeds het...

Natuurlik, met die koop van 'n nuwe teleskoop, is dit tipies dat die nagte skielik nie meer so wonderlik is vir buite staan met jou nuwe toerusting nie. Uiteindelik was daar darm 'n breuk in die wolke, reen en wind en kon ek dinge uitprobeer. Ek het nog nie die regte fotografiese toerusting nie, maar kon darm net-net fotos met my foon neem van Jupiter om 'n idee te gee van hoe dinge lyk. Hier is die bewyse, sonder enige editing (behalwe crop/cut/paste):

My eerste teleskoop het ek gekoop op eBay en dit was geadverteer as 'for parts or broken', 'n Tasco 114mm (4.5") f/8 Newtonian met EQ1 mount, Aluminium box leg tripod en n 12.5mm oogstuk. Gelukkig het sy vorige eienaar net nie 'n idee gehad hoe om die ding aanmekaar te slaan nie en het ons dus 'n absolute bargain gekry.
Dit is maar groot en effens lomp, maar het my lus vir sterrekunde weer aangewakker. Ten spyte van sy grootte, het ons dit al saam met ons geneem as ons gaan kamp. Ons het al vele dinge gesien onder andere die Swann, Dumbbell en Orion Nebulas en Andromeda sterrestelsel. Natuurlik, nou dat daar twee teleskope is, sal die een sekerlik moet gaan en ek dink ek weet wie...

Ek hoop dat my C6 net so lekker sal saam kamp en dat ons nog wonderlike dinge sal sien. SCT's kan in 'n f/6.3 teleskoop verander word met n fokale verkleiner en dan het mens basies twee teleskope.  Hmpf!

Natuurlik het mens verskillende oogstukke nodig om verskillende dinge te sien. Na ek die eerste teleskoop gekry het, het Mev. Kaalvoet vir my 'n 8-24mm zoom oogstuk gegee.   My vrou gaan nog vir jare geen probleem hê om vir my geskenke uit te kies nie.

Die lysie groei by die dag, maar vir eers is ek heel tevrede...ahoooooooo!!



Sunday, 8 December 2013

Crazy Kersmarkies


Met Manlief se onlangse verjaarsdag is hy lekker bederf met 'n naweek van Britse Kersmarkie pret en ek was natuurlik nie ongewillig nie. As jy nou dink aan Kersmarkies, dink jy seker aan gedetermineerde vrouens wat meestal onwillige mans rondsleep om na dinge te kyk wat hulle nie juis wil sien nie en niemand rerig nodig het nie. Maar moet nie Suid-Afrikaanse Kersmarkies verwar met hulle Britse ekwivalent nie. 

Hier is geen Kerksale met smaakvolle handgemaakte geskenke en stalletjies wat boereworsrolle, kerrie en koekstruif nie. Nee, vanaf middel November word markpleine, hoofstrate en parke hier oortrek met Bavariese houthuisies, mallemeules, rondomtalies, tuimeltreine, teddiebere, lebkuchen en 'n oorvloed van Duitse Bratwurst, Franse Crepes en Spaanse Churros.

Hierdie liplek lekker dinge is hoofsaaklik die rede waarom ons die hordes mal mense, skreuende kinders en verwarrrende naweek verkeer gaan trotseer het. Ons doelwit, om so veel as moontlik van die lekker dinge in twee dae te eet, as wat menslik vir ons moontlik is.

Ja, ek weet dit klink na 'n vreeslike (en baie ongesonde) doelwit, maar hierdie markies kom ook maar net een keer 'n jaar, en elke jaar voel ons ons het nie genoeg lekker dinge ingekry nie. Veral nie die Duitse worsbroodjies nie!

En eet het ons geëet. Saterdag het ons by Kingston se markies afgeskop met Duitse Curry Wurst, gevolg deur Franse Nutella Crepes en Hot Chocolate. Daarna het ons die winkels en strate platgestap en later 'n heerlike lam samoesa gedeel. 

Toe ons voete dit nie meer kon hou nie, het ons die dag afgesluit met uitstekende Japanese Tonkatsu Donburi met sticky rys en groente dim sum in 'n baie gesellige luim. Gelukkig het ons alles gedeel, anders sou ons nie dit alles gemaak het nie, maar het wel baie baie vol en gelukkig by die huis aangekom.

Sondag het ons al die pad gery om Hyde Park se Winter Wonderland  te gaan aandurf. Wat 'n malhuis!! 

Daar was derduisende mense en so baie om jou aan te verkyk en te beleef, ons het omtrent ons voete deurgestap en nekke verrek. Met al die mense, was die pas so stadig, dat elke stalletjie 'n vreeslike temptasie was. 

Daargekom, moes ons dadelik 'n lekker Käse Wurst (Kaaswors) kry om te deel, afgesluk met warm Spiced Cider vir Juan en 'n Hot Chocolate vir my. 

Ek sou nie die guts gehad het om op baie van die rides te gaan wat daar was nie, maar dit was baie lekker om na die mense se gesigte te kyk soos hulle meters in die lug opgeskiet word teen 'n stink spoed of meters bo die grond rondgeswaai word met oorverdowende gille. Jy sien net voete waai! Met die Power Tower, skiet hulle jou 59m in die lug op en laat val jou dan herhaaldelik vanaf daar bo. Ek het maar net op die grond gestaan en kyk, maar selfs daar het dit my half dronk gemaak. 

Later het ons 'n pulled pork rolletjie met stuffing gedeel en vir poeding 'n Belgian Waffle met wit warm sjokolade bo-oor. Ai, hoe lekker! Ek dink ons het ons nou uitgeëet en na dese was selfs ek lus vir 'n klein bietjie groente.

Saturday, 23 November 2013

London in die maanlig

Ek kom nie baie in London nie, en veral nie in die aand nie. Mens vergeet hoe mooi dit daar kan wees, veral in die maanlig op 'n vars November aand.  'n Vriendin het my Vrydagaand genooi na 'n voorlesing deur die gewilde skrywer, Marita van der Vyver, in die Nedbank kantore. Die gebou het 'n benybare posisie op die Teems, reg langs die Millennium Footbridge ('n voetbrug reg oor die Teems) en oorkant St. Paul's Cathedral. Ek het 'n bietjie verdwaal, maar met die pragtige stads liggies wat glinster in die waters van die groot rivier, kan mens nie te sleg voel om daar rond te wandel in die koue nie.

Die voorlesing was heerlik. Marita het 'n nuwe book geskryf oor haar ervaringe in Frankryk ('n Fontein voor ons deur) en ek sien uit om dit self te lees. Soos sy ook verduidelik, ons woon dalk nie almal in dieselfde 'verre land' nie, maar bevind ons wel in die vreemde, waar ons ervaringe in baie gevalle dieselfde is, omdat ons dit met ons Suid-Afrikaner lywe beleef. Hoe lekker om 'n bietjie in Afrikaans te kuier.

Op die rit terug op die trein, verwonder ek my soos altyd aan die mense om my. 'n Meisie sit in 'n hoek en praat heel rit kliphard met haar Ma oor die foon oor haar moeilike dag en al die frustrasies in haar lewe - dis al byna elf uur, ai die geduld van 'n Ma darem. 'n Middeljarige man vang die oog van die vrou wat oorkant hom sit en skraap sy moed bymekaar en skryf vir haar 'n nota op 'n stuk papier wat hy uit 'n boek uit skeur. Skaam skryf sy terug en so, voor my oë kan ek sien hoe twee vreemdelinge mekaar vind. Oorkant my sit twee jong seuns, oppad huistoe vanaf 'n nuwe werk. Hulle ken nog nie hulle kollegas se name nie, so moet hulle kleurvol beskryf...is sy die een met die sweterige hare? Nee, nie daai een nie, die een met die "scary" naels. O ja..daai een! Ek kan maar net lag, toe die een vir die ander met groot oë sê, "Jy weet, dis rerig moeilik, nie net moet ek al hierdie nuwe mense se name onthou nie, maar ook wat hulle doen en hoe hulle lyk." Welkom tot die grootmens lewe van werk, boet!
 
Op die platforms sien ek dronk mens skeef rond weef en ek wonder hoe hulle by die huis gaan kom. Jong meisies, oppad na partytjies, nes ek begin moeg word en wens vir my bed. Ou mense, terug van die teater, styf toegewoeg in groog jasse met warm serpe, wat steeds hande vashou soos hulle saam wag vir hulle trein.

Soos die trein deur die donker nag jaag, vang jy flitse van mense se lewens deur verligte vensters. 'n Woonstel verlig met kerse, 'n groep vriende wat lekker lag om 'n groot tafel. Kantore waar mense nog daai tyd van die nag hard sit en werk of dalk rondstaan met 'n glas wyn by 'n 'office party'. Of couples wat voor die TV op die rusbank lê en wyndrink. 'n Vrou wat woes, elf uur in die nag, stofsuig. Miljoene lewens, almal so styf saamgeprop, almal so hard aan die lewe, elkeen met hul eie storie.

Saturday, 16 November 2013

Pragtige Paddastoele


Met ‘n onlangse sonskyn Sondag, het ons die grootste begrafplaas in Engeland gaan besoek, Brookwood Cemetry, vir ‘n rustige oggend in the natuur. Dit is oor die 500 hektaar groot en alhoewel meer as 235,000 mense daar tot ruste gelê is, kom dit meer soos ‘n woud voor met ‘n paar ou grafstene wat tussen die bome en varings vir jou loer. Om ‘n begrafplaas te besoek klink dalk morbied, maar Broodwood is meer as net ‘n begrafplaas, dit is ‘n stukkie geskiedenis asook ‘n pragtige stukkie natuur. In die verlede het dit sy eie treinstasie gehad, met treine wat direk uit London, Waterloo, geloop het vanaf die London Necropolis stasie. Die platform is steeds in die begrafplaas, met die spore wat doodloop in die gras, maar alhoewel ons ‘n hele paar ure en kilometers gestap het, kon ons dit nie vind nie. Op ons uitstappie het ons ‘n hele paar gesinne teëgekom wat met hulle kinders gekom het vir ‘n uitstappie en selfs ‘n paar drawwers, wat die plek selfs meer van ‘n ‘park’ gevoel gegee het.


Ons het gehoop om ‘n paar besonderse fotos te kry op ons uitstappie, maar ek was nie heeltemal voorbereid vir die wonderlike hoeveelheid interessante sampioene wat daar te vinde was nie. Ek gaan nie eens probeer om hulle te klassifiseer nie, maar hulle was pragtig en die winter son het hulle lieflik belig. Juan moes maar baie geduldig wees, met my wat elke tweede sampioen (en Engel) wou afneem.


Ek het wel van die sampioene probeer opsoek en toe toevallig op ‘n interesante storie afgekom, waar mense voorstel dat die mite van Kersvader sy afkoms van ‘n sampioen het. Ek het nog nooit daarvan gehoor nie en dit nogal interesant gevind. Hulle meen dat daar in die verlede 'n sjamanistiese stam in Siberia was, die Koryak, wat in hulle rituele die sampioen Amanita Muscaria gebruik het. Dit is die tipiese paddastoel van sprokies met sy wit steel, rooi kappie en wit kolletjies. Alhoewel hierdie sampioen giftig is, is dit meer bekend vir sy hallusinogeniese eienskappe en het mense dit oor die jare gebruik om met geeste te kommunikeer en visioene te sien. Nie net het die Koryak die sampioene so gebruik nie, maar die rendiere wat hulle aangehou het, was ook besonders lief vir hierdie sampioen en die effekte daarvan. Daar word vertel dat die rendiere vir myle na die sampioen gesoek het en dan daarvan geëet het todat hulle heeltemal hoog geraak het op die effekte daarvan. Hulle sê dat die gedrag van die rendiere en die kleure van die sampioen (rooi en wit) alles bygedra het tot die mite van Kersvader en sy vlieende rendiere. Dit is natuurlik net ‘n vreemde hipotese en ek dink nie die legende van Kersvader se afkoms het werklik veel hiermee uit te waai nie, in teendeel, ek glo die oorspronklike Kersvader het op ‘n perd gery, maar dit is tog interesant om op sulke brokkies af te kom en die verskillende oorspronge en mites aangaande Sinterklaas is baie meer ingewikkeld as net ‘n enkele afkoms.


‘n Baie meer algemene fabel aangaande paddastoele, is die van ‘Fairy Rings’, ‘n perfekte sirkel van sampioene in ‘n woud of veld. In Frankryk word hulle ronds de sorciers ("sorcerers' rings") genoem en in Duitsland, Hexenringe ("witches' rings"). Maar in meeste legendes word hulle veroorsaak deur die dans van feetjies in kringe en is dit nie noodwendig ‘n goeie idee om ooit binne een te trap nie, want jy kan onder die invloed van die feë val of saam met hulle dans tot jou einde. Om een te beskadig sal jou net die toorn van die feë op die hals haal, maar dit is blykbaar goeie geluk om een op jou gronde te vind, want jou oes en kudde sal floreer. Ons het self op ‘n baie effense sirkel afgekom, maar ongelukkig geen feetjies nie.


Ons het ‘n heerlike uitstappie gehad, maar die plek was so ongelooflik groot, ons sal tien teen een moet teruggaan om alles te sien. Wonder wat ons volgende keer daar sal teëkom?



Saturday, 9 November 2013

Tyd vir 'n Stewige Ontbyt

Heel week is ek al lus om my man te bederf met 'American Breakfast Pancakes' met spek en stroop vir ontbyt. Vir sulke ondernemings het jy wel tyd nodig (miskien nie vir die maak nie, maar om na die tyd rond te lê en niks doen nie), so ek moes maar wag vir 'n lekker koue Saterdag oggend. Soos meeste dinge waarvoor ek lus raak is dit beslis nie gesond nie, maar vreeslik lekker. 

Ons Suid-Afrikaaners noem hierdie pannekoekies sommer plaatkoekies en in Engeland is dit 'n Drop Scone of 'n Scotch Pancake, maar die Amerikaners is bekend daarvoor om dit te eet met spek en stroop - en as dit vir jou vreemd klink, moenie worry nie, dis baie lekker. Ek het sommer 'n Britse twis ook bygesit, deur 'n paar lekker 'bangers' by te maak - of te wel, vark worsies. Hierdie resep is beslis bedoel vir 'n gesin van vier of meer, maar dis nie moeilik vir die twee van ons om dit te eet vir breakfast, lunch en supper nie. 


Amerikaanse Ontbyt Pannekoek Resep (Plaatkoekies)

1 Eetlepel Bakpoeier
1 Knippie Sout
1 Teelepel Suiker
225g Meel

30g Botter (gesmelt en afgekoel)
300ml Melk
2 Eiers

Meng die droë en nat bestandele apart en dan goed saam. Ek klits hulle sommer met die hand saam totdat alles 'n gladde beslag vorm, maar 'n elektriese menger sal seker vinniger werk en die beslag beter meng. Ek hou ook daarvan om die beslag in 'n groot maatbeker aan te maak, sodat dit makliker is om bietjies bietjies in die pan te gooi. 

Smelt botter in 'n swaarboompan en gooi die beslag stadig uit totdat dit so groot is soos jy graag jou pannekoekies wil hê - ek pas gewoonlik vier pannekoekies in my groot pan. Laat hulle dan braai totdat borrels bo-op breek, so weet jy die onderkant is reg. Draai dan om en braai vir nog 'n minuut. Hou so aan tot die hele beslag op is - of bêre oorblywende beslag in die yskas vir die volgende oggend. 


Hierdie pannekoekies sal lekker wees met roomys ook of jy kan 'n handvol bevrore bessies in die beslag gooi en dit bedien met stroop, maar ek het vir ons spek en wors by gebraai en dit bedien met 'n sterk beleë kaas en 'n goeie Kanadese esdoringstroop (of te wel, Maple Syrup). Saam met 'n lekker bitter sterk koffietjie, kan daar net nie op verbeter word vir 'n goeie begin aan die dag nie. 


Monday, 4 November 2013

Pampoen Plesier

November is hier en met dit, die koue. Net ‘n week of twee gelede het ons die grootste storm in jare gehad. Ons het relatief ongeskaad van dit afgekom met net ‘n paar bosse platgewaai, maar oral langs die paaie sien jy steeds omgewaaide bome. Dit was omtrent 'n belewenis om so veilig, in die vroee oggendure, in jou huisie te staan en te sien hoe die bure se vullisdromme in die pad afwaai en die bome so buig en ruk. Juan het daai oggend al 4uur vertrek om ‘n vlug te vang na Europa en ek was maar bekommerd oor hoe veilig die paaie en die vlug sou wees, maar alles het goed afgeloop.

Onlangs het die eerste sneeu in Skotland geval en ek wonder wanneer dit ons beurt gaan wees. Ons sorg maar dat die tuin in orde is, want as die weer eers werklik gedraai het, wil jy nie buite wees onnodiglik nie. 

Laat middae by die werk gaan die son al lank voor 5uur onder en is die vensters swart spieels. Die dae is kort en raak al kouer. Hierdie is beslis nie tyd vir slaai en ligte etes nie, maar vir lekker warm stewige kos wat vir jou ‘n drukkie kan gee van binne. 

Ek en Juan het nie ‘n pampoen gekerf vir Halloween nie, maar het hom eerder in die oond gebak met room – dit was beslis die beter opsie. Toe kon ons eerder na die tyd die ete gaan afstap in die buurt en kyk na ander mense se gekerfte pampoene en hoe die kinders en hull baie moeë ouers ‘trick or treat’. Baie huise was maar baie donker, seker te bang die kinders kom klop vir lekkers, maar ander huise was baie mooi opgemaak en ons het ‘n hele paar baie mooi pampoene gesien. 

Ek het ‘n lekker klein pampoen gekies – net genoeg vir twee – en die moeilikste gedeelte van hierdie resep is om die pampoen mooi in die middel deur te sny, sonder om ‘n vinger te verloor, sodat jy twee ‘bakkies’ het om jou room in te gooi. Uiters lui het ek vinnig oor middagete die pampoen in twee gedeel. Ek het elke helfte gevul met room, droeë kruie en gemaalde sout oorgegooi, en met ‘n bietjie water onder in die oondbak, het ek dit bedek met foelie en in die oond geprop. So het ek dit vir 20minute teen 180 gebak en toe net die oond afgesit en terug werk toe gegaan. Die oorblywende hitte in die oond het die pampoen stadig deurgekook en kans gegee vir die gedroogte kruie om lekker in te trek. 


Toe ek die aand by die huis kom, het ek spek en uie in ‘n pan gebraai terwyl ek weer die oond aangesit het om die pampoen warm te maak. Eenkant het ek vinnig 'n bietjie koeskoes in 'n koppie aangemaak om die ete aan te vul. Jy kan jou koeskoes meng met enige iets, maar ek hou van spek en uie saam met my pampoen. Gooi dan ook ‘n handvol sade by en dalk ‘n handvol gedroogte bessies en bedien alles warm saam (met ‘n bietjie kaas as jy so voel).


Ek het maar 'n paar van die pampoen se pitte eenkant gehou...sal interessant wees om te sien of ek dalk volgende jaar een in my tuin kan groei...dit was 'n baie lekker pampoen. 

Saturday, 19 October 2013

Die lewe is maar onregverdig vir vlermuise

Laas week Donderdag het ek na werk vinnig by die winkels omgestap vir aandete en oppad terug, op die hoofstraat, met 'n sak kos, sien ek so tussen al die mense se voete en die wiele van die babastootwaentjies, 'n klein bruin dingetjie oor die grond sukkel. Vir 'n sekonde het ek dit afgemaak as 'n blaar, toe gedog dit is 'n brulpadda. Toe ek nader kom besef ek dat dit harig is, en omdat dit nie genoeg bene het om 'n tarantula te wees nie, moes ek weer dink...'n vlermuis. 

'n Klein vlermuis, helder oordag, in die middel van die hoofstraat, pynlik besig om homself aan sy vlerkies rond te sleep, desperaat om onder die mense se voete uit te kom. Dat niemand anders hom kon sien nie, kon ek nie glo nie. Ek kon hom ook nie daar los nie, iemand sou op hom trap of bo-oor hom ry met 'n stootwaentjie. En, as 'n vlermuis eers op die grond is, is dit vir hulle basies onmoontik om op te styg. Met die idee om hom nie te beseer nie en om ook nie self iets oor te kom nie (want vlermuise kan hondsdolheid dra) het ek hom toe op my serp laat klim. Dit het maar vreeslik gesukkel en terwyl ek besig is, kom daar toe twee jong profesionele mans uit die bookies ('n beroepswedders winkel). "Is that our bat?" vra hulle. Hulle lag hulle half simpel en vertel dat hulle die vlermuis in die betting shop gevind het en hom toe by die deur uitgeskop het. Sal hulle toe nou wragtig daar staan, soos twee skoolseuns, en my uitjou, "Look at the bat girl...no, I think it is a bat woman," lag hulle herhaaldelik. Hulle was seker dronk. Ek noem toe maar nie dat as jy 'n vlermuis versteur of beskadig, kan jy 'n £5,000 boete opdoen nie, en maak toe maar net dat ek en my vlermuis so vinnig as moontlik daar wegkom, terwyl hulle nog vir my lag. 

By die huis gekom het ek hom met my serp in die bad gaan sit, waar hy rustig geslaap het tot donker. Ek en Juan het 'n bietjie aanlyn opgelees en mens moet maar versigtig wees vir vlermuise. Die kans dat jy hondsdolheid opdoen is baie skraal, maar dis so 'n vreeslike siekte, dat jy nie kanse moet waag nie. Ons het gewag tot dit donker is en Juan het hom toe versigtig (met twee stelle handskoene) uit die serp gehaal en hom hoog in die lug gehou. Hy het sy klein neusie in die lug gesteek, en soos blits in die donker verdwyn. Ons was alby so bly dat ons hom kon help en so dankbaar dat hy niks oorgekom het nie.

Gisteroggend raak en vroeg wakker, trek die gordyne oop, en lê en kyk hoe die wolke verkleur soos die son opkom. Een van die bure se katte kom later op ons shed se dakkie sit. Ek klop aan die venster om hom te verwilder, maar hy is te besig om iets te bekyk om vir my te luister. Ek sien hoe hy oor die shed se dak met iets peuter en staan maar op om hom te gaan wegjaag. Daargekom, hol die kat vinnig weg, maar sien ek te laat die klein stil lyfie. My arme vlermuis! Om 'n hele week te oorleef na die voorval in die hoofstraat en dan nou hier te dood onder die poot van 'n nare kat. Sy dae was maar getel. 

Ek het nie self 'n goeie foto geneem nie, maar hier is 'n foto van dieselfde tipe vlermuis - 'n Brown Long-Eared Bat
Ek en Juan is maar bitter hartseer. Een ding is beslis, ons sal nooit katte aanhou nie.

Sunday, 6 October 2013

Die herfs is op ons...so kom ons eet koek.

Waar gaan die tyd so vinnig met ons heen? Voel of dit net eergister Augustus was, maar in September het die dag en nag ewening gekom en gegaan en die dae raak nou net korter. Oktober is hier en met dit, die herfs. Oral lê appels en pere onder die bome en bruin word, die aande is al vroeg donker en die oggende baie fris. 

My tuintjie is nou stadig besig om die laaste van sy oes op te lewer en dit is nog net die bete wat daar staan en uithou en 'n paar verlore aarbeie wat nog so nou en dan kop uitsteek. Miskien kruip daar ook nog 'n wortel of twee weg. Ek het hierdie jaar so baie geleer in my tuin en kan nie wag vir die nuwe jaar om nuwe dinge uit te probeer nie, maar so wens mens die lewe om. 

In herfs wil ek altyd begin regmaak vir Winter. Ek wil skoonmaak en kosmaak en dinge vries, die kaste vol dinge laai, in die vae hoop dat ek in die koue wat nog voorlê, so veel tyd moontlik onder my duvet kan deurbring. As ek nou fluks is, kan ek lekker lui wees later... Nee, dinge is nooit so maklik nie.

Een ding waarmee ons ons wel die Winter sal bederf, is hierdie heerlike warm sjokolade koek, wat ek gister ontdek het. Dit is gluteenvry en gebruik olyfolie eerder as botter. Dis nou nie 'n sponskoek soos mens aan gewoond is nie, eerder 'n lekker poeding van 'n koek. 


Gluteenvrye Sjokolade Koek / Sjokolade Olyfolie Koek
(aangepas van 'n resep deur Nigella Lawson)

50g Kakaopoeier (gesif)
125ml Kookwater
2 Eetlepels Vanieljegeursel
'n Halwe Teelepel Koffiepoeier (opsioneel)

150g Gemaalde Amandels (Amandelmeel)
'n Halwe Teelepel Koeksoda
'n Knippie Sout

3 Groot Eiers
200g Sagte Bruinsuiker of Strooisuiker
150ml Olyfolie

Voorverhit die oond teen 170 grade en smeer 'n 20/23cm losboom koekpan met olyfolie en voer die uit met bakpapier.

Klits die kakaopoeier en kookwater saam tot glad en voeg dan die vanieljegeursel en koffie by. Laat staan dit eenkant om effens af te koel.

Meng die amandelmeel, koeksoda en sout in 'n ander bakkie en hou eenkant.

Klits die eiers, suiker en olyfolie vir drie minute saam - gebruik 'n elektriese klitser as jy een het. Voeg dan stadig, en teen 'n lae spoed, die sjokolade mengsel by. Vou heel laaste die meelmengsel met 'n lepel of spatel in. Gooi dit in die pan en bak vir 40 tot 45 minute.

Laat staan vir 10 minute om effens af te koel in die pan en skraap dan al langs die kant met 'n dun spatel. Verwyder uit die pan. Bedien die koek warm met lekker roomys. 

Ek het die koek gisteraand na vriende geneem vir 'n ete en daar het maar min terug gekom...verskoon dus die halwe koek foto.  


Thursday, 19 September 2013

Stille Waters


Sondag het dit sweerlik vir die eerste keer in twee weke ophou reën. Ek en Juan het ook nie op ons laat wag nie en het besluit om 'n draai te gaan gooi by die Silent Pool in Surrey. Ons het onlangs toevallig verby dit gery oppad terug van 'n en wou graag gaan kyk hoe dit daar lyk. 


Vroeg oggend het die son nog blekerig geskyn, maar teen die tyd wat ons by die poel aangekom het, het dinge al 'n bietjie donkerder begin lyk. Ek dink dit was die perfekte weer om die vreemde stil poel te gaan besoek. Sommige beskou die helder stil water as 'n heilige plek en in volksverhale word daar vertel hoe menigte mense al daar onder vreemde omstandighede omgekom het. Die bekendste verhaal is die van Koning John wat 'n houtkapper se dogter daar tee gekom het, alleen op sy perd. Hy het haar tot so 'n mate intimideer, dat sy in die water beland het en verdrink het omdat sy nie kon swem nie. Hy het nie 'n vinger verroer om haar te help nie. Haar broer het wel haar uitroepe van nood gehoor, maar het self verdrink in sy poging om haar te red. Volgens legende kan jy haar steeds, teen middernag, in die spieelgladde waters sien. 


Die ander legende, gekoppel aan Silent Pool, is die van Agatha Christie, die bekende Britse skrywer van Hercule Poirot en Miss Marple. Op die aand van 3 Desember, 1926, het sy haar dogter Rosalind op die voorkop gesoen, die huis verlaat en na Silent Pool gery.  Daar het sy haar Morris, met brandende hoofligte, laat staan, en in die nag in verdwyn. Mense het geglo sy het daar verdrink. Duisende van haar aanhangers het 'n soektog begin en die koerante het selfs 'n beloning aangebied. Selfs Arthur Conan Doyle het bygedra deur met haar te probeer kontak maak met die hulp van 'n medium. Elf dae later het sy skielik, 230 myl weg, haar opwagting gemaak en het nooit verduidelik wat gebeur het nie. Sy was in 'n B&B gevind waar sy voorgegee het om 'n Suid-Afrikaanse tannie te wees - hoe vreemd en interesant.


En as mens so na die waters kyk, kan jy sien hoekom sulke vreemde stories hier kan ontstaan. Ek en Juan het meer as 'n uur hier spandeer en meer fotos geneem as wat ooit nodig kan wees, maar mens kry net nie heeltemal die gevoel van die plek vasgevang nie. Die aand was my drome vol stil helder water met groen dieptes.    



Saturday, 14 September 2013

Tradisionele Britse Skons

Wat is nou lekkerder as 'n vars, warm skon met tuisgemaakte aarbei konfyt en room? Veral as die weer skielik so koud lyk en die Winter vinnig weer nader staan. 

Hier in Engeland word skons tradisioneel bedien met aarbei konfyt en 'clotted cream'. Ek weet nie wat clotted cream in Afrikaans genoem word nie, maar dit is heerlik. Dit is baie dik, maar is nie bloot styf geklitste room nie, maar eerder 'n stywe dik room wat nie klop nodig het nie. Dit kom oorspronklik vanaf Cornwall of Devon en geen Brit sal 'n skon eet sonder dit nie. 

Op ons onlangse kamp, het ons menigte bordjies langs die pad gesien Cream Tea adverteer - Cream Tea bestaan uit 'n skon met konfyt en clotted cream bedien met tee. Ek kon sien hoe Juan se oë al hoe groter en groter raak en moes maar vinnnig 'n plan maak om skons te maak toe ek by die huis kom. 

Daar is so baie skon resepte beskikbaar, maar hierdie een is op die oomblik my heel gunsteling. Ek vind sommige skons smaak soms baie na bakpoeier of laat jou tande wollerig voel, maar hierdie resep is net reg.

Tradisionele Skon Resep
6 - 8 Skons - 20 minute
  • 350g Bruismeel
  • 1/4 Teelepel Sout
  • 1 Teelepel Bakpoeier
  • 85g Botter in blokkies gesny
  • 3 Eetlepels Strooisuiker
  • 175ml Melk
  • 1 Teelepel Vanieljegeursel
  • 'n Skeet Suurlemoensap
  • 'n Bietjie geklitste eier

Voorverhit jou oond tot 220 grade (200 vir waaier oonde). Voer 'n bakplaat met papier uit of strooi dit liggies met meel. Dit kan ook help om jou bakplaat effens op te warm voor jy die skons daarop plaas om te bak.

Sif meel, sout en bakpoeier saam in 'n groot bak. Voeg die botter by en vryf in met jou fingers totdat die meel krummelrig lyk. Roer nou die suiker by. 

Gooi die melk in 'n bekertjie en verhit dit effens in die mikrogolfoond vir so 30 sekondes - dit moet net lou wees, nie warm nie. Voeg nou die vanieljegeursel en suurlemoensap by. Laat dit eenkant rus. Die suurlemoensap karring die melk so effens en maak dat die bakpoeier beter werk en jou skons lekker rys. 

Meng nou jou nat mengsel by jou droë mengsel met 'n mes. Moet dit nie oorwerk nie - dit moet net effens gemeng wees en kan dan op 'n melerige oppervlakte verder bewerk word deur dit twee of drie keer om te vou totdat dit effens gladder lyk. Die deeg moet 3 tot 4 cm diep wees. Sny nou die skons met 'n koekiedrukker uit of 'n glas uit. 

Plaas die skons op 'n bakplaat en borsel met geklitste eier. Bak vir 10 minute tot goudbruin. Bedien met room en konfyt van jou keuse.

Ek maak sommer my eie vinnige 'konfyt' deur 'n paar aarbeie in 'n pot met 'n bietjie water en suiker te kook terwyl ek skons maak. Wanneer ek die skons in die oond sit, haal ek die konfyt van die hitte of om dit kans te gee om af te koel en by die tyd wat die skons klaar is, is die 'konfyt' sommer ook reg. Deur die konfyt self te maak, kry jy 'n baie beter aarbei smaak en hoef dit ook nie so soet of kunsmatig soos winkel konfyt te proe nie.  

Wat kan nou lekkerder wees as dit? As jy merkwaardiglik nog van hierdie konfyt oor het na al die skons op is, is dit net so lekker bo-oor joghurt en hou 'n hele paar dae in die yskas. Smul!

Saturday, 7 September 2013

Kamptasties!

Die skole het onlangs weer begin en ons het die geleentheid benut om die laaste van die Somer te geniet met 'n kort vakansie aan die Dorset Kus. Hierdie gedeelte van Engeland staan bekend as die Jurassic Coast en ons sal beslis weer 'n paar keer moet gaan om dit ten volle te geniet. Die Jurassic Coast is gewild met fossiel jagters en stappers - die "coastal walks" sal jou dae lank besig hou. Ons het ons pap gestap en met 'n hele sak vol klippe huistoe gekom.

Ons het van Sondag tot Donderdagaand by Rosewall Campsite gekamp en sal beslis weer daar gaan bly. Met almal wat huistoe mik na die skool vakansie het ons omtrent die plek vir onsself gehad en die weer was absoluut wonderlik. Ons was van plan om eers Vrydag terug te kom, maar daar was reën voorspel, en tent afslaan in die reën is nie pret nie. Met die oppak sê 'n mede-kamper ewe vir my sy het met verbasing toegekyk hoe ons al daai goed in ons klein karretjie pas - sy het nie gedink alles gaan inpas nie.


Rosewall is in die klein dorpie van Osmington Mills geleë, sowat 5 myl van Weymouth af, met uitsigte oor die kus en platteland. Die kus staproete sluit aan die onderpunt van die kamp aan, van waar jy Wes in die rigting van Weymouth al langs die kus kan stap, of Oos, in die rigting van 'n oulike strand by Ringstead. 


Daar is ook 'n baie oulike Pub, The Smugglers Inn, waar mens kan gaan uitspan. Die kos daar is uitstekend! Ons sorg altyd vir ons eie kos op 'n kamp - eet is helfte van die pret - maar op ons laaste aand, na ons opgeslaan het, het ons onsself met 'n burger en die lekkerste Banoffee Crème Brulee daar bederf.

Die kamp is ook 'n lekker plek om die kus vanaf te verken  Ons sou ook heel maklik elke dag op die oulike klippies strand naby die kamp kon sit en fossiele tussen die klippies uitgrawe. Gelukkig het ons Donderdag die moeite gedoen om Knoll Beach toe te ry. Dit is deel van die Studland Nature Reserve en mens kan vandaar die indrukwekkende Old Harry Rocks sien. Knoll Beach beslaan oor die 4 myl van pragtige sand strande met rustige warm water, perfek vir afkoel op 'n warm dag.


Ons was ook vreeslik bederf met al die oulike diertjies wat ons raak geloop het. Elke oggend het ons met die voëls opgestaan en gesit en kyk hoe die swaeltjies hulle kindertjies voer aan goggas. In die skemer, na ete, het ons gesit en kyk hoe die vlermuise jag en saans, terwyl ons sit en sterre kyk het, kon ons ook soms badgers (soortgelyk aan 'n ratel) sien. Daar was ook hasies en geen einde aan kraaie. Ons het ook 'n hele paar mooi skoenlappers, ruspes en ander insekte gesien.


Uit en uit 'n heerlike breuk van ons dolle lewens. Die vars lug, oefening en groot oop spasies doen mens se siel so goed. Nou lê die Winter weer vir ons voor, maar ten minste voel ons ons het hierdie Somer ten volle geniet.


Saturday, 31 August 2013

Otter Genot!

Vroeër die week, as 'n verdere verjaarsdag uitstappie, het Juan my na die New Forest Wildlife Park geneem. Wat 'n belewenis! Ons was daar toe die hekke oopgemaak het in die oggend, en ek kan nie presies onthou hoeveel keer ons deur die park gestap het nie, maar ons het 'n hele paar ure daar spandeer.

Daar was nie net otters en uile nie, maar pragtige skoenlappers, krimpvarkies, veldmuise, wilde katte, bokke, bisons en wie weet wat nog alles. Daar was selfs 'n pragtige wit wallaby, 'n kleiner weergawe van die kangaroe, wat rustig in die son gelê en dut het. Meeste van die bokke loop vry in die park rond en lê doodstil as jy aan hulle wil gaan vat - hulle het vreeslik geduld gehad met die kinders, wat baie oulik was om te sien. 


Die otters was beslis die hoogtepunt van ons uitstappie met hulle water mannewales en skril krete. Die park het 4 verskillende tipes otters - nie net het ons sommer baie van die inheemse Eurasiese otters gesien nie, maar ook die bedreigde Reuse Otters van Suid-Amerika. Ek dink die Reuse Otters was my heel gunsteling - hulle was so spelerig en liefdevol met mekaar - ek kon myself skaars kry om aan te beweeg. Hulle het vreeslik kos gebedel by die opsigters, ewe met hulle handjies so in die lug. Na middagete het hulle 'n slapie probeer vang, maar elk wil die ander een as 'n kussing gebruik en so het hulle al in die rondte gegaan en probeer gemaklik raak op die ander een se boude - te oulik!


Ons het ook baie tyd in die Skoenlapper area spandeer. Dit was klein, maar daar was 'n hele paar mooi skoenlappers en motte om te sien. Ek en Juan het omtrent ons lywe fotograaf gehou - kon onsself net nie keer nie, hulle was net so mooi! Onder andere was daar hierdie reuse helderblou skoenlappers wat teen 'n vreeslike spoed deur die hok gejaag het. Probeer soos ons wou, ons kon nie 'n foto van een kry nie, maar hulle was asemrowend.


Die park het ook 'n paar wolwe, maar ons kon hulle glad nie gewaar nie, al het die opsigters groot sakke vol vleis vir hulle uitgesit. Net so ook met die Lynx. Party van die mense het gespot en gesê die park jok en dat die hokke leeg is, maar die tekens was daar en mens moet verstaan dat sulke diere hulle eie roetines het, wat nie daarop gemik is om jou te vermaak nie. Die was wel lekker om te sien dat hulle sulke reuse areas gehad het om in vry rond te hardloop, met klomp skuilplekke, watergate en klimrame - niks soos die aaklige dieretuine waar die arme goed in klein hokkies moet leef nie. Die bosvarke het ons wel gesien en ek dink ons is die enigste mense wat die vreeslike skaam krimpvarkie en die uiters goed gekamoefleerde waterrot (wat ook 'n bedreigde spesie is) gesien het.

Uit en uit 'n uitstekende uitstappie!

Monday, 26 August 2013

Lekker Verjaar!

Ai ek word darm maar elke jaar vreeslik bederf deur my man op my verjaarsdag. Hierdie jaar was geen uitsondering nie. Saterdagoggend het ons in die pad geval, en dit was nie voor ek die pers bossies langs die pad herken het, dat ek geweet het ons gaan 'n draai gooi in die New Forest nie.


Een persoon wat nie bewus was van die feit dat dit my verjaarsdag was nie, is 'n wilde ponie wat ons by 'n stopplek in die woud raak geloop het. Ek en Juan het nog so ewe sit en padkos eet, toe steek die gedierte sy stinkasem mond deur die ruit en bedel eetgoed. Ek is van die veronderstelling dat ponies nie moet chips eet nie, so toe draai ons maar vining die ruit toe en probeer die ponie se kop uitstoot. Die ponie is toe heel ontevrede en nies toe kliphard 'n bol groen slym in my gesig. Sies, wat 'n gemors en die arme ruite moes ons omtrent was om skoon te kry. Gelukkig het ons wetwipes en oogdruppels byderhand gehad en het ek niks oorgekom van die snot-doop nie. Wel, ek kan seker nie die ponie kwalik neem nie, ek sal ook vies wees as iemand nie hulle chips met my wil deel nie. 


Ons het Saterdag die woud platgery en ook 'n draai in Bournemouth gaan gooi. Die dag het ons afgesluit met 'n baie mooi sonsondergang in die woud. 

Ete was 'n belewenis by die Day's Restaurant in Bournemouth - www.daysrestaurant.com/our-branches/bournemouth. Ek het nog nooit so iets gesien nie - vir middagete bedien hulle 'n 150 disse en oor aandete bedien hulle mer as 250 disse. Daar is stapels en stapels kos, sjokelade fonteine, berge poeding en hordes mense. Ek het nie 'n foto van die restaurant geneem nie, maar as jy hou van baie eet en baie verskeidenheid, dan sal ek die plek aanbeveel. 

Ons slaapplek by Petherton Cottage (www.pethertoncottagebandb.co.uk/) was ook baie lekker en gesellig. Die perfekte middelpunt om die area vanaf te verken. Sondagoggend kon ek uiteindelik die geskenke oopmaak wat nou al weke vir my staan en loer - en kyk net die lekker dinge wat ek gekry het - mens kan sien my man en ouers ken my goed. My Ma het vir 'n my 'n pragtige paar handskoentjies al die pad vanaf die huis gestuur en toe ek uiteindelik ophou tjank het daaroor, kon ek die oulike boeke bekyk wat Juan vir my gekoop het. Nou het ek genoeg inspirasie om my 'n leeftyd te hou en ek kan nie wag tot ons eendag al hierdie lekker dinge kan uitprobeer nie. 


Ek vertel weer 'n volgende keer van die res van ons uitstappie - ons het 'n wildpark besoek en ek het so baie fotos geneem, dit gaan my 'n eeu vat om deur hulle almal te werk.

Sunday, 18 August 2013

Nog groente...


Vandag het ons by 'n paar plaaslike plaaswinkels gestop en die heerlikste vars en organiese groente, vrugte en brood gekoop. Dit is merkwaardig hoeveel ekstra mense hier sal betaal vir vars, plaaslik vervaardigde dinge. In die normale winkels is dit sommer baie duur, maar as mens so by die padstalletjies omgaan, kan jy darm nog dinge vir 'n redelik prys kry en sommer ook sien waar dit gegroei word. As mens eers leer hoe vrugte, groente, brood en vleis hier, in die "eerste" wereld, vervaardig word, raak dit skielik vir mens baie meer belangrik om dinge te koop wat jy weet gaan goed wees vir jou of dit sommer self te maak of te groei. 

Ek is rerig dankbaar dat ons darm 'n bietjie spasie het om 'n paar dinge vir onsself te kan groei. En as jy eers jou eie 'homegrown' tamaties en mielies geëet het, is die winkel goed skielik glad nie meer so smaaklik nie. Ons was hierdie jaar baie gelukkig met ons tamatie oes. Die twee plante wat ons het dra swaar en ons kan nou elke dag 'n hele hand vol pluk - bloed rooi en stroopsoet. Ons gunsteling manier om hulle te eet is om hulle te rooster in die oond met olyfolie en vars basilie uit die tuin uit. Vanoggend het Juan ook vir my die heerlikste omelette gemaak met vars tamaties, spinasie, basilie en kaas. Ek moet net keer of ons sal hulle soos lekkergoed van die bos af eet, so soet is hulle.


Ons klein wit komkommertjies was vir ons nogal 'n lekker verrassing. Ek het hulle geplant met die idee om hulle sommer net te versap, want komkommersap is propvol baie gesonde dinge, maar hulle is so soet en verfrissend om te eet, dat ek bly is hy dra so goed. Hulle lyk miskien nie vreeslik mooi nie, en is lekker stekelrig, maar hulle proe tog te lekker. 

My bete is reuse en ons het hierdie jaar meer as wat ek dink ons ooit kan eet. Ons het van hulle nou al gerooster met heuning en tiemie en van hulle versap en glase vol bloedrooi beetsap gedrink. Dit is ook baie lekker om hulle te braai saam met uie, balsamiese asyn, seesout en suiker todat dit 'n dik "relish" maak. Bedien saam met tuisgemaakte worsrolletjies is dit so lekker, jy sal jou eie vingers wil afeet. 

My mielies het nie so goed gevaar nie, maar dit was darm my eerste probeerslag - ek dink mens moet hulle in groter blokke kan plant sodat hulle 'n beter kans staan om bevrug te word. Maar ons het darm sover een geëet gekry en dit was die beste mielie wat ek ooit geëet het. Sommer net vinnig gestoom en bedien met botter. Wat kan nou lekkerder wees? Ons gaan beslis in die toekoms probeer om hulle beter te groei. 

Waar ek gedink het my boontjies was klaar gegroei, het hulle nou wraggies weer begin blom en hang daar nou weer 'n hele groot hand vol pragtige boontjies. Vandag maak ek vir ons lekker varkrol, gerooster in die oond, en ek sal die boontjies bedien saam met 'n paar baba aartappeltjies. 

Ons aarbeie het ook nou weer te voorskyn gekom, maar hulle is net genoeg om jou lus te maak vir meer. Gelukkig kan mens nog plaaslik lekker varsgeplukte aarbeie koop om daarvoor op te maak. Vandag het ons twee groot houertjies vol gekoop en dit versap om lekker vars aarbei sap te maak. Ek het probeer om aarbei vrugterol te maak met die pulp, maar ek dink die waspapier was nie waspaper genoeg nie. Ek sal volgende keer van beter weet.

Ons baba spanspekkies kom ook nou mooi aan en ek is seker ons gaan binnekort ten minste twee hê om te eet. Ek glo hulle gaan net so lekker wees soos al die ander goed wat ons hierdie jaar gegroei het. Wat 'n bevredigende stokperdjie - ek is so dankbaar dat ek toevallig in groente groei in geval het en en is seker dat dit elke jaar net beter en beter kan gaan.