Sunday 6 October 2013

Die herfs is op ons...so kom ons eet koek.

Waar gaan die tyd so vinnig met ons heen? Voel of dit net eergister Augustus was, maar in September het die dag en nag ewening gekom en gegaan en die dae raak nou net korter. Oktober is hier en met dit, die herfs. Oral lĂȘ appels en pere onder die bome en bruin word, die aande is al vroeg donker en die oggende baie fris. 

My tuintjie is nou stadig besig om die laaste van sy oes op te lewer en dit is nog net die bete wat daar staan en uithou en 'n paar verlore aarbeie wat nog so nou en dan kop uitsteek. Miskien kruip daar ook nog 'n wortel of twee weg. Ek het hierdie jaar so baie geleer in my tuin en kan nie wag vir die nuwe jaar om nuwe dinge uit te probeer nie, maar so wens mens die lewe om. 

In herfs wil ek altyd begin regmaak vir Winter. Ek wil skoonmaak en kosmaak en dinge vries, die kaste vol dinge laai, in die vae hoop dat ek in die koue wat nog voorlĂȘ, so veel tyd moontlik onder my duvet kan deurbring. As ek nou fluks is, kan ek lekker lui wees later... Nee, dinge is nooit so maklik nie.

Een ding waarmee ons ons wel die Winter sal bederf, is hierdie heerlike warm sjokolade koek, wat ek gister ontdek het. Dit is gluteenvry en gebruik olyfolie eerder as botter. Dis nou nie 'n sponskoek soos mens aan gewoond is nie, eerder 'n lekker poeding van 'n koek. 


Gluteenvrye Sjokolade Koek / Sjokolade Olyfolie Koek
(aangepas van 'n resep deur Nigella Lawson)

50g Kakaopoeier (gesif)
125ml Kookwater
2 Eetlepels Vanieljegeursel
'n Halwe Teelepel Koffiepoeier (opsioneel)

150g Gemaalde Amandels (Amandelmeel)
'n Halwe Teelepel Koeksoda
'n Knippie Sout

3 Groot Eiers
200g Sagte Bruinsuiker of Strooisuiker
150ml Olyfolie

Voorverhit die oond teen 170 grade en smeer 'n 20/23cm losboom koekpan met olyfolie en voer die uit met bakpapier.

Klits die kakaopoeier en kookwater saam tot glad en voeg dan die vanieljegeursel en koffie by. Laat staan dit eenkant om effens af te koel.

Meng die amandelmeel, koeksoda en sout in 'n ander bakkie en hou eenkant.

Klits die eiers, suiker en olyfolie vir drie minute saam - gebruik 'n elektriese klitser as jy een het. Voeg dan stadig, en teen 'n lae spoed, die sjokolade mengsel by. Vou heel laaste die meelmengsel met 'n lepel of spatel in. Gooi dit in die pan en bak vir 40 tot 45 minute.

Laat staan vir 10 minute om effens af te koel in die pan en skraap dan al langs die kant met 'n dun spatel. Verwyder uit die pan. Bedien die koek warm met lekker roomys. 

Ek het die koek gisteraand na vriende geneem vir 'n ete en daar het maar min terug gekom...verskoon dus die halwe koek foto.  


No comments:

Post a Comment