Saturday 9 November 2013

Tyd vir 'n Stewige Ontbyt

Heel week is ek al lus om my man te bederf met 'American Breakfast Pancakes' met spek en stroop vir ontbyt. Vir sulke ondernemings het jy wel tyd nodig (miskien nie vir die maak nie, maar om na die tyd rond te lê en niks doen nie), so ek moes maar wag vir 'n lekker koue Saterdag oggend. Soos meeste dinge waarvoor ek lus raak is dit beslis nie gesond nie, maar vreeslik lekker. 

Ons Suid-Afrikaaners noem hierdie pannekoekies sommer plaatkoekies en in Engeland is dit 'n Drop Scone of 'n Scotch Pancake, maar die Amerikaners is bekend daarvoor om dit te eet met spek en stroop - en as dit vir jou vreemd klink, moenie worry nie, dis baie lekker. Ek het sommer 'n Britse twis ook bygesit, deur 'n paar lekker 'bangers' by te maak - of te wel, vark worsies. Hierdie resep is beslis bedoel vir 'n gesin van vier of meer, maar dis nie moeilik vir die twee van ons om dit te eet vir breakfast, lunch en supper nie. 


Amerikaanse Ontbyt Pannekoek Resep (Plaatkoekies)

1 Eetlepel Bakpoeier
1 Knippie Sout
1 Teelepel Suiker
225g Meel

30g Botter (gesmelt en afgekoel)
300ml Melk
2 Eiers

Meng die droë en nat bestandele apart en dan goed saam. Ek klits hulle sommer met die hand saam totdat alles 'n gladde beslag vorm, maar 'n elektriese menger sal seker vinniger werk en die beslag beter meng. Ek hou ook daarvan om die beslag in 'n groot maatbeker aan te maak, sodat dit makliker is om bietjies bietjies in die pan te gooi. 

Smelt botter in 'n swaarboompan en gooi die beslag stadig uit totdat dit so groot is soos jy graag jou pannekoekies wil hê - ek pas gewoonlik vier pannekoekies in my groot pan. Laat hulle dan braai totdat borrels bo-op breek, so weet jy die onderkant is reg. Draai dan om en braai vir nog 'n minuut. Hou so aan tot die hele beslag op is - of bêre oorblywende beslag in die yskas vir die volgende oggend. 


Hierdie pannekoekies sal lekker wees met roomys ook of jy kan 'n handvol bevrore bessies in die beslag gooi en dit bedien met stroop, maar ek het vir ons spek en wors by gebraai en dit bedien met 'n sterk beleë kaas en 'n goeie Kanadese esdoringstroop (of te wel, Maple Syrup). Saam met 'n lekker bitter sterk koffietjie, kan daar net nie op verbeter word vir 'n goeie begin aan die dag nie. 


4 comments:

  1. Onthou dat ek eendag vertel van die 3 wense en die pan met wors ;-) W

    ReplyDelete
  2. Ek hoop nie jul het al daardie pannekoekies in eenslag opgeeet nie - shoe dit lyk bitter bitter lekker

    ReplyDelete
    Replies
    1. Haha!! Nie dat ons nie sou kon nie, maar ons het dit darm in drie etes verander. Haha!

      Delete