Monday 4 November 2013

Pampoen Plesier

November is hier en met dit, die koue. Net ‘n week of twee gelede het ons die grootste storm in jare gehad. Ons het relatief ongeskaad van dit afgekom met net ‘n paar bosse platgewaai, maar oral langs die paaie sien jy steeds omgewaaide bome. Dit was omtrent 'n belewenis om so veilig, in die vroee oggendure, in jou huisie te staan en te sien hoe die bure se vullisdromme in die pad afwaai en die bome so buig en ruk. Juan het daai oggend al 4uur vertrek om ‘n vlug te vang na Europa en ek was maar bekommerd oor hoe veilig die paaie en die vlug sou wees, maar alles het goed afgeloop.

Onlangs het die eerste sneeu in Skotland geval en ek wonder wanneer dit ons beurt gaan wees. Ons sorg maar dat die tuin in orde is, want as die weer eers werklik gedraai het, wil jy nie buite wees onnodiglik nie. 

Laat middae by die werk gaan die son al lank voor 5uur onder en is die vensters swart spieels. Die dae is kort en raak al kouer. Hierdie is beslis nie tyd vir slaai en ligte etes nie, maar vir lekker warm stewige kos wat vir jou ‘n drukkie kan gee van binne. 

Ek en Juan het nie ‘n pampoen gekerf vir Halloween nie, maar het hom eerder in die oond gebak met room – dit was beslis die beter opsie. Toe kon ons eerder na die tyd die ete gaan afstap in die buurt en kyk na ander mense se gekerfte pampoene en hoe die kinders en hull baie moeĆ« ouers ‘trick or treat’. Baie huise was maar baie donker, seker te bang die kinders kom klop vir lekkers, maar ander huise was baie mooi opgemaak en ons het ‘n hele paar baie mooi pampoene gesien. 

Ek het ‘n lekker klein pampoen gekies – net genoeg vir twee – en die moeilikste gedeelte van hierdie resep is om die pampoen mooi in die middel deur te sny, sonder om ‘n vinger te verloor, sodat jy twee ‘bakkies’ het om jou room in te gooi. Uiters lui het ek vinnig oor middagete die pampoen in twee gedeel. Ek het elke helfte gevul met room, droeĆ« kruie en gemaalde sout oorgegooi, en met ‘n bietjie water onder in die oondbak, het ek dit bedek met foelie en in die oond geprop. So het ek dit vir 20minute teen 180 gebak en toe net die oond afgesit en terug werk toe gegaan. Die oorblywende hitte in die oond het die pampoen stadig deurgekook en kans gegee vir die gedroogte kruie om lekker in te trek. 


Toe ek die aand by die huis kom, het ek spek en uie in ‘n pan gebraai terwyl ek weer die oond aangesit het om die pampoen warm te maak. Eenkant het ek vinnig 'n bietjie koeskoes in 'n koppie aangemaak om die ete aan te vul. Jy kan jou koeskoes meng met enige iets, maar ek hou van spek en uie saam met my pampoen. Gooi dan ook ‘n handvol sade by en dalk ‘n handvol gedroogte bessies en bedien alles warm saam (met ‘n bietjie kaas as jy so voel).


Ek het maar 'n paar van die pampoen se pitte eenkant gehou...sal interessant wees om te sien of ek dalk volgende jaar een in my tuin kan groei...dit was 'n baie lekker pampoen. 

2 comments:

  1. Ja my kind nou is ek doodseker jy is ouma Ruppersberg se kleinkind en jou ma se eie kind.
    Daai pampoen klink hemels - ja dis beter as die heidense gebruik eet hom eerder!!!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie! Dit was wraggies baie lekker - en so eenvoudig. Ek is ook nie so seker of ek so mooi kan pampoen kerf soos die mense hier nie, sal maar volgende jaar probeer.

      Delete