Laas week Donderdag het ek na werk vinnig by die winkels omgestap vir aandete en oppad terug, op die hoofstraat, met 'n sak kos, sien ek so tussen al die mense se voete en die wiele van die babastootwaentjies, 'n klein bruin dingetjie oor die grond sukkel. Vir 'n sekonde het ek dit afgemaak as 'n blaar, toe gedog dit is 'n brulpadda. Toe ek nader kom besef ek dat dit harig is, en omdat dit nie genoeg bene het om 'n tarantula te wees nie, moes ek weer dink...'n vlermuis.
'n Klein vlermuis, helder oordag, in die middel van die hoofstraat, pynlik besig om homself aan sy vlerkies rond te sleep, desperaat om onder die mense se voete uit te kom. Dat niemand anders hom kon sien nie, kon ek nie glo nie. Ek kon hom ook nie daar los nie, iemand sou op hom trap of bo-oor hom ry met 'n stootwaentjie. En, as 'n vlermuis eers op die grond is, is dit vir hulle basies onmoontik om op te styg. Met die idee om hom nie te beseer nie en om ook nie self iets oor te kom nie (want vlermuise kan hondsdolheid dra) het ek hom toe op my serp laat klim. Dit het maar vreeslik gesukkel en terwyl ek besig is, kom daar toe twee jong profesionele mans uit die bookies ('n beroepswedders winkel). "Is that our bat?" vra hulle. Hulle lag hulle half simpel en vertel dat hulle die vlermuis in die betting shop gevind het en hom toe by die deur uitgeskop het. Sal hulle toe nou wragtig daar staan, soos twee skoolseuns, en my uitjou, "Look at the bat girl...no, I think it is a bat woman," lag hulle herhaaldelik. Hulle was seker dronk. Ek noem toe maar nie dat as jy 'n vlermuis versteur of beskadig, kan jy 'n £5,000 boete opdoen nie, en maak toe maar net dat ek en my vlermuis so vinnig as moontlik daar wegkom, terwyl hulle nog vir my lag.
By die huis gekom het ek hom met my serp in die bad gaan sit, waar hy rustig geslaap het tot donker. Ek en Juan het 'n bietjie aanlyn opgelees en mens moet maar versigtig wees vir vlermuise. Die kans dat jy hondsdolheid opdoen is baie skraal, maar dis so 'n vreeslike siekte, dat jy nie kanse moet waag nie. Ons het gewag tot dit donker is en Juan het hom toe versigtig (met twee stelle handskoene) uit die serp gehaal en hom hoog in die lug gehou. Hy het sy klein neusie in die lug gesteek, en soos blits in die donker verdwyn. Ons was alby so bly dat ons hom kon help en so dankbaar dat hy niks oorgekom het nie.
Gisteroggend raak en vroeg wakker, trek die gordyne oop, en lĂȘ en kyk hoe die wolke verkleur soos die son opkom. Een van die bure se katte kom later op ons shed se dakkie sit. Ek klop aan die venster om hom te verwilder, maar hy is te besig om iets te bekyk om vir my te luister. Ek sien hoe hy oor die shed se dak met iets peuter en staan maar op om hom te gaan wegjaag. Daargekom, hol die kat vinnig weg, maar sien ek te laat die klein stil lyfie. My arme vlermuis! Om 'n hele week te oorleef na die voorval in die hoofstraat en dan nou hier te dood onder die poot van 'n nare kat. Sy dae was maar getel.
Ek het nie self 'n goeie foto geneem nie, maar hier is 'n foto van dieselfde tipe vlermuis - 'n Brown Long-Eared Bat |
Ek en Juan is maar bitter hartseer. Een ding is beslis, ons sal nooit katte aanhou nie.
Sies vir daai ou kat - vryf hom goed in met olie rol hom in die sand en jaag hom terug na sy baas.
ReplyDeleteSo jammer die ou vlermuisie is dood maar soos hul se ons dag is vir ons uitgesit en seker ook maar vir die ou vlermuisie.
Ai ja, ons was baie hartseer - dink steeds aan hom wanneer ons daai stoute kat hier sien rondsluip.
Delete