Saturday 7 September 2013

Kamptasties!

Die skole het onlangs weer begin en ons het die geleentheid benut om die laaste van die Somer te geniet met 'n kort vakansie aan die Dorset Kus. Hierdie gedeelte van Engeland staan bekend as die Jurassic Coast en ons sal beslis weer 'n paar keer moet gaan om dit ten volle te geniet. Die Jurassic Coast is gewild met fossiel jagters en stappers - die "coastal walks" sal jou dae lank besig hou. Ons het ons pap gestap en met 'n hele sak vol klippe huistoe gekom.

Ons het van Sondag tot Donderdagaand by Rosewall Campsite gekamp en sal beslis weer daar gaan bly. Met almal wat huistoe mik na die skool vakansie het ons omtrent die plek vir onsself gehad en die weer was absoluut wonderlik. Ons was van plan om eers Vrydag terug te kom, maar daar was reën voorspel, en tent afslaan in die reën is nie pret nie. Met die oppak sê 'n mede-kamper ewe vir my sy het met verbasing toegekyk hoe ons al daai goed in ons klein karretjie pas - sy het nie gedink alles gaan inpas nie.


Rosewall is in die klein dorpie van Osmington Mills geleë, sowat 5 myl van Weymouth af, met uitsigte oor die kus en platteland. Die kus staproete sluit aan die onderpunt van die kamp aan, van waar jy Wes in die rigting van Weymouth al langs die kus kan stap, of Oos, in die rigting van 'n oulike strand by Ringstead. 


Daar is ook 'n baie oulike Pub, The Smugglers Inn, waar mens kan gaan uitspan. Die kos daar is uitstekend! Ons sorg altyd vir ons eie kos op 'n kamp - eet is helfte van die pret - maar op ons laaste aand, na ons opgeslaan het, het ons onsself met 'n burger en die lekkerste Banoffee Crème Brulee daar bederf.

Die kamp is ook 'n lekker plek om die kus vanaf te verken  Ons sou ook heel maklik elke dag op die oulike klippies strand naby die kamp kon sit en fossiele tussen die klippies uitgrawe. Gelukkig het ons Donderdag die moeite gedoen om Knoll Beach toe te ry. Dit is deel van die Studland Nature Reserve en mens kan vandaar die indrukwekkende Old Harry Rocks sien. Knoll Beach beslaan oor die 4 myl van pragtige sand strande met rustige warm water, perfek vir afkoel op 'n warm dag.


Ons was ook vreeslik bederf met al die oulike diertjies wat ons raak geloop het. Elke oggend het ons met die voëls opgestaan en gesit en kyk hoe die swaeltjies hulle kindertjies voer aan goggas. In die skemer, na ete, het ons gesit en kyk hoe die vlermuise jag en saans, terwyl ons sit en sterre kyk het, kon ons ook soms badgers (soortgelyk aan 'n ratel) sien. Daar was ook hasies en geen einde aan kraaie. Ons het ook 'n hele paar mooi skoenlappers, ruspes en ander insekte gesien.


Uit en uit 'n heerlike breuk van ons dolle lewens. Die vars lug, oefening en groot oop spasies doen mens se siel so goed. Nou lê die Winter weer vir ons voor, maar ten minste voel ons ons het hierdie Somer ten volle geniet.


2 comments:

  1. Fantastiese fotos en ook storie. Voel hoe reis ek saam met julle in en hoe eet ek saam met julle. Jy moet 'n reisboek skryf oor daai Engeland waarin jy bly en al sy mooi plekke wys aan die Engelse wat dit dalk nie eens weet hul bly in so n mooi land nie en ook vir jou mede Suid Afrikaners. Kan sien pa se bloed loop deur jou. Dankie dat ons kan deel in jul kamp plesier!!!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dis so lekker om te deel en lekker om te weet ons fotos met stories is darm iewers vir eendag, sodat ons al die lekker dinge kan onthou. Jip, Pa het beslis 'n behoefte aan rondry by my gekweek..nie eens te praat van al die klippe wat ek orals optel en wil huistoe bring nie.

      Delete