Thursday 25 December 2014

Geseënde Kersfees

Vandag het ons die mooiste dag gehad. As dit nie vir al die kaal bome was nie, sou ek skaars kon glo dit is Winter, so gematig was die weer en so lekker het die son geskyn. 

Na 'n lekker cinnabun vir ontbyt moes ons sommer dadelik my nuwe kamera gaan uittoets met 'n stappie om Fleet Pond. Met die kamera se 60x zoom, kan ons omtrent nou die voëls en diere bekyk. Die stappie was so aangenaam - dit het gevoel of die hele Fleet dieselfde idee gehad het en almal was daar met vriendelike glimlagte en opgewonde "Merry Chrismas" groete.


Om Kersete vir twee te maak, is nie altyd so maklik nie. Ons het maar 'n baie klein Gammon gemaak met lekker aartappels en groente rys roerbraai. Mnr. Kaalvoet is altyd so lief vir Gammon, so ek deel graag die BBC Food se Traditional Honey Glazed Gammon. Die resep is natuurlik vir 'n veel groter stuk vleis, maar ek pas dit maar aan tot wat ek het.

Heuning en Mosterd Gammon Resep

2-4kg Ongerookte beenlose Gammon
2 Uie
2 Wortels
4 Loerier blare
Naeltjies

4 Eetlepels Heuning
4 Eetlepels Mosterd

Plaas die vleis in 'n groot swaarboom kastrol met 'n deksel. Bedek met koue water en bring tot kookpunt. Skuim sal vorm en dit moet afskep word. Kook totdat daar geen meer skuim is nie. Dreineer.
Voeg die gekapte groente en blare tot die vleis, bedek weer met koue water en bring weer tot kookpunt. Sit 'n deksel op en laat die vleis prut vir 20min vir elke 500g van vleis. Laat dan die vleis afkoel vir 15 minute.



Voorverhit die oond tot 200 grade. Verwyder die vel met 'n skerp klein messie, maar behou so veel as moontlik van die vet. Sny dan die vet 'n diamant patroon en druk die naeltjies in elke kruis. Borsel met helfte van die mosterd mengsel.


Plaas in die oond vir 10 minute. Haal dit dan uit en borsel met die res van die mengsel en bak vir 'n verdere 15 minute. 
Die vleis is reg as die vet mooi gebraai is. As dit te bruin begin lyk, sit gerus 'n stukkie foelie oor. Haal 15 minute voor die ete uit om die vleis te laat rus. 


Ek het sommer die stukkie vel in die oond gegrill om vir Mnr. Kaalvoet 'n bietjie crackling te voer. Die buurvrou het ook 'n bordjie gekry en ons het sommer vir 'n laat middag stappie ook gegaan.

Ons hoop al ons vriende, familie en vriendelike blogger kennisse sal 'n wonderlike Kersfees en 'n voortreflike Nuwe Jaar hê. Ons drink solank 'n lekker glasie Kaapse rooiwyn op julle.

Sunday 14 December 2014

Ys ys ys

Dis nie die gewone dame nie wat vandag skryf nie, sy loop in die verre rond en Mr. Kaalvoet moet maar instaan, en ek is besig om die plek oor te neem.

Laas naweek het ek besluit om uit te kom want buite was dit sonnig, vars, en dinge was met 'n lagie ys bedek.


Dis soms sommer mooier as sneeu!


By die vlei, waar mens oor 'n loopplank moet gaan om by die water uit te kom, het ek hierdie geneem.


Na 'n wyle in die winter son, het alles weer ontdooi en was die wêreld weer vol kleur.


Met my geluk was daar ook 'n volmaan wat ek toe darem kon afneem daardie naweek. Hierdie naweek het ek beoog om te staar na Jupiter terwyl die Geminid Meteoor Reen aan die gang was. Teen die tyd dat Jupiter sy gesig wys, het my C6 en die oogstukke al 'n bietjie begin vries en ook opwasem. Jupiter se rooi bande kon ek darm sien, maar dit was maar dof. Toe pak ek dit maar op en verkyk my verder aan die meteore. 40! Dit was genoeg vir die aand en ek het selfs die kampstoel uit gehad, 'n mus, hoodie, handskoene, jas, boots, kombers en 'safety goggles' vir die vriesende oë. So sien ek dis nog 'n super helder aand en ek is oppad bed toe. Dalk nog net 'n paar. Ek sit toe sommer op die grond en kyk by die vensters uit na 'n verdere 10 meteore. My handige TS70 het my besig gehou met die Pleiades en die Orion nebula tussen die meteore deur. Dit was die beste in 'n lang tyd...




Monday 17 November 2014

Fleet Verkenning

Ons woon nou al vir net oor die twee maande hier in Fleet en ten spyte van die koms van Winter, het ons steeds 'n paar lekker dae gehad om die area te verken. Ons is baie bevoorreg om naby 'n paar heerlike plekke te woon waar mens lekker lank kan stap. Ek kan nie wag om te sien hoe dit hier gaan lyk in die Lente nie, maar ek is ook seker dit gaan pragtig wees as ons 'n bietjie sneeu kry hierdie Winter.

Fleet Pond


Fleet pond is die grootste varswater massa in Hampshire en die reservaat waarin dit geleë is beslaan amper 55 hektaar van verskeie habitatte soos woude, heide bos, moerasse en rietbeddings. Dis net 'n myl se stap van ons huis af en 'n heerlike plek om te gaan verken. 


Ek het nou al 'n paar keer in die dag soontoe gegaan om die swane, ganse en eende te gaan voer en het ook al saam met Mr Kaalvoet oor naweke daar gaan verken. Die woude rondom die dam is nou so mooi met die herfs blare en met die mis wat soms so oor die water hang, is dit baie pragtig daar. Nie net is daar al die mooi watervoëls nie, daar is ook eekhorings, hasies, naaldekokers en 'n verskeidenheid voëls. Ek het selfs 'n varswater kreefie in 'n stroom gewaar. Hierdie tyd van die jaar groei daar ook oral sampioene en ander fungi. 


As daar nou een ding is wat ek nie kan weerstaan op so 'n stappie nie, is dit om die swane af te neem. Hulle is vir my so mooi en dan blyk hulle nog lief te wees vir die kamera ook. Al het ek nie eens brood nie, en het die ander voëls al lankal verdwyn, dan hang die swane nog uit om afgeneem te word.


Minley Wood

In die ander rigting vanaf ons huisie, kan mens weer langs 'n stroom afstap, oor 'n agterpad wat oor die M3 strek, en dan loop tot in Minley Wood. Dit is 'n mengsel van woude, bos paaidjies en velde. Dit is 'n entjie se stap, maar die pad self is mooi en die bestemming die moeite werd. Hierdie woud is sommer baie groot en strek tot in ander woude en bosse en mens sal sweerlik tot geen einde kan gaan stap hier. Ek het onlangs oor die 10km daar gaan stap met geen mens of einde in sig nie. 

Die weermag gebruik wel al die bosse en woude rondom Fleet vir opleiding, aangesien 'n hele paar kasernes en Sandhurst (The Royal Military Academy) naby geleë is. Dit is dus nie vreemd om in hulle vas te loop as mens hier gaan stap nie. Net die ander dag het ek op 'n groep afgekom wat besig was om te leer hoe om slote te grawe en doringdraad uit te rol. Die soldate hier is altyd baie gaaf en salueer mooi as jy groet.

Mens kom ook oral op bordjies af wat jou waarsku om nie met vreemde voorwerpe te peuter nie. Die eerste keer het was ek bekommerd dat dit dalk beteken mens kan nie daar stap nie, maar nou dan ons al meer van die omgewing gesien het besef ek die bordjies is oral in en om Fleet en nabygeleë dorpe en nie veel om oor bekommerd te wees nie. Ek bly maar net op die paadjies en sal nie daarvan droom om te karring aan vreemde dinge wat dalk daar mag rondlê nie. 


Minley Wood is behoorlik bedrywig met al die diertjies en voëls wat daar woon. Ek het een oggend in die mis op die mooiste prentjie afgekom. 'n Stroompie met groen grasbanke omring met hasies en pragtig gekleure fisante, blue tits en groen houtkappers. Dit het skaars werklik gevoel. Ek het ongelukkig nie die keer my kamera by my gehad nie, wat 'n jammerte is.

Ek kan sien dat ons nog in die toekoms baie tyd hier gaan spandeer en die area rondom Fleet baie gaan geniet. Nou moet die weer net saamspeel, ander moet ons maar wag tot Lente.

Wednesday 8 October 2014

Nuwe Geveerde Vriende

By ons vorige woonstel het ek jare gesukkel om voëls na ons tuin toe te lok. Met soveel katte in die omgewing, was dit nie maklik nie, maar ek het darm so 'n gereëlde groep Duiwe, 'n paar Magpies, 'n paar Blackbirds en die oulikste Robins gehad. Die Robins was my gunsteling, hulle is sommer vanself baie mak hier in Engeland en kom kyk altyd wat mens doen wanneer mens in die tuin werk en sal sommer so kort op jou hakke hop om enige wurms te kry wat jy dalk opgrawe. Ek was nogal hartseer om hulle agter te laat, maar een van die dinge wat my aangetrek het tot ons nuwe plekkie was die voëls wat ek in die bome kon hoor sing. 

By ons vorige woonstel hoef ek net een of twee keer 'n week 'n bietjie kos uit te gesit het, want die voëls het nie baie gereeld gekom nie en ook nooit lank gebly nie. Een van die eerste dinge wat ek moes uitpak by ons nuwe plek was die voëlstaander en dit het nie lank geneem nie, toe is my tuin sommer baie gewild. Nou sit ek amper twee keer 'n dag kos uit en weet ek sal moet wiele aandraai as ek nie te veel geld wil uitgee nie. 

Robin
The gardeners friend & the UK's favourite bird.
Aggressively territorial, yet synonymous with Christmas.
Die Robins hier is net so nuuskierig en kom sit en kyk vir my as ek buite is. Elke oggend en laat middag kom hier swerms Blue Tits en Mossies aan. Die Blue Tits hang aan ons nuwe grondboontjie voerder en die Mossies hop op die grond rond en kry al die krummels. Die Robins is baie territoriaal en bevlieg gereeld die Blue Tits, maar die woerts dan net weg en wag net weer sy kans af om terug te kom. Party oggende hoor ek so 'n geklop aan my kamervenster op die boonste vloer en as ek dan versigtig loer, kan ek die Blue Tits uitvang wat daar hang en wie weet wat eet. 

Blue Tit
One of the UK's most colourful and recognisable birds.
Nuuskierige Magpies en raserige Spreeus kom ook hier aan. Die spreeus kom in sulke trosse hang aan ons bome en skel op mekaar terwyl die Magpies rats vat wat hulle wil hê en dan vinnig weer verdwyn. Die Magpies sal seker later meer rustig raak en langer bly.  

Blackbird
Magpie
Die Blackbirds is weer baie lief daarvoor om ons waterbak te kom besoek en krap die blare in die beddings om. 

Een of twee groot duiwe kom ook so nou en dan kuier. Hulle is nog maar baie skaam, en vlug met 'n groot geklap van vlerke as hulle mens raaksien, maar in my ondervinding kry jy gewoonlik 'n oorlas van duiwe as hulle eers besef dit is veilig. Die Woodpigeon is die grootste duif wat jy kry hier en hulle kan hope kos op een slag eet. Hulle is ook so swaar dat ek soms vrees vir die stabiliteit van my voëlstaander. 

Woodpigeon
The UK's largest and most common pigeon.
Vanoggend het ek ook 'n Goldfinch gesien. Hulle is baie mooi en ek hoop om meer van hulle te lok in die toekoms. Dan is daar 'n ander voëltjie wat ek nog nie heeltemal geidentifiseer het nie, dis of 'n Marsh Tit of 'n Coal Tit. Die twee voëltjies lyk so dieselfde, dis maar moeilik om hulle uit te ken. Ek wonder wat hier nog gaan opdaag. 

Gold Finch
Ek en Manlief sit gereeld in die sitkamer en staar soos swape by die deur uit na die gewoel in ons tuin. Dis sommer baie lekker. Ek sukkel nog om hul afgeneem te kry - blykbaar weet hulle die verskil tussen ek wat net sit en kyk en ek wat sit en kyk met 'n kamera - ek het dus die prentjies geleën vanaf die RSPB se webtuiste: www.rspb.org.uk

Tuesday 30 September 2014

Sterre Kamp

Teen die tyd wat Mr. Kaalvoet Donderdag by die huis opgedaag het, was ek al spierwit en baie siek. Ons het onlangs na 'n nuwe area getrek en het baie gesukkel om 'n dokter te kry om my te sien. Gelukkig kon ons Vrydag 'n afspraak reël en het hulle my met 'n virale infeksie in my middeloor gediagnoseer. Die gevolg was erge vertigo, wat ek nie my ergste vyand sal toewens nie. Eers was ek net siek en het ek nie omgegee of die wêreld vergaan nie, maar soos die pille ingeskop het, was ek bitter spyt dat ek nou juis moes siek raak op die naweek wat ons sou vertrek na manlief se Sterre Kamp. Eers wou hy niks hoor van dat ons gaan nie, maar ek het net nie kans gesien om die hele naweek hier rond te lê nie - mens kan mos maar in 'n tent ook lê en siek voel.

Star Party is die grootste samekoms van amateur sterrekundiges in die VK. Almal het die naweek wat pas verby is bymekaar gekom by Kelling Heath, in Norfolk, om die naweek saam te kamp, sterre te kyk en lekker te gesels.  Ons het hopeloos te laat vertrek, met die dat ek so siek was, en het in die stik donker nag daar aangekom. Aangesien Kelling Heath spesifiek gekies word omdat dit so besonder donker daar is, daar geen ligte op die kamp is nie en slegs rooi lig deur kampers toegelaat word, was dit sommer baie donker toe ons moes tent opslaan. Na die tyd het van die mense kom gesels en geskerts oor ons twee wat so in die donker 'n tent kon opslaan. Ek weet nie waaroor hulle meer verbaas was nie, die opslaan of die hoeveelheid goed wat uit ons klein karretjie gekom het.

Met die rondkyk die volgende oggend, was ek nie seker hoe ons dit gedoen het nie, maar die aangesig van die hemelruim die vorige aand, het dit alles die moeite werd gemaak. As iemand wat al baie in die Karoo en aan die Weskus vakansie gehou het, moes ek al sweerlik die sterre so gesien het, maar dit het omtrent gevoel soos die eerste keer wat die melkweg soos 'n wit waas bo my gestrek het en elke ster so onsettend helder geblink het. 


Die kampers het van heinde en verre kom, almal met teleskope van groot tot klein. Sommige het daar opgedaag met rekenaars en groot kameras en dit was omtrent 'n belewenis om al die tegnologie so te sien rond staan op 'n kampplek in die middel van nêrens. Almal was vriendelike en behulpvaardig en het lekker saam gesels. Ons het sommer klaar plek bespreek vir volgende jaar en sal almal dan weer volgende jaar sien - ons hoop maar vir 'clear skies'. 


Kelling Heath was absoluut lieflik met oor die 270 hektaar woude en oop heidelande. Sommer met ons aankoms moes ons eers stop vir bokkies om oor die pad te stap en elke nag kon jy hoor hoeveel uile in die bome woon. Geleë naby die Norfolk kus, kon ons lekker die strand dorpies besoek en vir die mense waai wat op die bekende stoomtreine daar ry. 


Terug by die huis is ons steeds besig met uitpak en regpak na ons trek. Harde werk, maar op die ou einde tog die moeite werd. Ons nuwe plekke is baie stil, ons tuin is vol voeltjies en selfs 'n padda het al by my waterbak 'n draai kom maak. Ons vertel weer meer 'n volgende keer.  

Monday 1 September 2014

Dis Heerlike...Herfs

Vandag sou ek terug in Suid-Afrika mense groet met 'n 'Gelukkige Lentedag', maar hier in Engeland is dit natuurlik vandag die begin van Herfs. Soos elke seisoen aanbreek, dink ek by myself dat ek eintlik die meeste van 'hierdie' seisoen hou. 

Met die begin van Winter sien ek so baie uit na die moontlikheid van sneeu en al die lekker rondlê. Wanneer Lente kom is ek weer moeg vir die lang winter en sien ek so baie uit na al die pragtige blomme wat oral opspring en die warmer weer. In Somer is my tuin vol groente en vat ek enige kans om in die see te gaan swem en in die son rond te stap. 

Ek kan nie onthou dat ek ooit veel gehou het van Herfs in Suid-Afrika nie, maar hier in Engeland is dit vir my spesiaal. Baie maal is die einde van die Somer maar nat en glad nie so lekker nie (soos hierdie jaar ook die geval was), maar dan word jy verras met 'n warm begin aan die herfs en is September een van die mooiste maande met sulke oop blou, windstil dae. Alhoewel dit al hoe kouer raak, raak die lug net al hoe blouer. In die lande staan alles ryp en gereed om in te bring vir die winter. Langs die paaie wat ek stap staan die appel- en peerbome vol ryp vrugte en die bosse vol bessies. My grasperk is op sy mooiste groen en my tamaties is bloedrooi. Mens voel hoe jy vanself rustiger raak en stilstaan om die wereld te bekyk.

Hierdie laaste twee paragrawe van Edgar Albert Guest se 'It's September', som so mooi op hoe ek voel:

It's September, and a calmness and a sweetness seem to fall 
Over everything that's living, just as though it hears the call 
Of Old Winter, trudging slowly, with his pack of ice and snow, 
In the distance over yonder, and it somehow seems as though 
Every tiny little blossom wants to look its very best 
When the frost shall bite its petals and it droops away to rest. 

It's September! It's the fullness and the ripeness of the year; 
All the work of earth is finished, or the final tasks are near, 
But there is no doleful wailing; every living thing that grows, 
For the end that is approaching wears the finest garb it knows. 
And I pray that I may proudly hold my head up high and smile 
When I come to my September in the golden afterwhile 


Monday 14 July 2014

Skotland - Deel 1

In Junie het ons die kar gepak en reguit deur Skotland toe gery. Dit het ons oor die 12ure geneem en ons het beurte gevat om die 1,000km te ry. Gelukkig was baie van die rit mooi en het ons lekker padkos gehad. Ons het 'n week lank in 'n huisie naby Loch Ness gebly, en elke dag van die oggend tot die aand rondgery (met 'n ernstige vol piekniek mandjie en 'n groot fles koffie of tee) om so veel as moontlik te sien. 

Vooraf het ons Lonely Planet Scotland aangeskaf en ek sal dit werklik aanbeveel vir enige iemand wat Skotland wil aanpak. Meeste mense sal jou ook waarsku teen die Skotse Midges - hulle is soos miniatuur muskiete en sak gewoonlik op mense toe in 'n wolk en byt baie seer. Ek het vir ons Smidge gekoop om die gedoentes af te weer, maar gevind dat Avon se Skin so Soft die heel beste werk. Skin so Soft is nie werklik 'n insekweerder nie, maar werk so goed dat die Skotse bosbou bedryf die goed by die wavrag aanry vir hulle bosbouers. Ek het baie lig onder die insekte deurgeloop, maar manlief het baie swaar gekry en ek moes selfs 'n bosluis verwyder.

Dag 1 - 'n Stukkie van die Cairngorms


Op die eerste dag wou ons 'n bietjie van die Cairngorms sien en het vanaf Drumnadrochit na Spean Bridge en toe op na Aviemore gery. Ons het 'n paar afdraaie gevat en sommer baie gesien. Een van ons eerste stoppe was by Glen Roy, 'n Ystydperk landskap. Ons het ook die Well of Lecht en Dulcie Bridge verken. Al drie die plekke het ons sommer per toeval ontdek en daar was geen mense of ander toeriste om ons te versteur nie.


Dag 2 - Die Applecross Skiereiland - Wester Ross


Op ons tweede dag het ons Wester Ross (in die Noord-Wes Hooglande van Skotland) verken, met die Applecross Skiereiland as ons hoofbestemming. Daar is slegs twee paaie soontoe en die vistas padlangs is absoluut asemrowend. Op een punt het ons so 'n steil pas uitgeklim, dat dit glad gevoel het of ons in die wolke ingery het. In die verte, deur die mis, het ek herte sien wei en oral het mense cairns (klip stapels) gepak. Ons het so baie gestop, dit is 'n wonderwerk dat ons iewers uitgekom het. Ek was net dankbaar vir al die kos wat ons saamgery het, dit het ons werklik aan die gang gehou. 


Oppad soontoe het ons ook deur die Five Sisters of Kintail gery. Dit is 'n pad wat ons goed leer ken het gedurende ons tydjie daar en elke keer wat ons daar deurgery het moes ons net stop omdat dit so mooi is. 

Oral ry mens verby die mooiste lochs en berge. Aan die begin het ek moeite gedoen om die lochs en berge se name te leer ken, maar daar was net te veel. Skotland beslaan 'n derde van Brittanje se vasteland oppervlak. Dit bevat 80% van Brittanje se kuslyn en 90% van Brittanje se vars oppervlak water, maar slegs 10% van die Britse populasie. Dit gee vir mens 'n goeie idee van hoe wyd en uitgestrek en ongerep Skotland werklik is. Op sommige van die paaie het ons geen mense raakgeloop nie, slegs skape.

Dag 3 - Isle of Skye


Die Isle of Skye is soos 'n wonder wereld en ek kon nie glo dat so 'n klein eiland soveel skoonheid kon bevat nie. Die mense wat daar woon is werklik bevoorreg. 

Die Mealt Waterval moet nie misgeloop word nie - dit val 300m oor steil hange in die see in. Ongelukkig is daar baie toeriste hier - die hele eiland is nogal bedrywig - en as ons meer tyd gehad het, sou ons graag 'n stap roete wou volg om die waterval beter te bekyk. Die kuslyn daar is baie indrukwekkend met die styl kranse en groen hange. Die see is soos 'n spieel en die vasteland 'n grys-blou waas aan die anderkant.

Verder op in die eiland het ons toevallig op 'n pad gery wat ons deur die Quiraing berge geneem het - dit is van die mooiste berge waardeur ek al gery het en ons het sommer daar gestop vir 'n lekker lang piekniek tussen die skape en kranse. 

Ongelukkig was die Old Man of Storr toe onder die mis en moet ons dit maar 'n volgende keer gaan kyk - ek sal beslis nie omgee om 'n hele vakansie net op Skye te gaan bly nie. 


Ons het oor die 1,000 fotos geneem en baie rond gery in die sewe dae wat ons daar was - ek skryf dus weer 'n volgende keer verder. 

Tuesday 1 July 2014

Beskuit en beplanning

Ek is nie lekker seker wat van Junie geword het nie...toe ek laas gekyk het was dit iewers in Mei en toe gaan ons Skotland toe en nou is dit Julie...so verskoon maar dat ek so lanklaas enige iets geskryf het. 

Skotland was 'n reuse lekker avontuur (al was Mr. Kaalvoet deur 'n bosluis gebyt) en ek hoop ons gaan sommer gou weer soontoe. Ons het oor die 2,500 myl gery - dit is oor die 4,000km - en elke dag was net 'n belewenis. Ek het vooraf voorbereiding deur baie navorsing te doen oor Skotse muggies, beskuit te bak, wortelslaai en tunaslaai  en ander padkos te maak en aan maniere  te werk om my groente tuin nat te hou in ons afwesigheid. 

Ek was meestal bekommerd oor die tuin. Dinge het net mooi op die punt gestaan om te begin vrugte lewer en ek kon nie bekostig dat die plante uitdroog nie. 

Aanvanklik het ek wynbottels vol water onderstebo in die grond gedruk, maar dit het nie baie goed gewerk nie en het ons soos alkoholiste laat lyk. Ek het ook plastiekbottels met klein gaatjies in langs die plante begrawe, maar die water het relatief vinnig uitgeloop en sou nie 'n week hou nie. 

Uiteindelik het ek net 'n paar bitter klein gaatjies in een sy van 'n plastiek bottel gemaak en dit vol water getap, toegedraai en die bottel op sy sy laat lê naby die plante. Dit het soos 'n bom gewerk en die plante net mooi nat genoeg gehou om die week te oorleef. Nou het ek skorsies en mange tout en murgpampoentjies en alles lyk baie mooi.

Buiten Niknaks, Biltong en Droëwors, is geen vakansie 'n vakansie sonder beskuit nie. Ek wou my gewone beskuit gebak het vir ons trippie, maar het die afgelope tyd so 'n hunkering na semel beskuit gehad. Eers moes ek 'n bietjie met my Ma gesels oor semels en hoe dit nou weer lyk, want ek was nie seker wat ek die kant moes koop om seker te maak ek het die regte ding nie. Gelukkig het ek toe reeds die regte ding in my kas, so daar was geen probleem nie. 

Die resep is een wat my Ma vir my gegee het. Ek het hom al wel op die internet gesien, so dit is nie juis 'n geheim nie. In teenstelling met my gewone resep vol allerhande bestandele is hierdie resep wonderlik eenvoudig en rerig baie lekker. Ek dink ek het dalk vanilla essence bygegooi, maar anders geen verandering gemaak nie. Aangesien die volle resep 'n liter room gebruik, het ek die resep halveer, want alhoewel die verhoudings dieselfde bly, kon ek dit nie oor my hart kry om 'n liter room in enige iets te gooi nie.

Semel Beskuit Resep

500g Bruismeel
250ml Suiker
4k Semels
2.5ml Sout

250g Botter
500ml Room

Meng eers die droe bestandele saam en frummel dan die botter in. Gooi room by en meng - ek het sommer my hande gebruik. Druk plat in 'n gesmeerde pan en bak teen 180grade vir 40minute. Sny of breek in stukkies en droog teen 100grade tot droog.

Die beskuit is heerlik! Ek sal nog fotos opsit van ons vakansie en meer vertel, maar ons het vreeslik baie fotos geneem, so ons moet eers 'n bietjie daaraan werk. Miskien moet ek eers vir my 'n koppie tee gaan maak...en 'n stukkie beskuit eet.

Friday 16 May 2014

Op die pad - Deel 1

Hierdie jaar beplan ons om 'n bietjie weer die pad te vat - ons is baie lief vir rondry. Ons het soveel lekker herinneringe van al ons vakansies hier in Engeland en oorsee - ek was nog altyd spyt dat ek nie vroeer 'n blog begin het om van die mooi wat ons al gesien het te deel nie. 

In 2006 het ons 'n Medieval Mayhem Bus Tour gedoen wat rerig lekker was - op na York, uit in die Yorkshire Dales en weer terug deur Nottingham en Sherwood Forrest. York is 'n ommuurde stad, gevestig waar die Ouse en die Foss saamvloei in die Noorde van Engeland. Die plek loop oor van geskiedkundige besienswaardighede. Die indrukwekkende York Minster is die tweede grootste gotiese katedraal in Noord Europa en 'n baie indrukwekkende plek. The Shambles moet ook nie misgeloop word nie. Dit is 'n area vol skewe huisies, klein markies en interesante winkels wat jou laat voel of jy terug is in die middeleeue. 


Op die toer het ons ook uitgery na Bolton Kasteel - wat net vir die toergroepie oop was en waar ons 'n egte middeleeuse fees gehad het, 'n skattejag in die donker met kerse en ook 'n spooktoer - met stories oor die spook van Marie Queen of Scots en Black Shuck, die gerugte swart spook hond. Terug huistoe het ons onder andere by die oudste pub in Engeland aangegaan, Ye Olde Trip to Jerusalem (1189AD) en die mees geliefste boom in Brittanje, The Major Oak in Sherwood Forrest, wat oor die 800 jaar oud is en meer as 23 ton weeg.

Nader aan ons huisie is Stonehenge of Avebury 'n lekker dag-uitstappie. Ons was 'n hele paar keer by byde. Onder normale omstandighede kan jy nie naby Stonehenge kom nie en kan jy slegs al om dit stap op 'n afstand, maar op die Somer en Winter sonkeerpunt word daar elke jaar groot feeste gehou, waar die klippe heeltemal oop is. Die Somer sonkeerpunt fees is baie rumoerig, met derduisende mense, harde musiek, dromme en mense wat oral dans, terwyl die Winter sonkeerpunt 'n baie bedaarde affêre is met mense wat in die koue donker van die diepste Winter in stilte op die sonsopkoms staan en wag. 


Avebury is vir my soms meer indrukwekkend as Stonehenge. Nie net is daar drie klip sirkels nie, maar dit bevat ook die grootste neolitiese klip sirkel in Europa. Wanneer jy die klippe, mensgemaakte heuwels en slote sien, besef jy dat die plek eens op 'n tyd vir mense baie spesiaal was.  

Vir my 25ste verjaarsdag het ek en manlief 'n removal van gehuur, 'n matras agter in gegooi en 'n 1,000 myl deur Wallis gery. Ons het eers tot in die middel gery en toe deur plase, strome en skaaptroppe gery tot in die Noorde en toe al langs die kus af terug. Daar is soveel mooi daar, dat ek nooit genoeg daarvan sal kan kry nie en dat fotos dit nie net nie kan uitbeeld nie.


Terug op Noord, is dit beslis die moeite werd om tyd te vat om deur die Peak District, die Lake District, die Yorkshire Dales en die North Yorkshire Moors te ry. Die Peak District vorm die suidelike einde van die Pennines. Ten spyte van sy naam, is daar nie juis skerp pieke nie, en word dit eerder gekenmerk deur heuwels en platorande ("The Edges"). Die Lake District doen sy naam baie meer gestand, met 14 hoof watermassas en 'n groot aantal ander kleiner watermassas oral te vinde in hierdie indrukwende bergagtige landskap. Snaaks genoeg is daar net een wat werklik 'n 'lake' genoeg word, Bassenthwaite Lake, terwyl die res onder andere 'mere' of 'waters' is. Die Yorkshire Dales is 'n hoogland gebied in Noord Engeland deurkruis met talle riviere en valleie terwyl die Yorkshire Moors die grootste uitspansel van heide velde in die land is. Die Moors was vir my veral baie besonders - die heide het vir myle, donker pers, in die digte mis van herfs gestaan. Dit alles het ons in 2008 platgery en ek hoop om van dit weer hierdie jaar te sien. 


Tenspyte van al ons rondry is daar nog baie wat ons nie gesien het nie en ek kan nie wag om weer in die pad te val en saam iets nuuts te gaan ontdek.

Thursday 15 May 2014

Ai die ongeduld!

Hierdie tyd van die jaar is ek altyd so ongeduldig om vordering in my groente tuin te sien. Dan, as dit nog heeltyd reen en die son skaars kop uitsteek, raak ek sommer baie ongelukkig. Die reen spaar my nou wel plante natgooi, maar as hulle nie genoeg son kry nie gaan hulle nie groei nie. Maar ek moet maar net vasbyt. Elke jaar dan dink ek alles gaan nou skeefloop en niks gaan reg uitwerk nie, maar dan is al die worry gewoonlik vir niks. Vandag skyn die son wel heerlik - die Britse weer is so wispulturig. 


Buite in die tuin het ek nou drie skorsie plantjies, waarvan een darm mooi vorder en selfs al 'n blom gemaak het. My mielies toon ook nou stadig groei en ek hoop hulle vaar beter as laas jaar. My aarbeie van verlede jaar het die winter buite ook goed oorleef en ek het selfs twee aarbei plante ontdek in 'n bedding waar ek hulle nie geplant het nie - ongelooflik. Laasjaar het ek ook die onderpunte van 'n klomp pruie en groenuie wat ek vir kosmaak gebruik het in die grond gedruk. Hulle het almal keer op keer opgekom. As ek daarvan nodig het, gaan knip ek net af en dan groei dit weer uit soos gras - ek sal skaars nodig hê om dit weer te koop. Die staan nog almal buite en is so gelukkig dat hulle nou selfs begin blomme gemaak het - nie so goed vir die eet nie, maar ek gun hulle 'n kansie om te blom. My Franse Boontjies kom ook mooi aan en ek dink ek het selfs een of twee miniatuur boontjies aan die groei.


In die huis het ek nou 'n lekker gesonde blaarslaai oes op die sitkamer vensterbank saam met 'n bakkie groenuie wat ek gesaai het. Op die slaapkamer vensterbank staan daar weer tamaties, blauhilde boontjies (wat veronderstel is om 'n donker pers boontjie te maak) en murgpampoentjies wat wag vir 'n plekkie buite. Die blauhilde's het sopas kop uitgesteek - letterlik, gisteraand was daar niks en vanoggend is hulle skielik daar. As ek lank na hulle kyk kan ek sweer ek sien hoe hulle groei. Ek kan nie wag om hulle buite te sien rank nie - maar dit sal seker nog 'n tydjie vat voor hulle by daardie stadium uitkom.

Plek plek het ek ook gewone beet wat opkom en ek het ook 'n bietjie spinasiebeet gesaai en basieliekruid. Ek het nogal 'n geneigdheid om my basieliekruid te verdrink, maar ek probeer maar weer hiedie jaar. Hierdie is die eerste keer wat ek spinasiebeet (chard) groei en ek is nogal opgewonde oor hierdie variëteit - 'brightlights' se stele is helderkleurig en as ek gelukkig is behoort hulle in allerhande kleure op te kom. Ons sal maar sien hoe hulle vorder. 

So nee, ek kan seker nie kla nie, ek is maar bloot ongeduldig!

Wednesday 14 May 2014

Tyd vir 'n stukkie Kaasbrood

Man, soms het ek net nie tyd vir al daardie deegknie besigheid nie...en soms is ek net lus vir 'n lekker stukkie warm kaasbrood met botter. 

Hierdie week het ek op 'n lekker vinnige Kaasbrood Resep afgekom op Allrecipes.com - en met 'n bietjie aanpassing is hy sommer nog beter. Ek moet jou wel waarsku om nie soos ons net vinnig daaraan te wil proe nie - helfte van die brood later, was die proe gans te lekker en toe was die brood amper op. Ek dink dit sal veral lekker wees saam met braaivleis en goeie vriende.

Kaasbrood Resep

1 3/4 koppies gewone meel (ek het 1 1/2 koppies meel en 1/4 koppie semels gebruik)
2 eetlepels bruin suiker
2 1/2 teelepels bakpoeier
3/4 teelepel sout
rooipeper, paprika en gemengde kruie na smaak
1 koppie sterk kaas

1 eier
3/4 koppie melk
1/3 koppie olyf olie (of gewone olie as jy nie het nie - moet nie extra virgin olyf olie gebruik nie, dit sal tien teen een die smaak affekteer en 'n mors van goeie olie wees)

Voorverhit die oond tot 180grade en smeer 'n klein broodpannetjie met botter. 

Meng eers die droë en dan die nat bestandele apart en meng dit dan alles saam. 

Ek het sommer ook 'n paar oorskiet sonneblomsade, pampoen- en dennepitte bygegooi vir tekstuur en 'n klein bietjie van die meel verruil vir semels (wheatbran) - omdat dit goed is vir die spysvertering. 

Die oorspronklike resep het ook veel meer suiker in, maar ek sien nie die punt nie en het dit dus verminder. Dit het ook nie enige speserye of kruie bevat nie - wat ek net dink stupid is en ek het dus rooipeper (net 'n titsel), paprika en gemengde kruie bygevoeg om ekstra smaak te verleen aan die kaas. 

Skep die mengsel in die pannetjie en bak vir 35minute tot gaar. Keer uit op 'n droograk om af te koel - as jy kan uithou - en eet dan saam met botter en mense vir wie jy omgee - want jy gaan dit nie met enige iemand anders wil deel nie...of miskien is dit net ek. 

Ek dink ek gaan sommer nou die laaste twee snytjie eet...

Tuesday 13 May 2014

So brand die Wickerman

Toe ons na ons onlangse uitstappie in die South Downs uitvind van 'n Beltane (of Beltain) fees in die omgewing aan die begin van Mei, het ons besluit om 'n draai te gaan gooi om te kyk hoe die Wickerman brand. 

Beltane is 'n tradisionele Galliese vuur fees wat gevier word halfpad tussen die Lente ewening en die Somer sonkeerpunt. Dit vier die koms van die Somer met die hoop op 'n vrugbare jaar. Dit was 'n tyd vir paartjies om bymekaar te kom en ook om die kudde uit die kraal te kry. 

Die vuur was geag as reinigend, suiwer en mense het geglo dat dit vrugbaarheid sou verhoog. Die kudde is dikwels tussen twee vure gejaag om hulle te suiwer en hul vrugbaarheid te verhoog en paartjies het ook saam oor die vure gespring. 

Deesdae beleef dit 'n herlewing as 'n tyd vir gemeenskappe om saam te kom, die koms van die Somer te vier, hulle wense vir die toekoms uit te spreek, en sommer net na goeie musiek te luister en lekker kos te eet. 

Butser Ancient Farm is 'n baie goeie plek om die fees te hou en jaar na jaar kom die mense in al groter hoeveelhede terug hierheen. Butser's is 'n argeologiese eksperimentele navorsings projek waar die leefwyses van die verlede na die hede gebring word deur konstruksie van ystertydperk geboue, gebaseer op werklike plekke, geskep met tradisionele metodes, asook die verbouing van antieke oeste en die aanhou en teling van rare plaasdiere. Hier kan jy sien en leer hoe mense in daardie tye geleef en dinge gedoen het.  


Die feestelikhede het net voor 17:00 begin, na ons almal soos pilgrims deur die raap lande gestap het om daar uit te kom. Gesinne met blomme in hulle hare het oral op piekniek komberse ontspan, kos geeet en geluister na die lekker musiek. Eenkant was daar twee varke aan die spit en oral het hulle heerlike kos en interesante stalletjies gehad. Later het hulle klokkies, dromme en tamboeryne aan die kinders uitgedeel wat toe tussen almal rondgedans het, die grootmense was binnekort ook op hulle voete en later was ons almal aan die dans tot die son ondergegaan het. 

Eenkant op 'n klein heuwel het die Wickerman gestaan en kyk hoe ons partytjie - oor die tien meter hoog en gestop vol strooi. Vooraf het mense wense op stukkies papier geskryf en dit oral oor hom vasgemaak. In die skemer het ons nader gestaan om te kyk hoe die Wickerman brand.  


Die aand was windstil en oop en die flamme het ongelooflik hoog gestaan met wolke gloeinde as wat die hoogtes ingeskiet het. Dit was werklik iets besonders met 'n heerlike gevoel van samesyn.


Wednesday 30 April 2014

Perfekte Pekanneut Tert

Vrydag het 'n goeie vriendin, haar dogter en haar hond vir my kom kuier vir 'n lekker middag tee'tjie. Sy is oorsprongklik vanaf Texas en dus ook 'n bietjie ver van die huis af. Ons gesels altyd lekker saam oor alles wat ons mis - meestal ons ouers, die lekker weer en natuurlik al die lekker kos. Ek het dus onder andere besluit om haar te bederf met 'n lekker tuisgemaakte Pekanneut Tert - die mense van Texas is baie lief daarvoor. 

Die geheim van 'n lekker Pekanneut Tert is blykbaar dat jy hom so bietjie moet onderbak - die tert moet nog so effens wobble in die middel as jy hom uit die oond uit haal - dit sal wel stol soos dit afkoel. Bak hom tot hy hard is, dan sit jy met 'n taai tert - jy sal dit steeds kan eet en ek dink dit sal steeds lekker wees, maar nie soos dit hoort nie. 

Ek was heel trots op my eerste probeerslag en aangesien dit die goedkeuring van 'n egte Texan gekry het (en van haar dogter, haar hond en my man), deel ek graag die resep wat ek gevind het op D'oh!-I-Y. Ek het nou wel nie rerig my stroop presies afgemeet nie (want ek dink dit is basies onmoontlik om stroop te meet en dan nog al die stroop wat jy gemeet het weer uit jou maatkoppie te kry - so ek het sommer so lekker rofweg geskat) en ek het ook nie heeltemal so baie suiker gebruik nie (en van die witsuiker vir sagte bruinsuiker verruil), maar die 'bak feetjies' het op my geglimlag en gesorg dat alles tog goed uitgedraai het.

Amerikaanse Pekanneut Tert Resep

  • Ongebakte broskorsdeeg (jou eie resep of gekoop) 
  • 186 g pekanneut helftes 
  • 113 g strooisuiker 
  • 236 ml goue stroop 
  • 60 ml ingedampte melk 
  • 3 eiers, geklits 
  • 10 ml (2 teelepels) vanielje 
  • 11 g (3 eetlepels) meel 
  • knippie sout 
  • 56 g gesmelte botter 
Voer 'n tertbak met die deeg uit en laat dit solank rus terwyl jy die res van die resep aanmaak - moet nie die deeg vooraf bak nie. As jy nie jou eie deeg resep het nie, het ek hier 'n resep op my blog - Flukse Naweek - wat behoort te werk..of vat die maklike pad en gaan koop 'n goeie kwaliteit klaargemaakte rol deeg. Wat kan nou makliker wees?

Kap ongeveer 2/3 van die pekanneute, laat die res heel. Plaas al die pekanneute in die bodem van die tert - ek strooi eerste die gekaptes onder en plaas dan die heel neute bo-op. Volgende keer gaan ek sommer nog ekstra neute insit, want dit is net te lekker.

Meng die geklitste eiers met die suiker en gouestroop, en voeg dan al die oorblywende bestanddele by. Voeg die gesmelte botter laaste by. Meng tot eenvormig en gooi dan bo-oor die pekanneute. 

Plaas in die oond en bak teen 175C vir 50-60 minute. Ek het die tert hier teen 40 minute begin dophou en dit toe toegemaak met 'n stukkie foelie om te keer dat die neute en suiker nie te donker raak nie. Ek het nie my tert langer as 50 minute gebak nie, maar alles sal afhang van jou eie oond.

Ek kan dit werkliklik aanbeveel met 'n lekker koppie koffie of tee en dalk selfs 'n skeppie roomys as jy hom warm bedien. Geniet!

Monday 28 April 2014

Vinnig Frankryk toe

Met manlief wat 'n onverwagste dag af het en die Britse weer wat nie wil saamspeel nie, het ons besluit om sommer vinnig vir die dag deur Frankryk toe te ry. Teen £30 retoer op die ferry van Dover na Calais (met 6 bottels rooiwyn verniet ingesluit), is dit sommer heel billik. 

Ons het sommer vroeg vertrek en lekker op die ferry piekniek gehou en uitgespan. Daar aangeland het ons die pad kuslangs afgery en eers by Cap Gris Nez (letterlik Grys Neus Kaap) aangegaan. Dit is die naaste punt aan Engeland, met Dover net oor die 34km weg oor die waters. Op 'n helder dag behoort mens die White Cliffs te kan sien - maar nie vandag nie.


Die hele kus in daardie omgewing is pragtig en het die lieflikste staproetes met verniet parkeer plek. Ek dink ons gaan nog sommer baie daar rondloop. Die mense op die voetpaadjies was almal so vriendelik en ons het 'n paar intersante goggas en gedoentes ook daar raak geloop. 


Verder af, het ons ook 'n draai gaan gooi by die pragtige ommuurde dorp van Montreuil-Sur-Mer. Ongelukkig was die winkeltjies vandag almal toe, maar dit sal beslis 'n heerlik dag uitstappie maak met sy mooi geplaveide straatjies en sjarmante Franse argitektuur. 


Oral het die lande groen en goud gestaan en ons het die plek plat gery in die paar ure wat ons daar deurgebring het.


Ongelukkig kan mens nie in 'n paar ure so veel gesien kry nie, maar met die goedkoop ferry pryse en die redelike afstand, glo ek ons sal nog baie oorpop vir 'n vinnige besoekie. Volgende keer vat ek vir my 'n koelsak saam en stop dit propvol heerlike Franse kase en koue vleis.