Thursday 23 May 2013

Muffins is mos lekker

Ek onthou nog die eerste keer wat ek 'n muffin gesien het, dit was bruin en vol rosyne...dit was gesond. So vir 'n tyd lank het ek gedink muffins is net vir mense wat meusli eet en ek was destyds nie iemand wat meusli geëet het nie. Nou eet ek sommer baie meusli en sommer 'n hoop ander dinge waaraan ek my mond nie as kind sou gesit het nie. Maar...ek is steeds nie altyd so lief of lus vir die idee van gesonde dinge nie. Veral nie op 'n vakansie dag nie.
 
Maandag het ek en Juan alby afgevat by die werk, om saam 'n lekker langnaweek te maak. Wat is dan nou lekkerder as laat slaap en 'n laat ontbyt in die bed, terwyl jy eintlik by die werk moes gewees het. Ek word dus toe wakker met die idee van lekker kaas muffins met botter (en nog kaas), warm in die bed.
 
Kaas en Sprietuie Muffins
 
175g meel met 'n teelepel bakpoeier 'n kwart teelepel koeksoda
50ml melk
1 eier
90ml olyf olie
'n knippie sout
 
'n groot hand vol gerasperde kaas
2 opgesnyde sprietuie 
'n paar blokkies feta
 
Meng al die droë en nat bestandele apart saam en voeg dan saam tot 'n beslag. Gooi dan jou kase, sprietuie en enige speserye by na smaak. Ek hou van 'n klein sku'tjie rooi peper en 'n bietjie paprika.
 
Ek het ook sommer 'n paar dennepitte bygegooi. Basies kan jy sommer enige ding by gooi waarvoor jy lus is. Volgende keer mag ek selfs 'n paar mielies insit.
 
Vul gesmeerde muffin houertjies driekwart en bak vir 25 minute teen 180 grade.

Bedien warm, met botter, verkieslik in die bed met 'n lekker sterk koppie koffie (wat jou man vir jou gemaak het omdat hy so dankbaar is vir warm kaas muffins in die bed).
 
 
...maak seker jy het Rennies vir later, as jy soos ek nie kon ophou eet nie...
 
Top Tip - gaan plant jou sprietui punte (die wortel gedeelte wat oorbly na jy hulle opgechop het) in die tuin of steek hulle sommer in 'n glasie water in jou kombuis. Hulle sal weer uitgroei en dan sal jy, soos ek, die heeltyd moet sprietuie in al jou resepte inwerk. Besonders lekker in frikkadelle! Hier is een wat ek 'n dag of twee terug tussen my jong bete ingedruk het - en kyk, hy maak klaar 'n klein groen puntjie.
 
 

No comments:

Post a Comment