Monday 20 May 2013

Verlange na Sonskyn

Vannaand vir die eerste keer in 'n hele paar aande, kon ons gaan vir 'n stappie. Die lug was rustig en warm en die vroeë aand son (hier net na ag uur) het so geel en skyns oor alles geskyn. Perkfek vir 'n lui lekker stappie. Ons het selfs 'n Red Kite gesien, wat 'n redelik skaars roofvoël is. Oral was tekens van Lente, met bloeisels wat bot in die bome in die strate. Pragtig! As ek eendag die spasie het, wil ek so graag 'n kersie boom hê, al is dit dan net vir die bloeisels. 


Dit laat jou sommer maklik vergeet dat die wind ons die afgelope week of twee amper uitmekaar gewaai het. Laas week het ek in 'n vergadering gesit waarvan ek sweerlik nie 'n woord gehoor het nie. Buite kon ek sien hoe die bome glad skuins staan van die wind en orals was daar stof duiwels met blare en sakke wat wild rondwaai en mense wat so leun teen die wind. Ek kon nie vinnig genoeg by die huis kom na werk nie. Meeste van die plante was regop, alhoewel hulle baie bedremmeld gelyk het, maar my arme tamatie plantjies was glad plat met die aarde. Ek het haastig in die sterk wind 'n skermpie probeer opslaan, wat darm vir die ergste gehelp het, en Juan het intussen dinge verder versterk.


Die wind kom steeds op en die son wil net nie heeltemal lekker skyn nie - die dae is net grys en half bedruk, maar nie warm nie. Elke dag voorspel hulle reën wat net nooit heeltemal te voorskyn kom nie en laas week het dit selfs op plekke nog gesneeu - gelukkig nie by ons nie. Maar ten spyte van dit alles, groei my plantjies stadig maar seker en elke dag is daar effens vordering.

 
My murgpampoentjies maak nou blomme - ongelukkig net mannetjie blomme sover - asook my klein komkommer plantjie. My aarbei plantjie het ook tentatief begin bloeisels wys en laat my hoop op heerlike rooi vruggies in die toekoms. Verder het ek ook nog nie weer onlangs 'n ruspe tee gekom nie - hopelik het hulle sommer weggewaai - en ek bly gespaar van slakke.


Ek verlang net na lekker lang warm dae en rondsit op die gras.

No comments:

Post a Comment