Thursday 30 May 2013

Nooit genoeg Gnocchi

Voor ek Engeland toe gekom het, het ek nog nooit gehoor van Gnocchi nie. Nou is dit een van my gunsteling kits aandetes. Gnocchi is ’n pasta vir aartappel liefhebbers – gewoonlik gemaak van aartappels, meel en eier en gevorm in klein balletjies. Die eerste keer wat ek dit probeer het, is kort na ek en Juan getroud is, in ‘n klein Italiaanse winkel in Raynes Park. Ek het vir die man by die toonbank gesê ek wil iets nuuts probeer en gevra wat hy sou voorstel. Hy het my ‘n pak gnocchi en ‘n dun skyfie sterk gorgonzola kaas in die hand gestop en verduidelik hoe die gnocchi net 3 minute in gesoute water gekook word en dan bedek kan word met ‘n kaassous, gemaak van gesmelte gorgonzola gemeng met room. Gesond was dit nie, maar lekker...shoe, sommer baie bevredigend.

Sedertdien het ek al baie gnocchi geeet; gnocchi met bloukaas, gnocchi met roomspinasie en selfs een keer gnocchi met bacon, piesang en kaas. En dit is altyd lekker. Onlangs het ek gewonder of ek my eie gnocchi met die hand kan maak, met iets anders eerder as aartappel. So het ek laas week patat gnocchi aangepak. Dit het rerig lekker uitgekom – verbasend genoeg. Die enigste verandering wat ek sou maak, is om my balletjies volgende keer kleiner te maak, want ek het nie in aggeneem dat die water dit effens sou laat swell nie.

Patat is aansienlik gesonder as aartappels en bevat hope gesondheids voordele. Hulle is hoog in vitamiene B6 en 'n goeie bron van vitamiene C. Hulle bevat ook yster wat 'n baie belangrik rol speel, insluitende rooi en wit bloed sel produksie, weerstand teen stres en behoorlike immuun funksionering. Patat bevat ook vitamiene D (kritiek vir jou immuunstelsel) en Magnesium (beveg stres en bevorder ontspanning).
 
Daar is sekerlik resepte op die internet, maar ek het sommer op gevoel gegaan en as jy eendag lus het om ‘n reuse gemors in jou kombuis te maak, probeer dit gerus.

Patat Gnocchi
1 Groot Patat
1 Eiergeel
1 – 2 Koppies meel

Bak die patat vooraf in die oond tot sag en laat afkoel. Verwerk tot sag en meng die eiergeel goed deur. Voeg dan stadig maar seker die meel by totdat dit 'n bewerkbare deeg vorm. Die idee is om ‘n klam deeg te maak wat jy met die hand kan bewerk, maar hoe minder meel jy byvoeg, hoe beter sal jou gnocchi smaak. Dit sal afhang van die grote van jou patat en hoe waterig hy was om mee te begin. Deel die deeg in vier balle en rol op 'n melerige oppervlak in lang wurms uit, sny dan in klein blokkies en rol tot ovaal balletjies met melerige hande (ek het myne sommer blokkies gelos, maar dit lyk nie so mooi nie). Plaas op ‘n gemeelde plaat en bêre in die yskas tot jy gereed is om dit te gebruik.
Ek het ‘n bacon roomspinasie sous gemaak om saam met dit te bedien en toe die sous gereed was, het ek die gnocchi vir ‘n paar minute in gesoute water gekook. Jy is veronderstel om te wag dat die gnocchi begin dryf, maar dit sal ‘n fout wees om dit te oorkook. Ek het dit dus nie vir langer as vyf minute gekook nie.

Die mengsel lyk seker nie na die mooiste bord kos wat ek al ooit geëet het nie, maar dit was baie lekker en baie bevredigend.

Ons praat eerder nie oor hoe vuil ek die kombuis en die voedselverwerker gemaak het of hoe lank dit my geneem het om die taai deeg van my hande af te was nie.

2 comments:

  1. Kan mens gnocchi in enige ander geregte gebruik?
    Dankie
    Anne

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Anne,

      Ons eet gewoonlik gnocchi met eerder 'n kaassous of 'n bietjie basilie-pesto en tamaties, maar ek het dit al in restaurante gesien as gebakte disse soos bolognese. Hierdie resep (http://www.bbcgoodfood.com/recipes/4594/tomato-spinach-and-mascarpone-gnocchi) lyk so lekker ek wil dit sommer self binnekort probeer.

      Mooi bly en dankie vir die inloer op my blog.

      Delete