Saturday 8 June 2013

Ongerepte Wallis

Sondag het Juan my verras met met 'n kort vakansie in Wallis. Ek het geen idee gehad waarheen ons oppad was nie, en hy het spesiaal 'n ompad gery om daar uit te kom, want hy weet hoe goed ken ek die pad soontoe - dit is my gunsteling plek in Groot Brittanje. As ek vir Engelse mense vertel hoe mal ek is oor Wallis, is hulle altyd baie verbaas. Ek kan maar net aflei dat hulle nog nooit daar was nie.
 
 
Ons het deur pragtigste landskap gery en laat middag by die Ewenny Woods gastehuis, in die Vale of Glamorgan, in die Suide van Wallis opgedaag, waar Peter en sy baie besorgde hond ons baie welkom laat voel het. Vandaar was ons baie naby aan die 14 myl ongerepte kuslyn van die  Glamorgan Heritage Coast.  Vanaf steil kranse, lê die see soos 'n plat poel. Ons het ons voete deurgestap en heerlike pieniek gehou tussen die skape. Hierdie skape het seker van die beste uitsigte in die hele wye wereld.
 
 
Die kuslyn was sowat 200 miljoen jaar gelede gevorm toe Wallis (sowel as Cornwall, Brittany en Ierland) onder 'n warm, vlak, Ekwatoriale see gelê het, tydens die begin van die Jurassic era. Vandag kan jy die stratifikasie van oorvleuelende skalie, sandsteen en kalksteen sien wat veroorsaak was deur 'n geologiese omwenteling wat letterlik die kranse uit die see uit gestoot het en hulle verwronge so laat staan het.  
 
 
Ons roete tussen Ewenny en Ogmore-by-Sea het al langs die Ogmore rivier af gegaan en die murasie van die ou Ogmore kasteel is beslis iets om te gaan besoek. Dit is 'n besondere klein plekkie met min aanduiding vanaf die pad, dat dit heeltemal so spesiaal sal wees. Die perfekte plek vir 'n lekker piekniek tussen die nuuskierige perde wat daar woon.
 
 
En asof al hierdie kuier nie ongelooflik mooi en lekker was, het ons nog die pragtigste watervalle besoek oppad terug huistoe...maar meer oor dit volgende keer...
 

3 comments:

  1. Hi jul tweetjies, dis wonderlike mooi foto's. Dit lyk na 'n gesogte plek om te gaan. Ek sou ook van Wallis gehou het. Jul bevoorregte kinders :-)W

    ReplyDelete
  2. Dit is lieflik daar! Baie bevoorreg om daar te kan gaan kuier.

    ReplyDelete
  3. Ai wat sou ek en paps wou gee om dit saam met jul tweetjies te ervaar - onbeskryflik mooi - wat 'n voorreg het julle nie om so te kan wegbreek en sulke pragtige plekke te sien en te ervaar. Kan net mens se siel verkwik en dankbaar wees vir die voorreg.

    ReplyDelete