Sunday 24 February 2013

Nog veels te koud, so ons droom maar aan

Hier het die weer beslis 'n draai vir die erge geneem. Dit was die afgelope week so koud dat die fonteine in Trafalgar Square blykbaar gevries het. Daar val heeltyd flurries sneeu en my tone voel permanent soos ysblokkies. Die weerburoe voorspel die koue gaan nog 'n rukkie duur, so ek sal maar geduldig moet wag vir beter dae voor ek my dingetjies kan begin plant.

So met die geskenk van die wonderlike potte by die ashoop, het ek nou begin dink aan blomme..en kruie... My fokus is gewoonlik groente, maar laas jaar het ek darm twee pragtige sonneblomme gegroei asook 'n oorvloed van kappertjies en soet geurige sweet peas.


In my voortuin is daar ook 'n paar tulpe en daffodils...en dalk 'n lelie of twee as ek baie gelukkig is. Laas jaar het twee pragte donker rooi lelies opgekom en ek hoop om hulle hierdie jaar weer te sien. Gister het ek dus geswik vir 'n baie goedkoop (ek dink dit was 99p) sakkie bolle: Anemone, Irisse en sulke klein Tulpe. Sodra ek weer gevoel in my vingers en tone kry, prop ek hulle in die voortuin.


Vir die agtertuin het ek ander planne. Ek het 'n bietjie navorsing gedoen en besluit op 'High Scent' Sweet Peas die jaar - blykbaar die geurigste wat daar is. Verder beplan ek potte vol Kosmos en blommende Chives wat ek tussen my groente gaan plant - nie net is hulle eetbaar nie, maar hulle hou ook goggas weg.

Die kroon van my blomme die jaar, hoop ek om my 'Mongolian Giant' Sonneblomme te wees. Hierdie pragtige reuse gaan tien teen een my bure aan die praat he. Nie die bure langsaan nie, maar die bure bo ons, want hierdie blomme kan tot oor die 4m hoog groei en die blomkoppe is groter as 'n netbal. Ons sal maar sien wat daarvan gaan kom. My bestelling is geplaas - al die saad en aflewering slegs £3.76 - nou moet hulle net opdaag.

Verder doen ek hard navorsing oor kruie. Ek het klaar 'n paar kruie plante hier binne die huis, maar miskien kan ek 'n paar interessante kruie die jaar buite laat groei. Ai maar dit is lekker om te droom.

No comments:

Post a Comment