Thursday 21 February 2013

Een vrou se gemors...

..is 'n ander vrou se Appel Piesang Brood.

Die lieflike dames by my werk gooi gereeld goeie kos weg. Hulle koop eetgoed aan die begin van die week, los dit in hulle laai en hier by Donderdag of Vrydag besef hulle dat hulle nooit al daai appels, tamaties of naartjies betyds gaan eet nie. Die tweede keer toe ek iemand 'n dood goeie naartjie so opsy sien sit het vir die asblik, vra ek toe of ek dit maar kan neem vir my versapper - ja, ek weet ek klink soos 'n aasvoel, maar ek hou nie van kos mors nie. Nadese word elke liewe ou vrug eers vir my aangebied voor dit weggegooi word. Nou voel ek al so sleg oor al die verniet kos, dat toe ek eergister weer 'n sak appels aangebied word, besluit het om so ietsie terug te gee.

Hierdie is sommer so 'n half opgemaakte resep en die koekbrood is 'n bietjie dig, maar steeds lekker en dit voel darm nie vreeslik ongesond nie. Mens kan dit beslis ook maak met aansienlik minder suiker...

Appel Piesang Brood

150 g suiker (ek gebruik bruin)
85 g sagte botter
2 eiers
2 sagte piesangs
2 gerasperde appels (1 sal genoeg wees, maar ek het twee gehad)
250 g bruismeel en 'n hand vol oats
Kaneel & 'n Knippie Sout



Verroom die suiker en botter. Klop die eiers in en meng dan die vrugte by. Sit dan die meel, kaneel en sout by en meng. Gooi dan sommer 'n hand vol oats by, net om jou te verbeel dit is gesond. Sit in 'n gesmeerde broodpannetjie, strooi so 'n rytjie oats en suiker bo-oor en bak teen 180grade vir 40-50 minute. Myne was dalk nog langer in - toets hom maar met 'n stokkie tot dit skoon uitkom. Haal hom uit sy pannetjie en laat hom afkoel op 'n rakkie vir so 'n uur en eet net so.
Vandag sit ek by die werk en skielik praat almal oor kos en wil weet wanneer bring ek dan nou koek in. Toe kon ek met 'n groot glimlag hierdie te voorskyn bring - wat toe dubbel soveel pret is, want niemand kon glo hulle ou vrugte was daar in nie.

No comments:

Post a Comment