Saturday 16 February 2013

My ouers se kind

Vandag was 'n goeie voorbeeld van hoe ek 'n goeie mengsel van beide my ouers is. Dis nog gans te koud hier om saadjies te begin ontkiem, selfs binne, maar as die weer dit enigsins toelaat, is dit 'n goeie idee om maar stadig maar seker die tuin reg te kry vir die Lente wat kom.

Terug van die winkels af vanoggend, pak die gier my om gou die voorste tuin reg te ruk, dooie bosse te snoei en onkruid uit te trek. En ek pak dit natuurlik met groot ywer toe en doen dit ordentlik - nes my Ma. Klaar gewerk, sit ek met 'n groot sak goeters wat nou uit gegooi moet word. Dit is my Mams uit en uit - werk hard en maak seker jy doen dit reg en jy doen dit klaar, los nie half oor vir later. So oortuig ek vir Juan dat ons nou na ons 'recycle centre' moet gaan, eerder as wat die sak goed nou weer hier rondstaan en natreen en dan is alles klaar en reg.



Gekom by die plek is ons natuurlik nie die enigste mense wat die goeie weer benut het nie en ek bespied 'n ou tannie in 'n klein rooi karretjie met 'n hoop pragtige terracotta potte en 'n ou gieter op die agterste sitplek. "As sy dit uitgooi, gaan ek dit wragtig vat", sê ek dadelik vir Juan. Hy lyk bietjie verward en wens seker sy vrou wil nou nie 'n spektakel maak by die local dump nie, maar nou ja, hy ondersteun my maar altyd in meeste dinge. So agtervolg ons die tannie en toe sy uit haar kar klim is ek by om te vra wat haar plan is met die potte. Gelukkig is sy toe te dankbaar dat ek daarin belangstel, want sy het baie sleg gevoel om die goed weg te gooi. Haar man kan nie meer in die tuin werk nie en nou moet hulle afskaal, verduidelik sy, en niemand het belanggestel om die goed te vat nie. Ek lag toe 'n ander man twee keer verby ons stap en met sulke groot oë kom vra wat ons met die potte gaan maak, want dit is sulke lekker potte. Dis myne, lag ek net. Juan sit ewe in die kar terwyl ek hulle inlaai. "Tipies jou Pa se kind," lag hy vir my toe ek in die kar klim, "Praat met enige iemand en maak sommer dadelik vriende." Heeltemal waar.

Die potte staan nou veilig in die tuin en nou lê ek (Pa se kind) hier en glimlag en droom van al die lekker dinge wat ek in my nuwe potte gaan plant. Die tuin staan en wag net vir 'n bietjie meer son...

No comments:

Post a Comment