Monday 18 February 2013

Maak hooi terwyl die son skyn

...en as ons nou nie kan hooi of tuin maak nie, moet ons maar 'n uitstappie maak. Ons was rerig gelukkig met lekker sonnige weer vir ons uitstappie na Eastbourne en die Seven Sisters roete die naweek. Nou nie seker wat die temperatuur was nie, maar die son het beslis geskyn, en ons het ons voete ordentlik deurgestap op Eastbourne se strand.


Oppad huistoe het ons by die Seven Sisters Country Park aangegaan en 'n heerlike 5.5km gestap langs die kanale, kranse en baie modderige paaidjies. Die wit kalk kranse was so 'n belewenis en mens kan skaars jouself kry om aan te stap.


En na so baie rondloop en slaap in vreemde beddens is dit altyd lekker om by jou eie huis te wees en jou eie kos te eet. Die plan was vir kaas toebroodjies, maar toe ek hier aankom, moes ek net vir ons 'n paar kaas skons maak. En in die tyd wat dit vir Juan gevat het om die kar uit te pak, het ek hierdie super maklike resep ingespan. Met die dat jy olie gebruik is dit (effens) gesonder en mors jy nie tyd met al daai "frummel die botter in die meel" besigheid nie.

Maklike Kaas Skons

500ml meel (2 koppies)
15ml bak poeier
Knypie Sout en 'n Sku'tjie Rooipeper
250ml sterk Cheddar kaas (1 koppie)

15ml olyf olie
125ml melk
1 eier

Sif droe bestandele saam en gooi kaas by. Klits vinnig die nat bestandele saam en dan meng jy dit by die res met 'n metaal lepel/vurk. Werk maar so min as moontlik met die mengsel en as dit te droog lyk, gooi klein bietjie melk by. Druk hom dan plat op 'n gemeelde oppervlak, vou om tot dubbel, en druk weer plat tot so 2 cm. Druk uit in sirkels of sny sommer in blokkies soos ek gemaak het, borsel met bietjie melk en bak teen 180 grade vir 15-20 minute.


Heerlik so warm saam met botter en kaas. En nou gaan ek bad in my eie bad en slaap en my eie bed. Lekker om weg te wees, maar lekker ook om dan weer terug te kom.

No comments:

Post a Comment