Een uur stap ek toe vinnig huis toe met die blik ewe in my handsak. Ek hoop nie iemand by die werk het dalk gedink daai blik is nog vol nie. Eers het ek gedink ek kan dit met mooi papier oortrek of iets, maar toe onthou ek dat ons 'n blikkie swarbord verf in die kas het. Ek laat toe nie op my wag nie en gee die blik 'n laag verf. Toe ek sien hy lyk of hy kan doen met twee lae, gaan plant ek sommer gou 'n paar bolle in die voortuin, eet my middag ete en pak 'n paar dinge reg. Toe gee ek hom gou 'n tweede laag verf en gee my arme ou 'Money Trees' 'n nuwe tuiste. Ek dink nie plante wat baie water kort sal werk nie, maar die ou goedjies sal seker ok wees - ons sal maar moet sien.
Die plantjies het ek seker so twee jaar terug by 'n vrou geskenk gekry toe ek haar tafel by haar gekoop het. Mens sien hulle in elke Chinese Take-away en hulle is veronderstel om vir jou rykdom te bring. Vreemd dat hulle so 'n Chinese aanhang het, want blykbaar is hulle eintlik van Suid-Afrika. Ek was nogal bekommerd oor ons rykdom, want Juan het net so voor Valentynsdag die een plantjie amper in sy peetjie geskop en na dese le hy toe heeltyd in die skoppie, saam met sy hope grond, wagende vir 'n nuwe huisie.
En alhoewel ekstra geld sweerlik nie te versmaai is nie, is die rykdom in ons ou huisie beslis liefde...