Saturday, 1 July 2017

Mooiste Montenegro - Lovćen en die Meer van Skadar

Ek sou doodgelukkig gewees het om elke dag net in die see te swem en börek te eet, maar jy sou jouself 'n onreg aandoen as jy nie die res van Montenegro ook verken nie. Ek en Mnr. Kaalvoet het klomp navorsing vooraf gedoen en besluit om 'n halwe dag in Lovćen Nasionale Park deur te bring en 'n hele dag by die Meer van Skadar (Lake Skadar/Skadarsko Jezero).


Alhoewel Mnr. Kaalvoet reeds die roetes uitgewerk het, het hy ook 'n paar goeie wenke gekry van ons gasheer, Miloš, en sy vriend. So pak ons toe vroeg die styl, kronkel roete teen Lovćen uit. 


Ek dink meeste vakansiegangers ry Lovćen uit om die ongelooflike uitsigte oor die baai van Kotor en die kus van Montenegro te sien. Die pad is nou en styl en bestaan basies uit bitter skerp draaie, 25 bitter skerp draaie. Om elke draai raak die uitsig net mooier en mooier. Gelukkig is daar darem plekkies waar jy so effens kan aftrek om die uitsig te bewonder. Hou maar jou oë op die pad wanneer jy ry, want die pad het net spasie vir een motor en daar kom ander motors en trokke van voor, én agter. Mense ry daar sonder 'n sorg in die wêreld en mens moet maar blitsig aftrek om vir hulle plek te maak. Om natuurlik blitsig af te trek teen 'n styl afgrond, is geen grap nie. Oral dans die skoenlappers langs die pad in die blomme en plek-plek sal jy 'n stalletjie vind wat rakija (tuisgestookte vrugte brandewyn), pršut (ham), kaas en med (heuning) verkoop.


Waar dit 'n besonderse warm oggend in die baai was, raak dit al koeler hoe hoër mens teen die berg uitry. Uiteindelik ry mens in die wolke in en kyk deur die mistige waas na die wêreld benede. Heel bo is daar 'n ordentlike stalletjie met hout bankies wat oor die kus uitkyk. Omring deur die skoenlappers en die mis het ons hier gesit en dit alles net ingedrink. 


Vandaar ry mens aan en dan binne die Nasionale Park in. Weereens was ons gelukkig dat die wag by die hek ons net verbygewaai het en nie geld gevra het nie. Die pryse wat aangedui was, was wel baie billik en sou ons met graagte betaal het. Ek gaan natuurlike nie 'n gegewe perd in die bek kyk nie. 


Aan die ander kant van die berg is die landskap heel anders. Die berge hier strek tussen twee verskillende tipes klimaat, die van die see en die binneland, en dit het unieke habitatte tot gevolg. Hier bo in die berge vind jy ou klip en hout huisies, honderde jare oud, waarin daar steeds mense woon. Veewagters kom elke Somer al van die vroegste tye hierheen om hul beeste te laat wei in velde vol blomme en kruie. Die lug, nes Miloš belowe het, was heerlik skoon en vars. By tye het dit soos rooibostee geruik, maar ek het geen idee hoekom nie. Dit het gevoel soos 'n ander wêreld. 


Daar was areas vir piekniek asook avontuur aktiwiteite. Daar is ook baie wandelroetes en ons het plek-plek op stappers afgekom, swaargelaai met rugsakke. Dit was 'n lieflike plek om te besoek en ek sal dit beslis aanraai.

Die volgende dag het ons die pad na die Meer van Skadar aangepak. Mnr. Kaalvoet het vir ons 'n besonderse lekker pad gevind. 


Ons ry nog so op 'n lekker groot pad met klomp bane en motors toe ons navigasiestelsel sê, draai regs. Daar was basies geen aanduiding op die pad dat daar 'n afdraai was nie en ons moes eers 'n bietjie aftrek voor ons die klein paadjie gesien het wat in die bosse in verdwyn het. Weereens het dit gevoel of ons soos Alice in die hasegat in geval het. 


Alhoewel die meer ons eintlike bestemming was, was hierdie deel van die roete soontoe vir my net so fantasties. Dit is vir my moeilik om te beskryf hoe dit daar gelyk het en fotos kan net nie heeltemal vir jou wys hoe dit was nie, maar as jy jouself ooit in Montenegro bevind, moet jy net eenvoudig daar afry. 


Aan en aan het ons gery tot ons uiteindelik die hoefysterdaai van die meer in sy noordwestelike hoek bereik het net so voor 10 uur in die oggend. Hierdie uitsig oor die meer vanaf Pavlova Strana is een van die mees inkoniese uitsigte in Montenegro. Om dit te beryk moet mens die meer benader vanaf Rijeka Crnojevića, wat self 'n lieflike dorp is om te besoek. In Montenegro is daar een ding wat jy moet onthou, tensy jy gaan bestuur soos 'n besetene, gaan dit jou baie langer vat om plekke te bereik as wat die plaaslike mense vir jou sê of as wat jou GPS gaan aandui. As jy dan nog ingedagte hou dat die meer die grootste meer in Suid Europa is en in die Somer 'n oppervlak het van om en by 370 vierkante kilometer (en 530 vierkante kilometer in die Winter), kan jy jou indink dat een dag nie genoeg is om die plek enigsins goed te verken nie. 


Toe ons in Virpazar aankom het 'n oorvriendelike man ons met oliebolle probeer omkoop om op 'n bootrit saam met hom te gaan vir €25 elk. Hy het hoog en laag gesweer dat dit net 'n uur of wat sou duur en dat ons volgende bestemming maar bloot tien minute se ry weg was en ons dus baie tyd het. Nes ek gedink het hy bedrieg ons oor die prys van die bootrit (wat hy later afgebring het na €20pp) het ek ook geglo die res van die storie is snert en was dus baie ferm met hom gewees. Terug in die kar en ure se ry later was ek dus heel trots op my vaste oortuiging dat sy '10 minute' stelling absolute twak was. Nie net ry jy enkel paadjies nie, maar jy moet darm elke nou en dan stop vir die uitsig asook om skilpaaie uit die pad te haal en haastig te rem vir slange en sulke pragtige groot groen akkedisse wat oral langs die pad lê en baai. 


Virpazar is 'n goeie plek om te stop en bene te rek. Daar is baie restaurante, 'n kafee en toeriste dwaal oral rond. Die plek is oortrek van mense wat jou op boottoere wil neem of hulle bote aan jou wil uitverhuur en ek is seker dat baie van hulle nie heeltemal so glibberig is soos die man wat ons teegekom het by die ingang van die dorp nie. 'n Bootrit op die meer is sweerlik die heel beste manier om die meer van nader te bewonder, veral as jy belangstel in die magdom voëllewe daar of van die eilande van nader wil gaan besoek, maar ons het net eenvoudig nie die tyd gehad nie. 


Ons eintlike bestemming was Murici Beach waar ons uiteindelik so om en by 2 uur die middag opgedaag het. 'n Man het vir ons vir parkeergeld gevra toe ons daar gestop het (net €2) en alhoewel ons hom betaal het, het ons geglo hy was maar net 'n plaaslike kansvatter. Daar het ons rustig onder koel olyfbome op die klippies gelê, terwyl die naaldekokers om ons koppe gevlieg het en net die stilte van die meer bewonder. Murici strand het 'n pragtige uitsig op 'n klein einlandjie genaamd Beska wat self spog met twee 14de-eeuse Ortodokse kerkies. Ek is seker as ons wou, sou ons maklik soontoe kon swem, maar ons was net te lui. 


Elke nou en dan ry daar stadig plaaslike mense verby op sulke nou hout bootjies. Soms kom hulle daar naby aan wal en gesels met 'n man wat daar rustig sit en vis vang, dan ry hulle weer verder. Daar was omtrent geen ander mense op die strand en dit was heerlik stil en rustig daar.  Ons het lekker geswem, die varswater visse met ons snorkels beloer en gepiekniek onder die bome. Ons het gekyk hoe 'n moeder kuifkopdobbertjie haar kroos in die water aanjaag en belangstellend gekyk hoe 'n reier aan die wal van die eiland oorkant ons probeer vis vang. 


Ek sou heeldag daar kon lê en ontspan, maar aangesien dit ons nogal lank gevat het om daar uit te kom, moes ons maar ingedagte hou dat ons nog 'n lang pad terug gehad het. Terug op die pad het ons aanhou ry al langs die kus van die meer.  Langs die pad was daar bokke en donkies en op 'n plek was daar so 'n magdom byekorwe in 'n holte van die berg dat die gezoem so hard geweergalm het dat dit mens skoon dronk laat voel het. Hierdie streek is beroempt vir wyn en plaaslike produkte. Oral groei mense hulle eie druiwe, groente en vrugte. Langs die pad verkoop hulle drank en heuning. Ons het lekker gelag toe ons sien hoe 'n veewagter sy koeie en bokke vanuit sy Mercedes aanjaag met 'n lat by die venster uit. Daai koeie het omtrent gehol dat hulle so hop.  


Einde te laaste het ons by 'n uitkykpunt aangekom vir ons laaste asemrowende uitsig oor die meer. Ons het 'n lang ruk daar gestaan en dit alles net ingeneem. Ons het laat daardie aand by die huis gekom en eers 9uur 'n ordentlike ete geëet in 'n plaastelike restaurant. Mnr. Kaalvoet het lekker gesmul aan 'n bord calamari terwyl ek een van die lekkerste bakke kaserige pasta van my lewe weggesit het. Na so 'n ongelooflike dag het mens ordentlike kos nodig.


Dit het ons 'n hele dag gevat, maar ons het bloot net 'n blik gekry van Skadarsko Jezero, die streek en sy mense. Daar is oral ou kerke, eilande met ruïnes, grotte, wandelroetes en pragtige klein dorpies. Ek hoop dat ek eendag 'n kans sal hê om weer te gaan en selfs meer van die meer en die area te gaan verken en hopelik selfs daar op 'n bootjie te gaan vaar. 

Handige Vertalings:
  • Jezero - Meer
  • Rijeka - Rivier
  • Gora - Berg
  • Pršut - Ham - soortgelyk aan Prosciutto
  • Med - Heuning
  • Rakija - Vrugte Brandewyn
  • Maslinovo Ulje - Olyf Olie
  • Smokve - Vye

Thursday, 29 June 2017

Mooiste Montenegro - Die Kus


'n Paar jaar gelede het ek vir 'n onderhoud gegaan by die Britse Rooikruis. Toe ek by die onderhoud ingestap het, het ek my hand na die vrou agter die tafel uitgesteek, sy het opgestaan en my hand stewig gedruk terwyl sy my lank in die oë gekyk het. Skielik het sy breed geglimlag, haar kop geknik en vriendelik verklaar, in gebroke Engels, dat sy my dadelik sou aanstel. Net so! Sy het blykbaar ses ander mense daardie dag gesien, volle onderhoude met hulle gevoer, maar vir my het sy net so aangestel. Sy kon blykbaar dadelik sien dat ons oor die weg sou kom...en ons het ook, soos ou kennisse. Die mense van Montenegro is mens mense, vol warmte.


So beoog ek al jare om Montenegro te besoek en is my droom die jaar bewaarheid. Ons het nog gedink ons is oppad Cornwall toe, maar toe verander Mnr. Kaalvoet van plan en besluit om my Montenegro toe te vat as 'n vroeë verjaarsdag geskenk aan die begin van Junie. Geen klagtes hier nie! Deur vroeg in Junie te gaan, vermy mens die meeste toeriste en is die weer heerlik, maar nog nie te warm nie.


Na ons na pryse en tye gekyk het, het ons gevind dat dit beter sou wees om eers na Dubrovnik in Croatia te vlieg en dan van daar af met 'n kar na Montenegro toe te ry. Vanuit die vliegtuig kon ek al die blou waters en klein strandjies en eilandjies al langs die kus sien. Dubrovnik self is ook baie indrukwekkend so uit die lug uit en ek het uitgesien om die laaste aand van ons reis daar naby deur te bring.

Omdat ons voor die toeriste seisoen daar opgedaag het, was ons redelik vinnig uitgehelp by die huurmotor agentskap op Dubrovnik lughawe en het redelik vinnig daar weggerits in ons klein rooi Panda - natuurlik aan die regter kant van die pad. Ek het vooraf daaroor opgelees en mense vertel dat hulle in die hoë seisoen ure wag om geholpe te raak en dat daar so min motors is dat as jy nie vooraf een bespreek nie, daar tien teen een nie 'n spaar een vir jou sal wees nie.


In Croatia self het ons die bestuurdery heel normaal gevind, maar in Montenegro is dit 'n ander storie. Jy moet jou ry ken. Alhoewel van die paaie lieflik modern is, veral soos jy inkom, is daar myle en myle van enkel baan paadjies wat kronkel en draai dat jy half dronk raak. Waar mens in die bosse en langs styl kranse of byna in die see moet aftrek om aan motors wat van voor af kom kans te gee om verby te kom. Jy moet baie goeie ruimtelike bewustheid hê en gereed wees om dadelik te rem ten alle tye. Die mense ry ook redelik soos hulle wil en vat jou op die onmoontlikste plekke verby of stop sommer net dood in die pad vir geen ooglopende rede nie. Mense parkeer ook sommer enige plek en trek dan weer skielik voor jou in. Flikkerligte is ook blykbaar meestal net vir buitelanders. Gelukkig is Mnr. Kaalvoet 'n ervare bestuurder en het ons die paaie met vertroue aangepak. Ek het nuwe bewondering gekry vir my man se bestuursvernuf, want my senuwees sou dit nie gemaak het as ek moes bestuur nie.

Om van Croatia na Montenegro te ry moet jy natuurlik eers weer by die grensbeheer stop - eers aan Croatia se kant van die grens en dan weer aan Montenegro se kant. Dit het ons byna twee ure geneem om daar deur te kom. Die son was bloedig, maar gelukkig het die magdom skoenlappers en een skilpad my besig gehou terwyl ons stadig vorentoe gekruip het. Blykbaar was ons gelukkig, want in die seisoen kan mens tot vyf ure wag. Dit is die enigste deurgangs punt en mens het dus nie 'n ander keuse nie.

Ons het by Vila Miloš in Donji Stoliv, naby Tivat, tuisgegaan. Daar aangekom was ons warm verwelkom deur Miloš, die eienaar. Ons moes dadelik ons tasse sommer net daar in die ingangsportaal los en eers 'n biertjie saam met hom geniet voor ons verder kon gaan. Hy praat basies geen Engels en ons praat natuurlik geen Montenegran, maar sy Duits is baie goed en met ons eie gebroke Duits en gebare het ons sommer gou vriende gemaak. Hy is 'n wonderlike warm mens. Al oor die tagtig, maar vol lewe en gees. Ons het so goed oor die weggekom, dat hy sommer daarop aangedring het om vir ons te wys waar hy goedkoop uiteet in die area. Omdat sy plek naby Tivat is, kan die restaurante baie duur raak. Ons is dus saam met hom in ons motor na 'n gemeenskapssportssentrum en daar het hy vir ons 'n ete bestel en wou niks daarvan weet dat ons betaal nie. Ons eerste ete was dus 'n heerlike vullende boontjie- en vleisbredie, so eie aan die streek, saam met 'n egte Montenegran. Daarna is ons terug na die gastehuis, waar ons die heel beste kamer gegee is. Ons was toe nog sy enigste gaste en het op die boonste vloer reg voor 'n kamer gekry met twee balkonne. Die geriewe was redelik basies, maar alles was lieflik skoon en rerig gerieflik. Ons het sommer dadelik tuis gevoel. Miloš het die res van ons verblyf daar so mooi na ons gekyk dat ons soos verlore familie gevoel het. Mnr. Kaalvoet moes maar 'n paar drankies drink in die aande en luister na manne praatjies en ek is gereeld bederf met vars vrugte en besorgde navrae om seker te maak ek swem genoeg en kry genoeg vars lug in. 'n Ou vriend van Miloš het ook tydens ons verblyf daar kom bly en ons het baie lekker saam met hom ook gekuier en gesels. As ek ooit weer gaan, bly ek net weer daar. Af teen die inrit en 'n paar tree regs in die straat af, is 'n heerlike rustige strand, waar net die plaaslike mense geswem het. Ons is sommer dadelik soontoe om te gaan afkoel.


Af teen die inrit, oppad see toe, sien ek toe 'n swaeltjie wat lyk of hy goggas eet vanaf 'n motor se agterruit, maar toe ek dit aan Mnr. Kaalvoet wou uitwys besef ek die voëltjie is eintlik in die moeilikheid en sit vas binne in die kar na hy by 'n oop venster ingevlieg het. Om toe vir 'n jong man daar naby te verduidelik wat aangaan terwyl ons nie een taal in gemeen het, was omtrent 'n storie, maar na ek Duits, Frans, Spaans en vele gebare uitprobeer het is die swaeltjie gered en ons strand toe.

Die strand het sulke sagte klein klippies, warm water en 'n lieflike uitsig oor die baai van Kotor en die omringende berge. Dis 'n plek waar die mense van die gemeenskap kom ontspan saam met hulle kinders of sommer net om 'n bietjie te baai en te swem en ons het so ontstpanne en gemaklik daar gevoel. Die water is so helder dat jy die vissies kan sien wat al om jou bene swem.  Die water is so stil dat net 'n bootjie wat nou en dan daar verby ry 'n paar golfies in die water maak. Na die swem het ons onder 'n granaatboom gesit en ontspan en net die atmosfeer van die plek ingedrink.


Verfris het ons in die pad geval om 'n kafee te soek sodat ons 'n paar inkopies kan doen. Alhoewel die restaurante hier nie buitensporig duur is nie, is dit wel baie goedkoper om kos by winkels te koop en dit dan langs die pad te geniet. Ons het lekker aarbeisap, water en börek gekoop. As jy ooit hierdie deel van die wêreld besoek, moet jy eenvoudig börek probeer. Dis 'n plaaslike tipe pasteitjie waar hulle deegvingers vul met vleis, kaas or spinasie. Alhoewel jy dit hier en daar in 'n winkel of 'n kafee kan kry moet jy eintlik op die uitkyk wees vir 'n Pekara, of te wel, 'n bakkery. As jy eers weet waarvoor om uit te kyk sien jy oral klein Pekaras versteek op hoofstrate, in stegies en tussen huise. Hier bak hulle al wat 'n lekker ding is vars en verkoop dit teen spot goedkoop pryse. Die plaaslike mense koop al hulle brood en gebak hier en partymaal sal die mense sommer sien tou staan by die klein winkeltjies. Ons staan maar gewoonlik op sy vir die plaaslike mense om hulle inkopies vinnig af te handel voor ons met gebroke Duits en gebare beduie wat ons wil hê. 


Klaar inkopies gedoen, het ons dit geniet om in die naderende skemer al langs die pragtige kus langs te ry. Ons het gestop net buite die ou stad van Perast en toe soontoe gestap. Vir so 'n bitter klein stukkie plek, met net een hoofstraat, bevat Perast besonders baie en spog met 16 kerke en 17 palazzos. Van dit is mooi onderhou en van dit is verval en oorgroei met plante. Oral eet die mense op klein tafeltjies teen die water. Straatkatte beloer jou van waar hulle lui langs die water op die warm klippe lê. Mense sit op die muurtjies en gesels en die bootjies dopper op die water. Met skemer sluit hulle die dorp en word geen verkeer toegelaat. Jy voel of jy terug gegaan het in tyd. Vanaf Perast het mens 'n lieflike uitsig op Gospa od Škrpjela (Our Lady of the Rocks), 'n eiland gebou op 'n paar klippe waar matrose van Perast in 1452 'n beeld van Moeder Maria gesien het. Na elke suksesvolle vaart het die matrose klippe daar in die see gegooi en so, met tyd, het die eiland ontstaan en staan daar nou 'n lieflike Katolieke kerk. Deur die dag kan jy die mense van Perast betaal om jou met klein bootjies oor te neem soontoe. Nog iets wat ons sal moet gaan doen op 'n volgende vakansie daar. Dit was 'n lieflike aand en ons het heerlik gedrentel so al langs die see af in die soel aand lug.


Daardie nag het ons geleer dat die muskiete van Montenegro geen grap is nie. Die spuitgoed wat ek gebring het, het net mooi niks gehelp nie. Inteendeel, ek dink die muskiete het nogal gehou van die reuk. Doodslaan was ook nie 'n opsie, want daar was net te veel. Ek het met my kop onder die lakens geslaap, maar die hand wat die laken vasgehou het, het in die slag gebly. Mnr. Kaalvoet het te warm gekry om so onder die laken weg te kruip en was die volgende oggend oortrek van die muskietbyte. Nommer een op ons inkopie lysie vir daardie dag was insekweerder.   


Die volgende oggend, na Miloš my 'n piesang in die hand gestop het omdat ons nie so vroeg al wou bier drink saam met hom nie, het ons die pad gevat om al langs die kus te verken. Ons het heel gelukkig op 'n grondpad na Dobra Luka afgekom en kon daar op die rotse ons duikbrille uittoets. Dobra Luka het ek vooraf op 'n blog raakgelees as 'n plek heel weg van die toeriste areas en het dit ook so ondervind. Die baai waarop ons afgekom het was heeltemal verlate, behalwe vir 'n pragtige houtskip wat daar gedobber het. Ons het ons gate uit geniet met die snorkels. Dit is nou nie 'n tropiese plek met helder korale en dinge nie, maar daar was baie pampoentjies, visse, seesterre en sulke interessante see wurms. Die water was helder, stil en warm. Na die tyd het ons lekker op die rotse drooggebak sonder 'n bekommernis in die wêreld.


Die middag het ons verder langs die kus verken en by 'n hele paar lieflike plekke gestop vir fotos en om uitsigte te bewonder. Teen drie uur was ons te honger om verder te gaan en was gelukkig om by Cuba Libre te gaan eet op Zanjice. Van hieraf kan mens op bootjies na die Blue Cave toe gaan, maar dit was 'n bietjie winderig op ons aankoms daar en die manne wat die bootjies ry het lankal reeds om die tafels gesit om te eet en drink. Ons het maar besluit om dit vir 'n ander keer te los. Ons kelner was so 'n wonderlike joviale man. Hy kon gelukkig 'n hele paar tale praat en het al te lekker met ons gesels in Engels. Ons oë was gans te groot vir ons mae en die porsies was nogal groot en ons het dus opgeeindig met veel meer kos as wat ons kon eet, maar glo vir my, ons het probeer. Inkvis gestop met garnale, prosciuto en rys saam met aartappels en spinasie, die heerlikste calamari, kompleet met bros gebraaide tentakels, gebraai in knoffel saam met die heerlikste skyfies wat ek nog ooit geet het en dan nog 'n bord diepgebraaide gekrummelde kaasskywe. Alles bedien met varsgebakte brood en heerlike tuisgemaakte tartar sous en geurige olyfolie gemaak van olywe wat net daar groei. Tussendeur het ek brood en kaas in servette toegerol en in my sak gesteek vir ontbyt. Nee, ek het geen skaamte nie. Ons het heerlik gekuier en kan die plek aan enige een aanbeveel. Tyn spyte van hoe vol ons gedink het ons was, het ons selfs nog kans gesien vir heerlike roomys oppad terug kar toe. Montenegro is vol onweerstaanbare dinge. 


Na die ete het ons huis se kant toe gestaan en by Blue Horizon beach aangegaan vir 'n laatmiddag swem saam met die plaaslike mense. Die strand daar is omring met dennebome, wat 'n lieflike geur gee so op 'n warm Somers aand. Ons was gelukkig, want die wag by die hek het ons net verby gewaai. Ek dink gedurende die vakansie seisoen moet mens seker betaal om daar te swem. Dinge daar is baie gerieflik ingerig met storte en aantrekskerms al langs die strand af. 


Daardie nag het ons een van daai muskiet goedjies in die muur gedruk en geen probleme gehad met die ondiertjies nie. Die volgende oggend het ons weer heerlik op ons balkon ontbyt geëet terwyl ons die berge en see bewonder het. Ons het heerlik gesmul aan oorskiet kos en gerookte vleis en kaas wat ons gekoop het. Hier hou die mense baie van gerookte goeters en soms kan jy ruik hoe rook mense tuis hulle eie vleise en kaas. Dit smaak ook soos dit ruik en kan dalk effens oorweldigend wees, maar ons het gedink dit is baie lekker.


Ons het daardie dag Lovcen National Park gaan verken, waarvan ek later meer sal vertel, en later weer kus se kant toe gery om te gaan kyk hoe dinge lyk by Budva en Sveti Stefan, waarvan ons baie gelees het vooraf. Budva was vir ons 'n malhuis. Die hele plek is ingerig vir toeriste en loop oor van halfgekleede mense wat in groepe rond drentel met lilos en ander opblaasgoeters onder die arm. Oral strek hotelle die hoogtes in en die strate is verstop met motors en mense. Ons het nog oorweeg om iewers te parkeer en te gaan verken, maar toe besluit dit is nie die tipe vakansie wat ons wil hê nie. 


Vandaar het ons gery na Sveti Stefan. Ek dink teen die tyd was ons al effens honger en ongeduldig, want alhoewel Sveti Stefan rerig indrukwekkend en rustig gelyk het van bo af, het die onmoontlik styl kronkel paadjie soontoe en die tekort aan parkeerplek ons gou ondergekry en het ons maar net weer in die pad geval.


Toe kom ons op die ongelooflike stil Plaza Beach af waar ons lekker kon ontspan met 'n ligte middagete, varsgedrukte lemoensap en 'n uitsig oor die see waar dit teen die rotse breek. Hier het ons weer tot verhaal gekom. Ek dink mens kan amper die mooi oordoen op 'n plek soos Montenegro. Oral waar jy kyk is 'n pragtige uitsig, 'n interesante klein dorpie of 'n pragtige ou kerk. Jy kyk en kyk en voel later of jy dit nie meer kan inneem nie. Jy wil alles sien in een vakansie en alles beleef, maar dit is net nie moontlik nie. Soms moet jy maar net sit onder 'n ou olyfboom, met die son op jou gesig en 'n briesie in jou hare, en net 'n bietjie ontspan.


Ons het nie kans gesien om by Plaza Beach te swem nie, die wind het die branders 'n bietjie te ernstig daar teen die klippe aangejaag en ons moes dus nog 'n swemplek gaan soek het. Ons kom toe heel toevallig op Perasica Do af. Daar is 'n mooi stil strand met rustige restaurante. Ons het parkeer op 'n stuk oop grond voor 'n halfgeboude hotel. Die projek is lankal reeds laat staan en die klank van die see wat weergalm in die reuse hol hotel was baie eienaardig. Ek wou 'n bietjie van nader gaan verken en ons kom toe aan die anderkant van die hotel op 'n tonnel in die krans af.


Natuurlik kon ons nie weerstaan om by die tonnel in te gaan nie en vind toe dat daar ligte binne die tonnel skyn. So volg ons toe die tonnel en kom aan die anderkant op 'n lieflike uitsig vanaf 'n krans oor die see af. 'n Paar tree verder is daar toe nog 'n tonnel. So verken ons toe die kus met 'n voetpad wat so deur tonnels strek. Dit was rerig besonders. Plek plek kon ons 'n strandjie onder tussen die rotse sien, maar geen manier om daar uit te kom nie. Op een punt het ons 'n stel bitter nou trappies gevind wat gaan na onder, met 'n handreëling wat lankal weggeroes het. Ons het so 'n entjie teen dit afgegaan, maar hoe verder ons gegaan het, hoe nouer en styler het die trappies geraak tot op 'n punt waar my bene net besluit het hulle stel nie meer belang nie. Gelukkig het Mnr. Kaalvoet ook gevoel die trappies is nie vir ons nie en het ons teruggekeer na vaste aarde. Ek dink daai trappies sou selfs 'n paar bokke benoud gehad het. Terug op Perasica Do het ons lekker geswem en ontspan voor ons terug gekeer het na ons tuiste en ons eie klein strandjie.


Tuis aangekom het ons by ons eie strandjie gestop en 'n vroeë aand swem en piekniek op die kaai geniet. Voete in die water, börek in die hand, het ons afgekyk hoe die vissies naby ons tone swem. Die herhinneringe van sulke tye sal nog baie lank by my wees. Ek hoop ons kan eendag weer terugkom en ek sal net weer daar by Miloš bly en so veel swem en börek eet soos wat my hart begeer.

Ek vertel later meer...

Handige frases:

  • Zdravo - Hello
  • Hvala - Dankie
  • Da - Ja
  • Ne - Nee
  • Dovidjenja - Totsiens
  • Dobro Jutro - Goeie Môre
  • Dobro Vece - Goeienaand

Monday, 5 June 2017

Pembrokeshire Pret

So tussen die reën en die wind het ons darm al die Lente 'n paar baie mooi, warm dae gehad. Met die onlangse langnaweek het ons dus die pad gevat om 'n bietjie te gaan kamp teen die Pembrokeshire kus daar in Wallis. Gelukkig het Mnr Kaalvoet darm die Donderdag en Vrydag ook afgevat, want hier in Engeland is dit basies 'n gegewe dat 'n vakansie Maandag aaklige weer sal hê.


Ons het ons tentjie opgeslaan by Celtic Camping naby Abereiddy met lieflike uitsigte oor die Ierse See. Met ons aankoms op Donderdag was ons basies van die enigste mense daar, maar teen Saterdag was die reuse veld al baie vol en baie bedrywig. Gelukkig was ons self so bedrywig en het ons onsself so uitgeput, dat selfs die groot groep London Yuppies wat langs ons partytjie gehou het, ons nie uit die slaap uit kon hou nie.  


Ons eerste stop was sommer Donderdag al by die Blue Lagoon. As jy na Abereiddy se strand toe gaan, stap jy net regs om die krans om by 'n gebreekte steengroef uit te kom. Die leiklip verskaf aan die water 'n diepblou kleur en dit is besonders om in die diep gat te swem, terwyl die see deur 'n skeur inkom, met die gemynde leiklip kranse al rondom jou. Wees gewaarsku, die water is bitter koud, selfs in die Somer. Ek het net so geswem, maar al die ander mense was in duikpakke en diegene wat wel die water probeer aandurf het sonder 'n duikpak, het gou tou opgegee. Daar is platforms waarvandaan mense in die gat in gespring het, maar ek het dit nie aangedurf nie en dit word aanbeveel dat jy eerder dit saam met georganiseerde groepe doen. As jy gelukkig genoeg is om 'n roomyswaentjie by Abereiddy se strand aan te tref, koop vir jou asseblief 'n roomys. Dis heerlik!!


Terug by die kamp het ons heerlik gebraai terwyl die son in die see in verdwyn het. Ons eerste nag was doodstil en die volgende oggend het ons eers die styl paadjie af na die kamp se eie stukkie see geneem voor ons in 'n vars windjie ons ontbyt geniet het. Na daai stappie het ek nogal gevoel of ek my ontbyt verdien het. Het ek genoem dat dit styl was?!


Die volgende dag het ons gery om 'n bietjie te gaan stap naby St Govan's Head. Baie van die land daar aan die kus behoort aan die weermag en dus is toegang nie altyd moontlik nie. Ons was gelukkig om uiteindelik oop hekke te vind naby St Govan's Chapel en het vandaar al langs die Pembrokeshire Coast Path gestap, langs die kranse, in die rigting van Broadhaven Beach Bosherston. Daar naby is 'n parkeer plek wat behoort aan die National Trust, waarvoor mens moet betaal. Die uitsigte al langs die kus daar is iets ongelooflik. Ons het omtrent ons spiere gewerk, maar dit was die moeite werd. 


Oppad na Broadhaven Beach, stap mens verby New Quay. Dit is nog 'n klein strandjie, beskud van die wind deur hoë kranse. 'n Paar mense het die stappie soontoe aangepak en heerlik daar gelê en braai. Verby Broadhaven is daar sulke reuse gate met tonnels deur na die see. Blykbaar kan mens vanaf Broadhaven omswem en deur die grotte swem om daar uit te kom, maar ek was beslis nie braaf genoeg om dit aan te pak nie. As ons in die ander rigting gestap het, sou ons uiteindelik by die Green Bridge of Wales uitgekom het. Dit is blykbaar baie mooi, maar ons kon net een kant toe kies daardie dag en moet dit dus los vir 'n volgende keer. 


By Broadhaven aangekom het ons so bietjie geswem, maar daar was baie jellievisse in die see en ons was dus nie so seker of dit veilig was nie. Die mense daar het ook meer belanggestel om in krewe te verander in die son as om die water aan te durf. Terug by die kar het ons dus die pad gevat Manorbier strand toe, waar die getui net mooi besig was om in te kom soos die son sak. Daar was 'n hele paar mense met 'n heerlike gesellig atmosfeer. Ons het heerlik geswem en ontspan terwyl ons kort kort die handoeke moes skuif soos die water ingekom het.


Saterdag nag het dit gereën asof dit nooit sou ophou nie. Ons het lekker laat geslaap, want daar was geen punt daarin om jou kop by die tentflappe uit te steek nie. Ek het natuurlik nie gekla nie, want na die vorige dag se swem en stap, was die ou bene maar lam. Toe die reën uiteindelik so effens minder geraak het kon ons onder ons strandsambreel (wat besonders waterdig was) 'n lekker ontbyt sit en braai. Ons was skaars klaar geëet, toe reën dit weer. Ons het dus maar die dag meestal in die kar spandeer en al langs die kus opgery, verby Fishgard, in die rigting van Moylgrove. Vandaar het ons afgery na Ceibwr Bay, wat een van die mooiste plekke is wat ek nog ooit gesien het. Die baai is bekend vir die ongelooflike voue in die rotsstrata van die kranse. Van hier kan mens ook na die Witches Couldron toe stap, maar die wind het so woes gewaai, dat ons skaars op ons voete kon bly en was 'n bietjie te bang om die bittere noue krans paadjie soontoe aan te durf. Ons sal maar net weer moet terug gaan op 'n ander dag.


Daardie aand was alles rustig en stil en kon ons nog 'n mooi sonsondergang geniet vanaf ons stoele om die braai. Na 'n goeie nag se slaap het ons die pad huistoe aangepak, gelukkig en verfris. Ons het beplan om soveel meer te sien, maar daar is ook net soveel wat jy in 'n paar dae kan doen sonder om te jaag. Hierdie pragtige stukkie kus het beslis nie die laaste van ons tweetjies gesien nie.  

Friday, 3 March 2017

Beste Broodpoeding

Ek moet bieg, ek het nog nooit van broodpoeding gehou nie. Volgens my was dit maar 'n swak verskoning van 'n poeding, maar  ek moes my deuntjie verander toe ek onlangs op 'n resep afgekom het wat baie lekker geklink het, en nog lekkerer gesmaak het, veral na ek 'n paar toevoegings gemaak het.

5 Februarie was Wêreld Nutella dag en die internet was tot barstens toe vol Nutella resepte. Toe ek iewers sien hoe iemand broodpoeding maak met croissants en nutella, het ek besluit om dit uit te probeer.

Na die tyd kon ek nie help om te dink dat grondboontjiebotter 'n goeie toevoeging sou wees nie, en hoekom nie ook sommer gekapte okkerneute en esdoringstroop (dis nou maple syrup vir diegene wat nie weet nie) byvoeg om dinge nog lekkerder te maak nie. Die resultate was kwylwekkend! My man se oë het so gestraal van die liefde en bewondering en ek was baie in my noppies.

Miskien moes ek maar eerder in salige onkunde bly verkeer het oor die wonders van broodpoeding, maar aangesien ek nou my selfbeheersing moet beproef, deel ek graag die resep met julle, sodat julle saam met my kan sukkel teen die temptasie.

Nutella en Grondboontjiebotter Broodpoeding

4 Croissants
Nutella
Grondboontjiebotter
1 koppie Room (of melk)
½ koppie Strooisuiker
2 Eiers
1 teelepel Vanielje
'n Knippie sout
'n paar gekapte okkerneute en 'n bietjie esdoringstroop (opsioneel)

Sny die croissants oop en smeer nutella (of enige ander sjokolade smeer) aan die een helfte en die grondboontjiebotter aan die ander helfte. Ek smeer dit sommer baie dik. Mens kan self besluit of jy meer of minder van die een of ander wil hê. Plak die broodtjies weer toe en sny hulle in ongeveer 5 stukke elk.

Smeer 'n oondvaste bak met botter en ranskik die gesnyde broodjies daarin. Ek hou daarvan om hulle skuins in te pak sodat mens die sjokolade en grondboontjiebotter kan sien. Dit lyk ook mooi so gebak en die sjokolade wat bo is, is sommer ekstra lekker wanneer die gebak is.

Klits die res van die bestandele (buiten die neute en die stroop) goed saam en gooi die mengsel bo-oor die brood. Laat dit staan vir so 15 minute en verhit die oond tot 180° C.

Bedek die bak met foelie en bak vir 30 minute. Haal dan die foelie af, sprinkel die gekapte okkerneute bo-oor en bedruip liggies met esdoringstroop. Bak dan, sonder die foelie, vir 'n verdere 10 minute. Hou hom maar dop om te keer dat die stroop nie te veel brand nie.

Bedien warm en probeer jouself keer om nie alles op een slag op te eet nie. Dit is die volgende oggend nog net so lekker en jy sal jouself later jammer kry as jy nie nog het nie. Wel, dis my ondervinding van die saak.

Ek en Mnr. Kaalvoet eet dit sommer vir brunch en dit hou mens  nogal goed aan die gang so op 'n besige Saterdagoggend en is nog beter op 'n lui Sondagoggend.

Geniet dit!

Sunday, 22 January 2017

Naweek in Noord Wallis

Ek en Mnr. Kaalvoet hou daarvan om vir ons verjaarsdae die pad te vat en 'n bietjie van die huis af weg te kom. In Desember het ons vir Mnr. Kaalvoet se verjaarsdag 'n bietjie in die noorde van Wallis gaan kuier. Ons het tuisgegaan by Tyddyn Du B&B naby Llanrwst by 'n baie vriendelike gesin op 'n pragtige plaas.


Vir aandete het ons Betws-y-Coed toe gery en was gelukkig genoeg om 'n tafel by Olif te kry. Dis 'n gesellige 'tapas' styl restaurant waar hulle Walliese spesialiteite in klein porsies bedien. Ons het 'n verskydenheid klein disse bestel waarvan die wilde sampioene 'n ervaring was. Dit was so lekker dat ons die volgende aand weer daar wou eet, maar ons kon ongelukkig nie weer plek kry nie.


Die volgende oggend het die sneeu wit op die pieke van Snowdonia gelê en die omgewing was lieflik. Ander mense kan nooit verstaan hoekom ons so baie van Wallis hou nie, maar dis seker omdat die son omtrent altyd skyn wanneer ons daar is terwyl ander mense dit altyd as mislik ervaar. Soos gewoonlik het die son heerlik geskyn al was dit baie koud. Die wind het ook baie gewaai soos ons rondgery het deur die Snowdonia nasionale park.


Teen laat middag het ons by Harlech aangekom. 'n Pragtige sandstrand met 'n kasteel in die agtergrond. Hier het ek die water aangedurf en alhoewel dit bitter koud was, was dit ook onsettend mooi. Mnr. Kaalvoet het geduldig op die strand gewag met 'n handdoek en die vles vol warm sjokolade.


Daardie aand was daar 'n optog en vuurwerke in Betws-y-Coed en dit was lekker om in die koue so saam met die vriendelike mense gesellig te verkeer. Terug by die gastehuis het ons eers lekker met ons gasvrou gesels voor ons lekker knus geslaap het.

Die volgende dag het ons verder noord gery om The Great Orme en The Little Orme te gaan verken. By Little Orme aangekom, het ek gehoop om op 'n afgeleë strandjie te gaan swem maar daar het ons harde stemme iewers onder ons gehoor en het die water 'n bietjie rof gelyk. Skielik het ons besef dat die rotse op die strandjie gesigte het en die stemme wat ons hoor die van robbe is. Ons het vir 'n lang tyd daar in die sterk wind op die krans gestaan en afkyk op die robbe. Dit was half onwerklik. Die koeie het hul kalfies help swem in die water en die donker oë het ons agterdogtig dopgehou.


Ek kan die Great Orme tolroete beslis aanbeveel. Die roete is skilderagtig en ons was gelukkig genoeg om op 'n paar van die wilde Kasjmir bokke af te kom. Ons het plek plek gestop en net die uitsig bewonder en ons tyd gevat om die plek ten volle te waardeer.


Te gou was die naweek verby en moes ons weer in die pad val en huis se kant toe staan. Tot volgende keer - kan nie wag vir ons volgende avontuur in Wallis nie.

Sneeu in Zürich

Toe Mnr. Kaalvoet laas week in Zürich moes gaan werk het, het ons toe sommer 'n naweek daarvan gemaak. Soos die geluk dit wou hê, was Europa in die greep van 'n ysige kouefront en was ons gelukkig genoeg om lekker baie sneeu te beleef.

Met ons aanskoms daar was dit -13°C en alles wit gesneeu. Dit was heerlik koud en ons het soos drake stoom uit ons neuse geblaas. Alhoewel Mnr. Kaalvoet nie weet hoe ons tuimeldroër werk nie, het hy blitsvinnig uitgewerk hoe Zürich se publieke vervoer werk (wat vir my nou weer verbysterend was) en was ons in 'n japtrap oppad na ons hotel op een van die gerieflike tremme wat die hele stad rond rits.


Vir ons doeleindes was die 24h ZürichCard die beste waarde vir geld, veral omdat dit 'n rit na Uetliberg ingesluit het. Uetliberg is toe ook ons eerste bestemming na ons ons bagasie afgelaai het. Hoe hoër ons ry, hoe dieper raak die sneeu en hoe meer mense met klein kindertjies, honde en sleë klim op die trein. Bo gekom, klim almal af en verdwyn tussen die bomme in. Oral hoor jy kinders wat gil, honde wat blaf en die klank van die sleë wat teen 'n spoed die styltes af snel. 


Ons kies 'n stiller roete en besluit om net 'n rukkie teen die berg af te stap, en die trein weer te vang by die volgende stop, 'n entjie af teen die berg. Maar natuurlik dwaal ons effens af en alles is so mooi en voor ons onself kon kry het ons die hele berg afgestap tot heel onder. Wat 'n belewenis in al daai sneeu. Plek plek het ons lekker gegly en spiere het gewerk met die rem rem al teen die berg af. Ek was maar bitter bly dat ons reeds besluit het om die volgende dag by die spa te spandeer want my bobene was 'n bietjie ontevrede met my.

Ons het die stad platgestap, 'n middagslapie geneem en weer die stad getrotseer. Ons het geëet tot ons bars by Zeughauskeller, 'n tradisionele biersaal in 'n ou arsenaal stoor, en soos die dood geslaap in ons goedkoop hotel. As julle ooit by Zeughauskeller aanland, eet die apfelkuchen, dis een van die beste goed wat ek nog ooit geeet het.

Sondagoggend het ons gesorg dat ons teen openingstyd by die Zürich Thermalbad & Spa aanmeld. Daar het ons die 'Irish-Roman' spa paket gekoop, wat die geld werd was, want ons het byna ses ure daar spandeer. Een van die lekkerste dinge omtrent die Termalbad is die warm swembad bo-op die dak van die gebou wat uitkyk oor die stad. Met die sneeu en koue het die water so gestoom dat ons skaars die ander mense in die water kon sien. Ongelukkig mag mens natuurlik nie fotos daar neem nie, so ek het maar 'n paar fotos vanaf hulle webwerf geleën. Ek kan die plek beslis aanbeveel, veral as mens op 'n koue Sondag 'n bietjie bederf wil inkry.


Sondagaand het ons heerlik geëet by Restaurant Gertrudhof, waar hulle spesialiseer in alles cordon bleu en die chef persoonlik kom verneem of jy jou kos geniet. Hulle was baie vol en ons was gelukkig om 'n plekkie aan tafel te kry tussen twee ander paartjies. Ons het ons weereens vervreet en moes eers die kos gaan afstap in die stad, wat lieflik is in die aand.


Dit was maar net 'n vinnige naweek weg maar met die mooi natuurskoon van die berg, die bederf van die Spa en die opwinding van 'n sneeubedekte Europese stad, het die naweek veel langer gevoel en was dit beslis 'n goeie wegbreek.

Swem!

Ek is nie besonders goed daarmee nie, maar ek is mal oor swem - veral in die see. Elke jaar kan ek nie wag dat dit warm genoeg moet word om te gaan swem nie. Ek neem gewoonlik elke geleentheid wat ek kan om te swem, maar met die kort Somer en slegte weer, beteken dit dat ons maar net 'n paar keer 'n jaar in die see kan gaan swem. Verlede jaar was ek baie gelukkig om twee keer op vakansie te gaan in Suid-Afrika en alhoewel die mense daar gedink het dit was te koud om te swem, kon ek nie die water weerstaan nie.


Wanneer ek so lekker in Onrus swem, terwyl die Tannies met hulle truie sit en koffie drink en kyk, vra die mense my dan altyd, kry ek dan nie koud nie. Nee, ek geniet dit...en ek is goed geinsuleer. Dis toe dat ek dink, as die koue water my dan nou nie juis pla nie, hoekom hou ek enigsins op met swem gedurende die jaar in Engeland. Daar is dan mense in veel kouer lande wat gate maak in die ys om te swem, ek kan dan tog sweerlik 'n bietjie koue seewater trotseer. 


Met my terugkoms in Engeland het ek dus op die eerste sonnige herfsdag Mnr. Kaalvoet oortuig om my te vat om te gaan swem. Die water was pynlik koud. Ek kon binne sekondes nie meer my vingers of voete voel nie en my asem het gejaag soos ek moes stry om asem te haal, maar tog was dit vreemd lekker. Met die uitkoms was Mnr. Kaalvoet bekommerd omdat ek besonders pienk was. Ek kon maar net lag, die ondervinding was ongelooflik. Ek kon skielik nie wag om dit weer te doen nie.


Later, met 'n kort breuk in Noord Wallis, het ek daar ook die koue see aangedurf. Dit was die pragtigste dag en die koudste water waarin ek nog was, maar dit was heerlik. Die sand strand het wyd gestrek, die water was plat en helder, ek kon elke rimpeling van die sand onder die water sien. My asem het nie meer so erg gejaag nie, my sirkulasie was baie beter en die herstel vinniger.


Met Kersfees was ons na die Dorset kus, waar ek 'n redelike rowwe see aangedurf het, in 'n ysige wind. Ek kon skaars die koue voel. Na die tyd moes ek omtrent aan Mnr. Kaalvoet se arm hang, of die wind waai my om. Met Nuwe Jaar het ek in Kent gaan swem, waar die mans met hulle wetsuits brandeplank ry. My liggaam se reaksie tot die koue water is nou al heel goed, ek moet nou net meer stamina opbou. 


Die water temperatuur kan enige iets van 8°C tot 12°C wees terwyl dit relatief koud is buite, somtyds in die minuse met koue winde. Mense sal baie keer staan en kyk, fotos neem en selfs kom vrae vra. Ek bly net 'n paar minute in op 'n slag, maar dit is altyd die moeite werd. Oor die algemeen is ek die enigste persoon in die water, die seevoëls vlieg nie eens weg nie. Die koue en die inspanning neem ander gedagtes weg, al wat jy dink is, 'haal asem', 'het ek genoeg krag om terug te swem', 'is die branders te rof', 'is die gety te sterk', 'kan ek die bodem voel', 'is die pyn in my hande en voete al te veel', 'wat is daai donker skaduwee in die water'. Partykeer is die water plat en stil en die son skyn en is dit so bitter mooi dat jy vergeet jy kry koud en is bloot dankbaar dat jy die koue getrotseer het om dit te kan beleef en ander kere is die water rof, onstuimig en vuil en trek die see hard aan jou en dan is daar minder tyd om te geniet hoe mooi dit is, maar is daar 'n vreemde genot daarin om teen die see en die weer en die koue en jou eie liggaam te sukkel en te wen. 

Hoe meer gereeld mens dit doen, hoe meer kan jy dit doen, hoe langer kan jy uithou en hoe vinniger herstel jy. Dis belangrik om vinnig na die tyd droog en warm aan te trek. 'n Warm koppie tee of koffie help sommer baie om 'n mens op te kikker. Ek is dankbaar dat Mnr. Kaalvoet aanwal wag met 'n handdoek en 'n vles vol koffie. 
 

Sulke koue water swem is seker nie vir almal nie, maar ek geniet dit en vind dit lewens-bevestigend. Kan nie wag vir volgende keer!