Monday 5 June 2017

Pembrokeshire Pret

So tussen die reën en die wind het ons darm al die Lente 'n paar baie mooi, warm dae gehad. Met die onlangse langnaweek het ons dus die pad gevat om 'n bietjie te gaan kamp teen die Pembrokeshire kus daar in Wallis. Gelukkig het Mnr Kaalvoet darm die Donderdag en Vrydag ook afgevat, want hier in Engeland is dit basies 'n gegewe dat 'n vakansie Maandag aaklige weer sal hê.


Ons het ons tentjie opgeslaan by Celtic Camping naby Abereiddy met lieflike uitsigte oor die Ierse See. Met ons aankoms op Donderdag was ons basies van die enigste mense daar, maar teen Saterdag was die reuse veld al baie vol en baie bedrywig. Gelukkig was ons self so bedrywig en het ons onsself so uitgeput, dat selfs die groot groep London Yuppies wat langs ons partytjie gehou het, ons nie uit die slaap uit kon hou nie.  


Ons eerste stop was sommer Donderdag al by die Blue Lagoon. As jy na Abereiddy se strand toe gaan, stap jy net regs om die krans om by 'n gebreekte steengroef uit te kom. Die leiklip verskaf aan die water 'n diepblou kleur en dit is besonders om in die diep gat te swem, terwyl die see deur 'n skeur inkom, met die gemynde leiklip kranse al rondom jou. Wees gewaarsku, die water is bitter koud, selfs in die Somer. Ek het net so geswem, maar al die ander mense was in duikpakke en diegene wat wel die water probeer aandurf het sonder 'n duikpak, het gou tou opgegee. Daar is platforms waarvandaan mense in die gat in gespring het, maar ek het dit nie aangedurf nie en dit word aanbeveel dat jy eerder dit saam met georganiseerde groepe doen. As jy gelukkig genoeg is om 'n roomyswaentjie by Abereiddy se strand aan te tref, koop vir jou asseblief 'n roomys. Dis heerlik!!


Terug by die kamp het ons heerlik gebraai terwyl die son in die see in verdwyn het. Ons eerste nag was doodstil en die volgende oggend het ons eers die styl paadjie af na die kamp se eie stukkie see geneem voor ons in 'n vars windjie ons ontbyt geniet het. Na daai stappie het ek nogal gevoel of ek my ontbyt verdien het. Het ek genoem dat dit styl was?!


Die volgende dag het ons gery om 'n bietjie te gaan stap naby St Govan's Head. Baie van die land daar aan die kus behoort aan die weermag en dus is toegang nie altyd moontlik nie. Ons was gelukkig om uiteindelik oop hekke te vind naby St Govan's Chapel en het vandaar al langs die Pembrokeshire Coast Path gestap, langs die kranse, in die rigting van Broadhaven Beach Bosherston. Daar naby is 'n parkeer plek wat behoort aan die National Trust, waarvoor mens moet betaal. Die uitsigte al langs die kus daar is iets ongelooflik. Ons het omtrent ons spiere gewerk, maar dit was die moeite werd. 


Oppad na Broadhaven Beach, stap mens verby New Quay. Dit is nog 'n klein strandjie, beskud van die wind deur hoë kranse. 'n Paar mense het die stappie soontoe aangepak en heerlik daar gelê en braai. Verby Broadhaven is daar sulke reuse gate met tonnels deur na die see. Blykbaar kan mens vanaf Broadhaven omswem en deur die grotte swem om daar uit te kom, maar ek was beslis nie braaf genoeg om dit aan te pak nie. As ons in die ander rigting gestap het, sou ons uiteindelik by die Green Bridge of Wales uitgekom het. Dit is blykbaar baie mooi, maar ons kon net een kant toe kies daardie dag en moet dit dus los vir 'n volgende keer. 


By Broadhaven aangekom het ons so bietjie geswem, maar daar was baie jellievisse in die see en ons was dus nie so seker of dit veilig was nie. Die mense daar het ook meer belanggestel om in krewe te verander in die son as om die water aan te durf. Terug by die kar het ons dus die pad gevat Manorbier strand toe, waar die getui net mooi besig was om in te kom soos die son sak. Daar was 'n hele paar mense met 'n heerlike gesellig atmosfeer. Ons het heerlik geswem en ontspan terwyl ons kort kort die handoeke moes skuif soos die water ingekom het.


Saterdag nag het dit gereën asof dit nooit sou ophou nie. Ons het lekker laat geslaap, want daar was geen punt daarin om jou kop by die tentflappe uit te steek nie. Ek het natuurlik nie gekla nie, want na die vorige dag se swem en stap, was die ou bene maar lam. Toe die reën uiteindelik so effens minder geraak het kon ons onder ons strandsambreel (wat besonders waterdig was) 'n lekker ontbyt sit en braai. Ons was skaars klaar geëet, toe reën dit weer. Ons het dus maar die dag meestal in die kar spandeer en al langs die kus opgery, verby Fishgard, in die rigting van Moylgrove. Vandaar het ons afgery na Ceibwr Bay, wat een van die mooiste plekke is wat ek nog ooit gesien het. Die baai is bekend vir die ongelooflike voue in die rotsstrata van die kranse. Van hier kan mens ook na die Witches Couldron toe stap, maar die wind het so woes gewaai, dat ons skaars op ons voete kon bly en was 'n bietjie te bang om die bittere noue krans paadjie soontoe aan te durf. Ons sal maar net weer moet terug gaan op 'n ander dag.


Daardie aand was alles rustig en stil en kon ons nog 'n mooi sonsondergang geniet vanaf ons stoele om die braai. Na 'n goeie nag se slaap het ons die pad huistoe aangepak, gelukkig en verfris. Ons het beplan om soveel meer te sien, maar daar is ook net soveel wat jy in 'n paar dae kan doen sonder om te jaag. Hierdie pragtige stukkie kus het beslis nie die laaste van ons tweetjies gesien nie.  

No comments:

Post a Comment