Saturday, 1 July 2017

Mooiste Montenegro - Lovćen en die Meer van Skadar

Ek sou doodgelukkig gewees het om elke dag net in die see te swem en börek te eet, maar jy sou jouself 'n onreg aandoen as jy nie die res van Montenegro ook verken nie. Ek en Mnr. Kaalvoet het klomp navorsing vooraf gedoen en besluit om 'n halwe dag in Lovćen Nasionale Park deur te bring en 'n hele dag by die Meer van Skadar (Lake Skadar/Skadarsko Jezero).


Alhoewel Mnr. Kaalvoet reeds die roetes uitgewerk het, het hy ook 'n paar goeie wenke gekry van ons gasheer, Miloš, en sy vriend. So pak ons toe vroeg die styl, kronkel roete teen Lovćen uit. 


Ek dink meeste vakansiegangers ry Lovćen uit om die ongelooflike uitsigte oor die baai van Kotor en die kus van Montenegro te sien. Die pad is nou en styl en bestaan basies uit bitter skerp draaie, 25 bitter skerp draaie. Om elke draai raak die uitsig net mooier en mooier. Gelukkig is daar darem plekkies waar jy so effens kan aftrek om die uitsig te bewonder. Hou maar jou oë op die pad wanneer jy ry, want die pad het net spasie vir een motor en daar kom ander motors en trokke van voor, én agter. Mense ry daar sonder 'n sorg in die wêreld en mens moet maar blitsig aftrek om vir hulle plek te maak. Om natuurlik blitsig af te trek teen 'n styl afgrond, is geen grap nie. Oral dans die skoenlappers langs die pad in die blomme en plek-plek sal jy 'n stalletjie vind wat rakija (tuisgestookte vrugte brandewyn), pršut (ham), kaas en med (heuning) verkoop.


Waar dit 'n besonderse warm oggend in die baai was, raak dit al koeler hoe hoër mens teen die berg uitry. Uiteindelik ry mens in die wolke in en kyk deur die mistige waas na die wêreld benede. Heel bo is daar 'n ordentlike stalletjie met hout bankies wat oor die kus uitkyk. Omring deur die skoenlappers en die mis het ons hier gesit en dit alles net ingedrink. 


Vandaar ry mens aan en dan binne die Nasionale Park in. Weereens was ons gelukkig dat die wag by die hek ons net verbygewaai het en nie geld gevra het nie. Die pryse wat aangedui was, was wel baie billik en sou ons met graagte betaal het. Ek gaan natuurlike nie 'n gegewe perd in die bek kyk nie. 


Aan die ander kant van die berg is die landskap heel anders. Die berge hier strek tussen twee verskillende tipes klimaat, die van die see en die binneland, en dit het unieke habitatte tot gevolg. Hier bo in die berge vind jy ou klip en hout huisies, honderde jare oud, waarin daar steeds mense woon. Veewagters kom elke Somer al van die vroegste tye hierheen om hul beeste te laat wei in velde vol blomme en kruie. Die lug, nes Miloš belowe het, was heerlik skoon en vars. By tye het dit soos rooibostee geruik, maar ek het geen idee hoekom nie. Dit het gevoel soos 'n ander wêreld. 


Daar was areas vir piekniek asook avontuur aktiwiteite. Daar is ook baie wandelroetes en ons het plek-plek op stappers afgekom, swaargelaai met rugsakke. Dit was 'n lieflike plek om te besoek en ek sal dit beslis aanraai.

Die volgende dag het ons die pad na die Meer van Skadar aangepak. Mnr. Kaalvoet het vir ons 'n besonderse lekker pad gevind. 


Ons ry nog so op 'n lekker groot pad met klomp bane en motors toe ons navigasiestelsel sê, draai regs. Daar was basies geen aanduiding op die pad dat daar 'n afdraai was nie en ons moes eers 'n bietjie aftrek voor ons die klein paadjie gesien het wat in die bosse in verdwyn het. Weereens het dit gevoel of ons soos Alice in die hasegat in geval het. 


Alhoewel die meer ons eintlike bestemming was, was hierdie deel van die roete soontoe vir my net so fantasties. Dit is vir my moeilik om te beskryf hoe dit daar gelyk het en fotos kan net nie heeltemal vir jou wys hoe dit was nie, maar as jy jouself ooit in Montenegro bevind, moet jy net eenvoudig daar afry. 


Aan en aan het ons gery tot ons uiteindelik die hoefysterdaai van die meer in sy noordwestelike hoek bereik het net so voor 10 uur in die oggend. Hierdie uitsig oor die meer vanaf Pavlova Strana is een van die mees inkoniese uitsigte in Montenegro. Om dit te beryk moet mens die meer benader vanaf Rijeka Crnojevića, wat self 'n lieflike dorp is om te besoek. In Montenegro is daar een ding wat jy moet onthou, tensy jy gaan bestuur soos 'n besetene, gaan dit jou baie langer vat om plekke te bereik as wat die plaaslike mense vir jou sê of as wat jou GPS gaan aandui. As jy dan nog ingedagte hou dat die meer die grootste meer in Suid Europa is en in die Somer 'n oppervlak het van om en by 370 vierkante kilometer (en 530 vierkante kilometer in die Winter), kan jy jou indink dat een dag nie genoeg is om die plek enigsins goed te verken nie. 


Toe ons in Virpazar aankom het 'n oorvriendelike man ons met oliebolle probeer omkoop om op 'n bootrit saam met hom te gaan vir €25 elk. Hy het hoog en laag gesweer dat dit net 'n uur of wat sou duur en dat ons volgende bestemming maar bloot tien minute se ry weg was en ons dus baie tyd het. Nes ek gedink het hy bedrieg ons oor die prys van die bootrit (wat hy later afgebring het na €20pp) het ek ook geglo die res van die storie is snert en was dus baie ferm met hom gewees. Terug in die kar en ure se ry later was ek dus heel trots op my vaste oortuiging dat sy '10 minute' stelling absolute twak was. Nie net ry jy enkel paadjies nie, maar jy moet darm elke nou en dan stop vir die uitsig asook om skilpaaie uit die pad te haal en haastig te rem vir slange en sulke pragtige groot groen akkedisse wat oral langs die pad lê en baai. 


Virpazar is 'n goeie plek om te stop en bene te rek. Daar is baie restaurante, 'n kafee en toeriste dwaal oral rond. Die plek is oortrek van mense wat jou op boottoere wil neem of hulle bote aan jou wil uitverhuur en ek is seker dat baie van hulle nie heeltemal so glibberig is soos die man wat ons teegekom het by die ingang van die dorp nie. 'n Bootrit op die meer is sweerlik die heel beste manier om die meer van nader te bewonder, veral as jy belangstel in die magdom voëllewe daar of van die eilande van nader wil gaan besoek, maar ons het net eenvoudig nie die tyd gehad nie. 


Ons eintlike bestemming was Murici Beach waar ons uiteindelik so om en by 2 uur die middag opgedaag het. 'n Man het vir ons vir parkeergeld gevra toe ons daar gestop het (net €2) en alhoewel ons hom betaal het, het ons geglo hy was maar net 'n plaaslike kansvatter. Daar het ons rustig onder koel olyfbome op die klippies gelê, terwyl die naaldekokers om ons koppe gevlieg het en net die stilte van die meer bewonder. Murici strand het 'n pragtige uitsig op 'n klein einlandjie genaamd Beska wat self spog met twee 14de-eeuse Ortodokse kerkies. Ek is seker as ons wou, sou ons maklik soontoe kon swem, maar ons was net te lui. 


Elke nou en dan ry daar stadig plaaslike mense verby op sulke nou hout bootjies. Soms kom hulle daar naby aan wal en gesels met 'n man wat daar rustig sit en vis vang, dan ry hulle weer verder. Daar was omtrent geen ander mense op die strand en dit was heerlik stil en rustig daar.  Ons het lekker geswem, die varswater visse met ons snorkels beloer en gepiekniek onder die bome. Ons het gekyk hoe 'n moeder kuifkopdobbertjie haar kroos in die water aanjaag en belangstellend gekyk hoe 'n reier aan die wal van die eiland oorkant ons probeer vis vang. 


Ek sou heeldag daar kon lê en ontspan, maar aangesien dit ons nogal lank gevat het om daar uit te kom, moes ons maar ingedagte hou dat ons nog 'n lang pad terug gehad het. Terug op die pad het ons aanhou ry al langs die kus van die meer.  Langs die pad was daar bokke en donkies en op 'n plek was daar so 'n magdom byekorwe in 'n holte van die berg dat die gezoem so hard geweergalm het dat dit mens skoon dronk laat voel het. Hierdie streek is beroempt vir wyn en plaaslike produkte. Oral groei mense hulle eie druiwe, groente en vrugte. Langs die pad verkoop hulle drank en heuning. Ons het lekker gelag toe ons sien hoe 'n veewagter sy koeie en bokke vanuit sy Mercedes aanjaag met 'n lat by die venster uit. Daai koeie het omtrent gehol dat hulle so hop.  


Einde te laaste het ons by 'n uitkykpunt aangekom vir ons laaste asemrowende uitsig oor die meer. Ons het 'n lang ruk daar gestaan en dit alles net ingeneem. Ons het laat daardie aand by die huis gekom en eers 9uur 'n ordentlike ete geëet in 'n plaastelike restaurant. Mnr. Kaalvoet het lekker gesmul aan 'n bord calamari terwyl ek een van die lekkerste bakke kaserige pasta van my lewe weggesit het. Na so 'n ongelooflike dag het mens ordentlike kos nodig.


Dit het ons 'n hele dag gevat, maar ons het bloot net 'n blik gekry van Skadarsko Jezero, die streek en sy mense. Daar is oral ou kerke, eilande met ruïnes, grotte, wandelroetes en pragtige klein dorpies. Ek hoop dat ek eendag 'n kans sal hê om weer te gaan en selfs meer van die meer en die area te gaan verken en hopelik selfs daar op 'n bootjie te gaan vaar. 

Handige Vertalings:
  • Jezero - Meer
  • Rijeka - Rivier
  • Gora - Berg
  • Pršut - Ham - soortgelyk aan Prosciutto
  • Med - Heuning
  • Rakija - Vrugte Brandewyn
  • Maslinovo Ulje - Olyf Olie
  • Smokve - Vye

No comments:

Post a Comment