Sunday 22 January 2017

Naweek in Noord Wallis

Ek en Mnr. Kaalvoet hou daarvan om vir ons verjaarsdae die pad te vat en 'n bietjie van die huis af weg te kom. In Desember het ons vir Mnr. Kaalvoet se verjaarsdag 'n bietjie in die noorde van Wallis gaan kuier. Ons het tuisgegaan by Tyddyn Du B&B naby Llanrwst by 'n baie vriendelike gesin op 'n pragtige plaas.


Vir aandete het ons Betws-y-Coed toe gery en was gelukkig genoeg om 'n tafel by Olif te kry. Dis 'n gesellige 'tapas' styl restaurant waar hulle Walliese spesialiteite in klein porsies bedien. Ons het 'n verskydenheid klein disse bestel waarvan die wilde sampioene 'n ervaring was. Dit was so lekker dat ons die volgende aand weer daar wou eet, maar ons kon ongelukkig nie weer plek kry nie.


Die volgende oggend het die sneeu wit op die pieke van Snowdonia gelê en die omgewing was lieflik. Ander mense kan nooit verstaan hoekom ons so baie van Wallis hou nie, maar dis seker omdat die son omtrent altyd skyn wanneer ons daar is terwyl ander mense dit altyd as mislik ervaar. Soos gewoonlik het die son heerlik geskyn al was dit baie koud. Die wind het ook baie gewaai soos ons rondgery het deur die Snowdonia nasionale park.


Teen laat middag het ons by Harlech aangekom. 'n Pragtige sandstrand met 'n kasteel in die agtergrond. Hier het ek die water aangedurf en alhoewel dit bitter koud was, was dit ook onsettend mooi. Mnr. Kaalvoet het geduldig op die strand gewag met 'n handdoek en die vles vol warm sjokolade.


Daardie aand was daar 'n optog en vuurwerke in Betws-y-Coed en dit was lekker om in die koue so saam met die vriendelike mense gesellig te verkeer. Terug by die gastehuis het ons eers lekker met ons gasvrou gesels voor ons lekker knus geslaap het.

Die volgende dag het ons verder noord gery om The Great Orme en The Little Orme te gaan verken. By Little Orme aangekom, het ek gehoop om op 'n afgeleë strandjie te gaan swem maar daar het ons harde stemme iewers onder ons gehoor en het die water 'n bietjie rof gelyk. Skielik het ons besef dat die rotse op die strandjie gesigte het en die stemme wat ons hoor die van robbe is. Ons het vir 'n lang tyd daar in die sterk wind op die krans gestaan en afkyk op die robbe. Dit was half onwerklik. Die koeie het hul kalfies help swem in die water en die donker oë het ons agterdogtig dopgehou.


Ek kan die Great Orme tolroete beslis aanbeveel. Die roete is skilderagtig en ons was gelukkig genoeg om op 'n paar van die wilde Kasjmir bokke af te kom. Ons het plek plek gestop en net die uitsig bewonder en ons tyd gevat om die plek ten volle te waardeer.


Te gou was die naweek verby en moes ons weer in die pad val en huis se kant toe staan. Tot volgende keer - kan nie wag vir ons volgende avontuur in Wallis nie.

No comments:

Post a Comment