Ek is nie besonders goed daarmee nie, maar ek is mal oor swem - veral in die see. Elke jaar kan ek nie wag dat dit warm genoeg moet word om te gaan swem nie. Ek neem gewoonlik elke geleentheid wat ek kan om te swem, maar met die kort Somer en slegte weer, beteken dit dat ons maar net 'n paar keer 'n jaar in die see kan gaan swem. Verlede jaar was ek baie gelukkig om twee keer op vakansie te gaan in Suid-Afrika en alhoewel die mense daar gedink het dit was te koud om te swem, kon ek nie die water weerstaan nie.
Wanneer ek so lekker in Onrus swem, terwyl die Tannies met hulle truie sit en koffie drink en kyk, vra die mense my dan altyd, kry ek dan nie koud nie. Nee, ek geniet dit...en ek is goed geinsuleer. Dis toe dat ek dink, as die koue water my dan nou nie juis pla nie, hoekom hou ek enigsins op met swem gedurende die jaar in Engeland. Daar is dan mense in veel kouer lande wat gate maak in die ys om te swem, ek kan dan tog sweerlik 'n bietjie koue seewater trotseer.
Met my terugkoms in Engeland het ek dus op die eerste sonnige herfsdag Mnr. Kaalvoet oortuig om my te vat om te gaan swem. Die water was pynlik koud. Ek kon binne sekondes nie meer my vingers of voete voel nie en my asem het gejaag soos ek moes stry om asem te haal, maar tog was dit vreemd lekker. Met die uitkoms was Mnr. Kaalvoet bekommerd omdat ek besonders pienk was. Ek kon maar net lag, die ondervinding was ongelooflik. Ek kon skielik nie wag om dit weer te doen nie.
Later, met 'n kort breuk in Noord Wallis, het ek daar ook die koue see aangedurf. Dit was die pragtigste dag en die koudste water waarin ek nog was, maar dit was heerlik. Die sand strand het wyd gestrek, die water was plat en helder, ek kon elke rimpeling van die sand onder die water sien. My asem het nie meer so erg gejaag nie, my sirkulasie was baie beter en die herstel vinniger.
Met Kersfees was ons na die Dorset kus, waar ek 'n redelike rowwe see aangedurf het, in 'n ysige wind. Ek kon skaars die koue voel. Na die tyd moes ek omtrent aan Mnr. Kaalvoet se arm hang, of die wind waai my om. Met Nuwe Jaar het ek in Kent gaan swem, waar die mans met hulle wetsuits brandeplank ry. My liggaam se reaksie tot die koue water is nou al heel goed, ek moet nou net meer stamina opbou.
Die water temperatuur kan enige iets van 8°C tot 12°C wees terwyl dit relatief koud is buite, somtyds in die minuse met koue winde. Mense sal baie keer staan en kyk, fotos neem en selfs kom vrae vra. Ek bly net 'n paar minute in op 'n slag, maar dit is altyd die moeite werd. Oor die algemeen is ek die enigste persoon in die water, die seevoëls vlieg nie eens weg nie. Die koue en die inspanning neem ander gedagtes weg, al wat jy dink is, 'haal asem', 'het ek genoeg krag om terug te swem', 'is die branders te rof', 'is die gety te sterk', 'kan ek die bodem voel', 'is die pyn in my hande en voete al te veel', 'wat is daai donker skaduwee in die water'. Partykeer is die water plat en stil en die son skyn en is dit so bitter mooi dat jy vergeet jy kry koud en is bloot dankbaar dat jy die koue getrotseer het om dit te kan beleef en ander kere is die water rof, onstuimig en vuil en trek die see hard aan jou en dan is daar minder tyd om te geniet hoe mooi dit is, maar is daar 'n vreemde genot daarin om teen die see en die weer en die koue en jou eie liggaam te sukkel en te wen.
Hoe meer gereeld mens dit doen, hoe meer kan jy dit doen, hoe langer kan jy uithou en hoe vinniger herstel jy. Dis belangrik om vinnig na die tyd droog en warm aan te trek. 'n Warm koppie tee of koffie help sommer baie om 'n mens op te kikker. Ek is dankbaar dat Mnr. Kaalvoet aanwal wag met 'n handdoek en 'n vles vol koffie.
Sulke koue water swem is seker nie vir almal nie, maar ek geniet dit en vind dit lewens-bevestigend. Kan nie wag vir volgende keer!
No comments:
Post a Comment