Wat ‘n heerlike naweek het ons nie laas naweek gehad nie. Die weer was so perfek soos wat jy dit ooit in Engeland kan kry. Gewoonlik is daar net ‘n handjie vol sulke dae elke jaar. Ons moes dit dus benut en het beide dae ‘n piekniek gepak en see toe gegaan. Ons is altyd op soek na ‘n lekker strand – iewers stil waar mens kan swem en nie hoef te betaal vir parkering nie. Ons het nogal die jackpot getref met Elmer Sands, waar ons heel toevallig Saterdagoggend gestop het. Dit is ‘n privaat uitbreiding naby Bognor Regis met geen direkte toegang tot die strand en bitter min parkeerplek binne stap afstand, maar as jy gelukkig is om ‘n parkeerplek te kry, kan jy met een van die publieke voetpaaidjies tussen die ‘Private Estates’ deurloop en op die heerlikste strand afkom. Die fotos kan net nie lekker tuisbring hoe rustig dit daar was en hoe lekker die water was nie.

Dit is baie still daar, met net ‘n paar gesinne en ou mense wat sit op strandstoele in die son. Dit was so rustig daar, mens het veilig gevoel om jou goed net so op die strand te los terwyl jy gaan swem – en ons het sommer baie gaan swem. Een gesin het sommer al hulle goeters net daar gelos teen 12uur en toe weer drie ure later terug gekom. Daar is dolosse op die laagwater merk (daar geplaas om die area te beskerm teen vloede gedurende storms) wat veroorsaak dat die strand ‘n rustige baai vorm op hoogwater, met geen branders nie en skoon helder blou water. Perfek vir swem en piekniek hou. Ons het heerlik gekuier, geswem en geëet. Terug by die huis en lekker uitgerus was roosterkoek en skaaptjops die perfekte einde aan die perfekte naweek.
Roosterkoek Resep
(4 gemiddelde roosterkoeke)