Wel, ek het belowe ek sal later meer vertel van ons uitstappie Wallis toe...so hier is dit. Ek ek Juan moes net eers ‘n tydtjie spandeer om deur ons hordes fotos te gaan, sodat ons kan wys hoe vreeslik mooi dit daar is, maar die fotos kan net nie heeltemal tuisbring hoe lieflik dit daar is nie.
Ons het die grootste deel van ons kort vakansie aan die kus spandeer, maar oppad huistoe het ons besluit om eers weer terug te ry in die rigting van die Brecon Beacons. Vir my is dit een van die mooiste plekke in die Verenigde Koninkryk. Hier is so ‘n tekort aan berge, dat dit baie lekker is om so baie ‘Aardrykskunde’ te sien. Met een van my verjaarsdae het ek en Juan op die Black Mountains, in the Brecon Beacons, tussen die skape geslaap. Dit was ongelooflik om die sonsondergang en sonsopkoms in sulke ongerepte skoonheid te ervaar. Moelik om te glo dat ‘n klein grou plek soos Brittanje, so lieflik kan wees.
Die Brecon Beacons verwys na die bergreekse in die Suide van Wallis. Die naam stam af van die tye toe mense op die hoogste kruine ‘beacons’ aan die brand gesteek het om te waarsku teen indringers. Deesdae is dit ‘n reuse nationale park, met menigte staproetes, grotte, damme en watervalle. Meeste van die park is redelik kaal, oortrek met gras en heide in pragtige pers en grys kleure, bewei deur Walliese bergskape. Die Britse ‘Special Forces’ gebruik van die hoër, meer ongenaakbare pieke, vir hul mees proewende toetse, wat rekrute moet aandurf om deel te word van hierdie mag. Die eerste toets is 'n 24km trek oor die Pyn Y Fan (‘n 886m hoe piek), met ‘n 18kg rugsak en ‘n 5kg geweer wat hulle die Fan Dance noem – hulle het 4 ure om dit af te lê. Die tweede toets noem hulle The Long Drag of sommer net Endurance. Dit is ‘n 64km trek met ‘n 25kg rugsak (wat nie jou geweer, water of kos insluit nie), wat hulle in 20 ure moet aflê, sonder om gevestigde roetes te gebruik. Dit is blykbaar besonder erg omdat hulle dit moet aflê na ‘n vier weke periode van strawwe oefening. Ons het maar net vir ‘n paar ure op en af tussen watervalle rondgestap en my spiere was pap die volgende dag. Ek is belis nie uitgeknip vir die Special Forces nie, maar ek is mal oor staproetes en Juan moet net keer, want ek wil altyd weet wat is om die volgende draai met geen bekommernis oor hoe lank dit gaan vat om terug te kom by die kar nie. Ek klim ook sommer enige plek op en spring enige plek af. Gelukkig hou my dodgy knie my deesdae terug.
Ons het gemik vir Coed Y Rhaeadr, wat vertaal na ‘Wood of the Waterfall’, plaaslik bekend as ‘Waterfall Country’. Ons kan beslis aanbeveel dat jy stop naby Pontneddfechan, van waar daar ‘n redelike maklike roete is om ‘n hele paar pragtige watervalle te sien. Hierdie gedeelte van die park is van spesifieke wetenskaplike belang omdat dit so ‘n reuse hoeveelheid unike mosse, varings en lewermosse bevat. Ek was ook verseker dat jy fossiele in van die klippe kan kry, maar ek het nie enige gesien nie. Ons het wel afgekom op baie mooi klippe en klip formasies. Dit is natuurlik belangrik om te onthou dat jy versigtig moet wees op hierdie roetes.
Baie van die paaidjies is baie nou en glad en die afgronde is styl en ver. Alles is baie natuurlik, daar is nie rerig bruggies met veilige toue of loopplanke en dinge nie en slegte weer maak alles net gevaarliker. Daar was ‘n hele paar aanduidings dat ‘n paar mense onverwags hier hul einde teegekom het. Die blare vorm ook lae bo-oor boomwortels wat oor afgronde uitsteek – dit lyk dan asof daar plek is om te stap/staan, maar in werklikheid stap jy op niks konkreets nie. Ek en Juan is natuurlik altyd baie versigtig en vat geen kanse nie. Dit mag dalk wel verduidelik hoekom ons so min mense daar teegekom het – ek dink daar was letterlik net 5 mense wat ons op die een roete teegekom het – dit is nie ‘n plek vir kinders of skete nie.
Sgwd Yr Eira - Fall of Snow |
By die laaste watervalle, waar ons omgedraai het, was daar ‘n baie nou glibberige paadjie op na sulke klein grotte, wat ek net nie kon weerstaan nie. Hier het ek op koel groen poele afgekom en in een van die grotte die verskeurde karkas van ‘n skaap. Ons kon maar net bespiegel oor wat haar oorgekom het, want sweerlik woon daar geen roofdier in Brittanje wat groot genoeg is om so iets aan ‘n volgroeide skaap te doen nie. Daar is natuurlik baie gerugte van groot katte wat hier wild geraak het na privaat eienaars hulle vrygelaat het. Het ons dus op een van hulle grotte afgekom? Ons het ‘n spoor gekry, maar dit kon aan ‘n hond ook behoort het, wat die reuk gaan ondersoek het. Die plek is wel so afgeleë en dig bewoud, dat enige iets daar sal kan woon, sonder om ‘n mens raak te loop.
Horseshoe Falls - find die Nita..wen 'n Datsun... |
‘n Tweede waterval roete het vinnig te veel geword, met vreeslike ongelyke roetes en swak roete aanduidings. Ons was nie van plan om te verdwaal of ‘n enkel te verstuit nie, en het dus maar omgedraai. Ek het hier wel lekker in die poele rondgestaan en afgekoel. Ons moes seker van beter geweet het toe die mense wat voor ons daar af gestap het, veiligheidshelmets gedraai het met duikpakke en veiligheids harnasse. Ek neem aan hulle het ‘n bietjie cave diving gaan doen. Miskien iets vir ‘n volgende keer?
Ek wens ek kon julle almal saam met ons geneem het, dit was so vreeslik mooi daar. Troos julle maar daaraan dat die water baie kouer is as wat dit lyk en die roetes nogal ‘n rowwe stapie kan raak en dat dit dus baie lekkerder is om veilig by die huis te sit en na die fotos te kyk wat ons vir julle geneem het.
Onbeslryflik onbeskryflik mooi - wat 'n voorreg het julle nie wens ek kon elke tree saam met loop.
ReplyDeleteBaie mooi foto's en interessante info! W
ReplyDelete