Wednesday 12 June 2013

Die Onsigbare Oorlog

As jy my tuintjie so van ver af bekyk, lyk alles so rustig, gesond en groen. Van nader is dit soms ‘n ander saak en bevind ‘n hele paar slakke dat hulle ‘n oneway ticket oor die muur het.
Toe ons onlangs teruggekeer het van Wallis, was ek bekommerd dat my plante verlep op die grond sou rondlê na die paar warm dae met niemand daar om vir hulle water te gee nie. In teendeel het hulle die son vreeslik geniet en hard gegroei. Ongelukkig het die goggas ook die goeie weer gebruik om ‘n bietjie nes te skop. 
Elke jaar kry ek nuwe goggas by. Ek probeer altyd om dinge te bestrei sonder gif, want ek ek glo nie in gif nie. Hierdie dinge het tot dusver vir my gewerk:
  • Tree vinnig op as jy die eerste tekens van enige iets sien – gooi hulle oor die muur, verdrink hulle in water of knyp hulle dood (gril!!) – en hou gereeld ‘n ogie dat hulle nie terugkom nie,
  • Plant ander plante spesiaal vir die goggas dan los hulle jou groente uit – ek het nie genoeg prys vir die wonders van kappertjies nie,
  • Sit klein houertjies bier uit tussen jou plante – jy sal verbaas wees hoeveel creepy crawlies hou van bier en sal dan verdrink – dit werk veral goed met slakke en oorkruipers en mens voel nie so skuldig nie, want hoe erg is dit nou om te verdrink in bier?
  • Kry natuurlike vriende om jou te help. Vind uit watter goggas jou vriende is, soos spinnekoppe en ladybirds en los hulle om die vuil werk vir jou te doen. Maak voëls tuis voel in jou tuin, hulle is baie lief vir wurms en larwes. Ek het ook ‘n dammetjie gemaak om paddas te lok, want hulle eet ook allerhande goggas, maar tot dusver kon ek nog nie ‘n padda oorreed om daar te bly nie.
My eerste jaar het ek net met 'n paar slakke gesukkel en die tweede jaar was dit oorkruipers (jig), ‘n paar aphids en sulke vet wurms wat my wortels geëet het. Hierdie jaar is dit sommer baie aphids, ruspes en onlangs selfs ‘n paar leafminers. Ek weet nie wat jy hulle noem in Afrikaans nie, maar hulle het binne my sonneblom blare rondgekruip en ek het hulle almal verwyder met ‘n paar tweezers – ons sal maar kyk of ons hulle weer sien. Hoe meer plante jy het, hoe meer goggas is daar wat hulle wil eet.
Ek het laas jaar my oorkuipers so goed bestry met seperige water, dat ek hulle nog nooit weer gesien het nie. Elke jaar kom die miere terug met hulle swart aphid boerdery. Blykbaar bêre hulle die aphids onder die grond gedurende die Winter en hou hulle veilig en warm en dan, in die Somer, bring hulle hulle uit en plaas hulle op die plante. Soos die aphids dan voed op jou plante, skei hulle ‘n soet druppel af, waarvan die miere dan drink vir voeding en energie. Dit is 'n wonderlike stukkie natuur en baie oulik van die miere en alles maar as jou plant eers oortrek word met die swart goed, is daar min hoop. Dit is gelukkig hoekom ek kappertjies plant. Kappertjies is baie sappig en hulle verkies dit bo enige iets anders. Ek los hulle dus maar om met die kappertjies klaar te kom en bekommer my dan maar nie te veel nie, solank hulle my groente uitlos.
Die groen aphids is ‘n ander saak, daar kom nie so baie van hulle voor nie, maar hulle suig die lewe uit al jou jongste blare en blomme en as jy hulle nie vroeg tackle nie, sal hulle alles oorneem. Ek het iewers gelees jy moet hulle met suurlemoen sap spuit, maar suurlemoene is baie duur hier by ons.  Huidiglik hou ek hulle maar onder beheer deur hulle met ie hand af te haal en dood te druk – GRIL! Hopelik kan ek hulle so onder beheer hou. Ek is te bang om dinge te begin spuit, want dan kan jy die bye affekteer en so mors jy net dinge op. As die groen aphids wel te veel raak, sal ek maar suurlemoen spray moet gebruik en ons sal maar sien of dit werk.
My ruspe probleem is nou al basies iets van die verlede, na my harde werk elke nag met die flits vroeer die jaar. Ek kry nog wel so elke nou en dan ‘n piep klein ou groen ruspe’tjie. Juan weet nie hoe ek hulle raaksien nie, maar ek sweer ek kan hoor hoe eet hulle my plante, dan weet ek waar om hulle te kry.
Verder kry my murgpampoentjies elke jaar ‘n bietjie ‘white powerdery mildew’, of altans hulle muf so ‘n bietjie, dit doen gelukkig nie te veel aan die plant nie, maar is nie baie mooi nie. Dit gebeur as die weer te klam is en die plant nie genoeg sonskyn kry nie – wel, dit is maar Engeland, wat kan jy doen? Blykbaar help dit om jou blare met ‘n afgewaterde melk mengsel te spuit. Ek probeer dit nou hierdie jaar, want na ons vroeë nat Lente het die muf sommer baie vroeer opgedaag as gewoonlik. Sover lyk dit darm of dit werk. Verder moet ek maar net die blare verwyder wat te veel geaffekteer is.
Ons sal maar sien watter ander goggas en siektes hul opwagting maak, maar meerendeels gaan alles goed en hou hulle my uit die kwaad uit. Hopelik sal die tuin eersdaag iets produseer wat ons kan eet, en dan is al die moeite en bekommernisse dit werd. Twee murgpampoentjies en twee komkommers lyk al baie belowend...ek sal julle op hoogte hou.

No comments:

Post a Comment