Wednesday 17 July 2013

Gits nog Goggas!

Dinge in die tuin vorder nou rerig baie mooi en ons geniet dit baie om op warm dae daar buite te sit – veral nou dat ons ‘n bitter klein swembadjie aangeskaf het. Dinge groei lekker en ons eet gereeld vars groente uit die tuin uit. Sover het ek nie te veel probleme met goggas nie, maar het wel die afgelope paar maande ‘n paar interesante dinge in die tuin gewaar. 

Perdeby Kewer (Wasp Beetle) - Clytus arietis
Hierdie helder gogga het my groot laat skrik toe ek hom op ‘n sonnige dag op my mielies gekry het. Met sy helder kleure het hy nogal gevaarlik gelyk, maar dit is alles deel van sy slinkse plan om soos ‘n perdeby te lyk terwyl hy eintlik heeltemal skadeloos is. Hulle is so oulik, nie net lyk hulle soos perdebye nie, maar hulle beweeg ook soos hulle. Die larwes leef in droë, dooie hout, soos heining pale en dooie takke of stompe terwyl die volwassenes in die Somer gevind kan word waar hulle voed op stuifmeel en soms op kleiner goggatjies. Dit is dus voordelig om hulle in jou tuin te vind, maar ek het myne net die een keer gesien.

St Jakobs Mot (Cinnabar Moth Caterpillar) – Tyria jacobaeae

Wat ‘n wonderlike kleurvolle ou ruspe’tjie. Gelukkig het ek hulle nie in my tuin gesien nie, maar op ‘n vroee aand stappie, want hulle klein haartjies is blykbaar nogal toksies. Dit is dus maar beter om nie met hulle te mors nie. Hulle is blykbaar ook so bitter, dat voels hulle nie wil eet nie, maar gelukkig eet hulle sommer mekaar, wat help dat hulle nie die wereld oorneem nie – siesa! Hulle word gewoonlik ingevoer om te help met die biologiese bestryding van giftige Jakobs kruiskruid (poisonous ragwort) en gaan dan self dood wanneer hulle die kruiskruid uitgeroei het. Die mot kry sy Engelse naam vanaf die rooi mineraal, Cinnabar, omdat hulle sulke pragtige rooi kolle op hulle swart vlerke het, maar in Afrikaans word hy vernoem na die plant wat hy eet.





Roosmaryn Kewer (Rosemary Beetle) – Chrysolina americana

Ek het lanklaas so ‘n pragtige gogga’tjie gesien - die kleure is pure juweuel. Selfs al is hulle ‘n pes vir Roosmaryn, Laventel en ander plante van hierdie familie, sal ek hom nie sommer wegjaag nie. Hy is darm net te pragtig. Natuurlik is hulle nie inheems aan Brittanje nie en het blykbaar eers in 1994 hul opwagtig hier gemaak.

Harlekyn Liewenheersbesie (Harlequin Ladybird) – Harmonia axyridis

Toe ek hierdie gogga die eerste keer gesien het, het ek vreeslik gegril en was baie gereed om hom uit te roei, maar toe ek eers besef dit is die larwe van ‘n ladybird, was ek nie meer so seker nie. Die Harlekyn Ladybird het ‘n baie slegte reputasie hier in Engeland. Baie mense sien hierdie spesie as 'n oorlas, deels as gevolg van hul geneigdheid om te oorwinter binnenshuis en die onaangename reuk en vlekke wat hulle nagelaat wanneer hulle skrikgemaak of platgedruk word, sowel as hul geneigdheid om mense te byt. Hulle neem ook toe tot die nadeel van die inheemse spesies, as gevolg van sy gulsige eetlus en die feit dat hy sommer ander ladybirds ook sal eet. Inheemse ladybird spesies ervaar dikwels dramatiese dalings wanneer hierdie menere intrek. Maar dit is moeilik om hulle te onderskei van die inheemse besies en dus is ek maar huiwerig om van hulle ontslae te raak – plus ek het ook net ‘n paar in my tuin en hulle eet aphids. Ons sal maar die situasie moet dophou.


Klein Vliegende Hert Kewer (Lesser Stag Beetle) – Dorcus parallelipipedus

Hierdie dame het ons nou die aand raakgeloop terwyl ons tuin natgespuit het. Ek dink sy moes baie warm gekry het en dors gewees het, want sy het net daar in die sproei gesit en heel gelukkig gelyk. Dit is een van die grootste kewers wat mens in Engeland kry. Die grootste is die Stag Beetle en hierdie een is sy ‘klein sussie’. Hulle kan geen skade doen aan groente nie en woon gewoonlik in woude – hulle kan wel vlieg en word aangetrek deur beligting in die nag – sy was dus seker gelok deur my pragtige fairy lights, gestring tussen my groente.


Gegroefde Lapsnuitkewer (Vine Weevils) – Otiorhynchus sulcatus

My nuwe grootste vyand! Dit lyk dalk na ‘n heel onskuldige klein kewertjie, maar hulle kan duisende eiers le tussen die wortels van jou groente wat dan uitbroei in larwes – en hierdie larwes verwoes dan jou wortelstelsel en is ‘n groot gemors om van ontstale te raak. Die volwassenes eet ook al om die rante van jou blare, wat ‘n las is, maar gewoonlik darm nie te skadelik vir ‘n gesonde plant nie. As jou plante verlep lyk sonder rede, kan hierdie larwes dalk die rede wees. Blykbaar kan mens die larwes bestry met Nematodes, ‘n tipe aalwurm, wat mikroskopies is en net skadelik tot hierdie goggas en niks anders nie. Ek sal maar my oë vir hierdie ouens oophou en hulle die trekpas gee as ek hulle raakloop. Juan moet maar gereed staan, want ek gril te veel vir die kewers om hulle self te verwyder. So min hou ek van hulle, dat ek nie eens 'n foto van een geneem het nie - hier is eerder 'n pragtige foto van 'n by om mee af te sluit - is hulle nie pragtig nie?


1 comment:

  1. Mooi foto's Nita, en sommer 'n lekker Biologie les oor insekte, baie interessant W

    ReplyDelete