Monday 24 June 2013

Oes en Proes

Uiteindelik is die tyd hier om dinge te begin oes...stadig maar seker. Ongelukkig is dit ook die tyd van die jaar wat ek half vergaan van hooikoors en arme Juan moet bondstaan met tissues vir sy snotneus vroutjie. Ten spyte van die hooikoors, sal ek nooit my tuin en blomme verruil vir 'n
droë neus nie - ek sal maar net meer allergics moet sluk.
 
My Sweet Peas (en ander ertjies en boontjies) begin nou blom en hulle ruik so heerlik soet. Sodra hulle genoeg blomme maak, sal ek van hulle begin pluk en in die huis indra. Die murgpampoentjie blomme (die groot gele) is ook te pragtig - rerig treffend in mens se tuin. Ek het al baie resepte gelees waar mens dit kan pluk en stop met roomkaas en dan in 'n degie sit en vlakbraai. Dit klink baie lekker en interessant, maar die blom is net te mooi en die bye geniet dit te veel - ek sal dit nooit oor my hart kan kry om hulle te pluk nie.

Verder het ons al ons eerste mini komkommers gepluk en geëet - hulle is baie klein en wit, maar tog te oulik en presies reg vir 'n gesinnetjie van twee. Ons eerste murgpampoentjie is ook al liggies gebraai in botter en geëet saam met 'n lekker stukkie steak en ek dink vannaand sal ons 'n paar stoom en eet saam met 'n varktjoppie.
 
 
En kyk daai aarbeie - ons gaan hulle beslis vandag of more moet eet. Daar is geen ding so lekker soos 'n vars soet rooi aarbei uit jou eie tuin uit nie. Winkel aarbeie kan maar loop lê! Tamaties en Mange Tout steek ook nou oral kopuit en my beet staan bont. En kyk, my mielie maak ook nou blomme...of wat ook al dit is. Ek weet nie veel van mielies plant nie, en hierdie is maar 'n eksperiment, so ons sal sien hoe dit gaan. Maar as hulle werk, sal ons beslis eendag 'n spesiale plekkie in ons tuin moet uithou vir mielies plant, want dit kan net lekker wees.
 
Ek het ook onlangs vir die eerste keer met leeks (pruie) te make gekom. Ek het hulle al in resepte gesien, maar dit is net nie juis iets waaraan ek gewoond is nie. Ek het dus onlangs 'n sak gekoop en vir ons paar lekker terte en dinge gemaak. Ek vat toe 'n kans en druk die punte wat ek nie kan gebruik nie in die tuin en wraggies...kyk hoe lekker loop daai pruie (onder regs) weer uit. Ek het nog 4 wat rondstaan tussen die ander groente in die tuin en hulle almal groei ewe lekker. Wat 'n bargain!
 
Twee naweke terug het ek ook 'n paar ekstra bakke reggemaak en toe 'n paar slaai blaar sade geplant. Die kom nou vinnig en mooi aan. Sommer 'n paar verskillende kropslaaie en 'n paar spinasie blare - lekker om sommer 'n vinnige slaaitjie aan mekaar te slaan as ons die dag 'n lekker warm dag het. Kyk hoe vinnig het die lot aangekom - die eerste foto is geneem op 18 Junie en die tweede vanoggend.
 
 
Dink net aan al die lekker eet wat nou vir ons voorlê - ons kan nie wag nie! Maar nou moet julle my eers verskoon, ek moet my neus gaan blaas...
 

No comments:

Post a Comment