Thursday 30 May 2013

Nooit genoeg Gnocchi

Voor ek Engeland toe gekom het, het ek nog nooit gehoor van Gnocchi nie. Nou is dit een van my gunsteling kits aandetes. Gnocchi is ’n pasta vir aartappel liefhebbers – gewoonlik gemaak van aartappels, meel en eier en gevorm in klein balletjies. Die eerste keer wat ek dit probeer het, is kort na ek en Juan getroud is, in ‘n klein Italiaanse winkel in Raynes Park. Ek het vir die man by die toonbank gesê ek wil iets nuuts probeer en gevra wat hy sou voorstel. Hy het my ‘n pak gnocchi en ‘n dun skyfie sterk gorgonzola kaas in die hand gestop en verduidelik hoe die gnocchi net 3 minute in gesoute water gekook word en dan bedek kan word met ‘n kaassous, gemaak van gesmelte gorgonzola gemeng met room. Gesond was dit nie, maar lekker...shoe, sommer baie bevredigend.

Sedertdien het ek al baie gnocchi geeet; gnocchi met bloukaas, gnocchi met roomspinasie en selfs een keer gnocchi met bacon, piesang en kaas. En dit is altyd lekker. Onlangs het ek gewonder of ek my eie gnocchi met die hand kan maak, met iets anders eerder as aartappel. So het ek laas week patat gnocchi aangepak. Dit het rerig lekker uitgekom – verbasend genoeg. Die enigste verandering wat ek sou maak, is om my balletjies volgende keer kleiner te maak, want ek het nie in aggeneem dat die water dit effens sou laat swell nie.

Patat is aansienlik gesonder as aartappels en bevat hope gesondheids voordele. Hulle is hoog in vitamiene B6 en 'n goeie bron van vitamiene C. Hulle bevat ook yster wat 'n baie belangrik rol speel, insluitende rooi en wit bloed sel produksie, weerstand teen stres en behoorlike immuun funksionering. Patat bevat ook vitamiene D (kritiek vir jou immuunstelsel) en Magnesium (beveg stres en bevorder ontspanning).
 
Daar is sekerlik resepte op die internet, maar ek het sommer op gevoel gegaan en as jy eendag lus het om ‘n reuse gemors in jou kombuis te maak, probeer dit gerus.

Patat Gnocchi
1 Groot Patat
1 Eiergeel
1 – 2 Koppies meel

Bak die patat vooraf in die oond tot sag en laat afkoel. Verwerk tot sag en meng die eiergeel goed deur. Voeg dan stadig maar seker die meel by totdat dit 'n bewerkbare deeg vorm.

Thursday 23 May 2013

Muffins is mos lekker

Ek onthou nog die eerste keer wat ek 'n muffin gesien het, dit was bruin en vol rosyne...dit was gesond. So vir 'n tyd lank het ek gedink muffins is net vir mense wat meusli eet en ek was destyds nie iemand wat meusli geëet het nie. Nou eet ek sommer baie meusli en sommer 'n hoop ander dinge waaraan ek my mond nie as kind sou gesit het nie. Maar...ek is steeds nie altyd so lief of lus vir die idee van gesonde dinge nie. Veral nie op 'n vakansie dag nie.
 
Maandag het ek en Juan alby afgevat by die werk, om saam 'n lekker langnaweek te maak. Wat is dan nou lekkerder as laat slaap en 'n laat ontbyt in die bed, terwyl jy eintlik by die werk moes gewees het. Ek word dus toe wakker met die idee van lekker kaas muffins met botter (en nog kaas), warm in die bed.
 
Kaas en Sprietuie Muffins
 
175g meel met 'n teelepel bakpoeier 'n kwart teelepel koeksoda
50ml melk
1 eier
90ml olyf olie
'n knippie sout
 
'n groot hand vol gerasperde kaas
2 opgesnyde sprietuie 
'n paar blokkies feta
 
Meng al die droë en nat bestandele apart saam en voeg dan saam tot 'n beslag. Gooi dan jou kase, sprietuie en enige speserye by na smaak. Ek hou van 'n klein sku'tjie rooi peper en 'n bietjie paprika.
 
Ek het ook sommer 'n paar dennepitte bygegooi. Basies kan jy sommer enige ding by gooi waarvoor jy lus is. Volgende keer mag ek selfs 'n paar mielies insit.
 
Vul gesmeerde muffin houertjies driekwart en bak vir 25 minute teen 180 grade.

Monday 20 May 2013

Verlange na Sonskyn

Vannaand vir die eerste keer in 'n hele paar aande, kon ons gaan vir 'n stappie. Die lug was rustig en warm en die vroeë aand son (hier net na ag uur) het so geel en skyns oor alles geskyn. Perkfek vir 'n lui lekker stappie. Ons het selfs 'n Red Kite gesien, wat 'n redelik skaars roofvoël is. Oral was tekens van Lente, met bloeisels wat bot in die bome in die strate. Pragtig! As ek eendag die spasie het, wil ek so graag 'n kersie boom hê, al is dit dan net vir die bloeisels. 


Dit laat jou sommer maklik vergeet dat die wind ons die afgelope week of twee amper uitmekaar gewaai het. Laas week het ek in 'n vergadering gesit waarvan ek sweerlik nie 'n woord gehoor het nie. Buite kon ek sien hoe die bome glad skuins staan van die wind en orals was daar stof duiwels met blare en sakke wat wild rondwaai en mense wat so leun teen die wind. Ek kon nie vinnig genoeg by die huis kom na werk nie. Meeste van die plante was regop, alhoewel hulle baie bedremmeld gelyk het, maar my arme tamatie plantjies was glad plat met die aarde. Ek het haastig in die sterk wind 'n skermpie probeer opslaan, wat darm vir die ergste gehelp het, en Juan het intussen dinge verder versterk.

Tuesday 7 May 2013

Swane, swem en skaapribs

Ek kla seker baie oor die weer hier, maar glo my, Engeland kan ook baie lekker wees. Maandag het ons 'n vakansie dag gehad en toe ek my oë oopmaak het ek sommer geweet dit gaan 'n uitstekende dag wees. Terwyl Juan nog gelê en slaap het, het ek gou opgespring om 'n picnic te pak - tuna broodjies, brownies, kaas en uie chips, water en koeldrank - en die tuin nat te gooi. Toe prop ek gou vir ons 'n piesang, koffie en Milo smoothie in (ja, dis seker meer 'n melkskommel) en vat ons die pad see toe.
 
Ons gunsteling strand is 'n redelik stil klippies strand naby Shoreham. Al die mense gaan altyd na nabygelëe Brighton, maar dit is 'n malhuis en ek is seker jy sal een of ander siekte optel as jy die water daar sou aandurf. Ons plekkie bestaan uit 'n reeks komme, so as jy moeite doen om verder te stap, kan jy altyd op 'n baie rustige area afkom.
 

Die oggend het mistig begin, wat beteken het dat ons op ons eie was vir die eerste uur en die beste klip op die strand kon vind om op tuis te raak. En wat sou ons sien in die mis op die stil grys waters? Ses wit swane. Ongelooflik! Dit was moelik om ordentlik fotos met ons fone te neem, maar hoop julle kan dit waardeer. Die water was so rustig en die omgewig so stil, dit was sommer 'n besonderse ondervinding.

Monday 6 May 2013

Vordering

Wel dit is lang naweek en ek het gedink ek gaan sommer baie tyd in die tuin spandeer - veral met al die sonskyn wat voorspel is. Aangesien ons in Engeland leef, het die beloofde son nie heeltemal te voorskyn gekom nie en het ek nie naastenby soveel tyd in die tuin spandeer nie. Dit beteken natuurlik nie dat ek nie dinge gedoen gekry het nie.
 
Die naweek was dit tyd dat ons tamatie plantjies uiteindelik uitgeplant word op hulle regte plek. Ek het hulle heel week geaklimatiseer aan die buitelig in 'n terracotta pot en met die redelik warm, windstil weer, het ek gedink dit is veilig dat hulle nou die nes heeltemal verlaat.
 
En toe ek eers die tamaties op hulle plek het, besluit ek toe sommer ook om die komkommers uit te plant. Ek het nog heeltyd verwag dat hulle moet groter word, maar ek dink ek het nie heeltemal in ag geneem dat hulle miniatuur komkommers is nie. Ek het seker gedink die plant sal normaal wees en die vruggies klein - maar wat weet ek nou inelkgeval van komkommers groei. So die tweetjies is toe ook sommer uitgeplant en lyk ook heel knus in hulle plek. Nou is my murgpampoentjies, mielies, beet, komkommer, tamaties, aarbeie, boontjies, ertjies en knoffel almal aan die groei en in my blomme beddings kom daar oral dingetjies op - selfs my Giant Mongolian Sunflower het nou al twee groot blare en lyk al redelik sterk.