Monday, 29 June 2015

'n Reis terug in Tyd - Morokko, Fes

Soms moet mens maar 'n kans vat, die dobbelsteuntjies gooi en kyk waar hulle land. 'n Paar weke terug het ons bloot geweet ons wou op vakansie gaan en dat dit goedkoop moet wees. So soek ons toe die eerste, goedkoopste vlugte die land uit en bevind onsself laas week in the ou Medina van Fes, Fes el Bali, in Morocco. 


Sommer met die aankoms kon ons sien dat dinge baie anders gaan wees hier. Almal is uit daarop om besigheid te doen en niemand vat nee vir 'n antwoord nie. Ons het ons huiswerk gedoen en was van plan om die bus te vat vanaf die lughawe na die Medina en het 'n dame, wat in die lughawe werk, gevra waar ons die bus kan kry. So staan ons, saam met een ander Britse ou, by die busstop en wag terwyl die Noord-Afrika son soos 'n rooi vlam agter die horison verdwyn. Dadelik kom daar manne aan met 'n ou wit Mercedes, hulle maak die kattebak oop en mik om ons bagasie in te laai. Nee, keer ons, ons wag mos vir die bus. Nee, die bus kom nie meer nie, dis Ramadan - of so lei ek af van die Frans en Arabies wat hulle praat. Maar die dame het gesê! So wag ons, terwyl die een na die ander taxi daar stop, baie gedetermineerd om die bus te vang. Sekerlik, as die bus nie sou kom nie, sal een of ander gawe persoon, wat nie 'n taxi besit nie, dit mos vir ons sê. En hoekom sal die vrou in die lughawe niks genoem het nie? So kom die sterre uit en vreemde goggas begin hard hier in die bosse langs die pad skree en gee ons maar later in en klim agter in 'n taxi. 

So 'n rit het ek nog nooit beleef nie. Mnr. Kaalvoet wil ewe saggies by my weet of daar dan nie 'n spoedbeperking is nie. Ek dink die bordjie sê 60, maar ons is te vinnig verby. Die wit skip vleg deur die verkeer en ons vaar verby die ander motors, kinders, donkies en motorfietse. Hy pyl op ander motors af en flits dan sy ligte as hulle nie uit die pad wil kom nie. Daar is bane, maar soos die spoedbeperking en ander verkeersreëls, is dit bloot 'n voorstel, wat meestal geignoreer word. Hierdie man is begeesterd om ons so gou moontlik by die Medina te kry. Ons hou maar vas en glo ons gaan daar uitkom.


Die Medina, Fes el Bali, is 'n groot omringde stad en is die grootste motor vrye stedelike ruimte in die wêreld. Die stad was gestig deur Idris I in 789 en word beskou as die mees omvattende en bes bewaarde historiese stede in die Arabiese Moslem wêreld. Ons is by die Blou hek,  Bab Boujloud, afgelaai en het vandaar die nou, besige strate ingevaar om ons hotel, die Riad Tayba, te gaan soek. 

Ons het dit werklik gelukkig getref deur heel toevallig verblyf te bespreek wat nie net naby die hek is nie, maar ook nie te moeilik was om te vind nie. Almal wil jou "help" om by jou hotel uit te kom en jou tasse te dra, maar verwag dan natuurlik geld en mag jou dalk selfs na verkeerde plekke vat of jou aanraai om eers aan te gaan by plekke wat jy nie beplan het nie. Ons was vriendelik, maar ferm en rerig trots en bitter dankbaar toe ons uiteindelik by die pragtige voordeur van ons Riad uitgekom het. Met die eerste oogopslag was die strate daai aand in die donker nogal skokkend met al die baie mense, die geraas, die vuil reuke, die gemors en rou vleis, verskrikte hoenders en ganse en al die baie katte. Oral is daar katte. Hulle lê in hopies, hulle bedel, hulle sit op die dakke, hulle loer vir jou agter mense se bene en onder tafels uit, hulle ignoreer jou en sit in die middel van die pad. Van hulle is klein en van hulle is selfs half mooi, maar hulle is almal maer en van hulle lyk half dood. In die daaropvolgende paar dae het ek selfs 'n paar strate herken aan hulle katte, want die mense en ware verdwyn en dan lyk alles anders, maar die katte bly dieselfde. Toe ek ons gits die volgende oggend vra waarom daar so baie katte is, sê hy ewe ernstig...omdat ons hulle nie eet nie.


Riad Tayba was 'n lafenis vir ons gedurende ons kuiertjie in Fes. Die nou ingang ontsluit in 'n pragtige blou teel atrium met groot rooi Morokaanse sofas, pragtige deure en tradisionele decor. Met slegs 5 kamers en lieflike balkonne en terrasse is die verblyf intiem en rustig. Ons is dadelik met ons aankoms bedien met heerlike sterk,soet kruisement tee en ons lugversorgde kamer was koel, ruim en rustig. Soggens het ons vars plaaslike brode, wat die tannies op die straat verkoop, en konfyt, kaas en olywe geniet saam met vars lemoensap en 'n paar koppies geurige koffie. Ten spyte van die raserige vuil strate, was ons Riad altyd stil en skoon. Die bestuurder het ons die eerste oggend op 'n toer van die Medina geneem wat ons baie gehelp het om onsself te oriënteer in die ongelooflike deurmekaar en verwarrende stad. Al die persooneel was ongelooflik beleef, waardig en behulpsaam en ek sal die plek aan enige iemand aanbeveel.


As jy nie 'n Moslem is nie, mag jy ongelukkig meeste van die historiese geboue hier nie betree nie en kan jy bloot fotos deur die deure van buite af neem. Die Bou Inania Madrasa is een van die min uitsonderinge en is dus 'n moet. Die Madrasa is gebou deur Sultan Abou Inan tussen 1351-56 en word geag as die puikste Meriniede monument in die wêreld. Geen omkoste was gespaar in die bou van hierdie skool en moskee nie. Legende vertel dat die Sultan by die voltooing van die gebou die rekeninge in die rivier gegooi het - 'n ding van skoonheid is buite berekening. Elke oppervlak is versier, daar is gekerfde sederhout en gedetailleerde marmer en sandsteen mure, lieflike koepelvormige plafonne en teels geverf en glasier met Arabiese gedigte wat die lof sing van die Sultan. 


In teenstellings met hierdie wonder, is die strate vuil en besig. Op sekere plekke kan die reuk te veel raak, maar dan kom daar 'n waentjie met 'n hoop kruisement verby en maak alles beter. Almal wil aan jou dinge smous. Sonder motors, word muile en donkies gebruik om groter goed te vervoer en selfs die vullis te verwyder in die oggende. Enkele mense ry met poegies en goed daar rond, maar die inwoners spreek vinnig hul misnoe oor hulle uit en sal hulle soms selfs op die rug slaan as straf. Hoenders, ganse, hase, duiwe, skilpaaie, vinke en  kanaries sit in koukies buite stalletjies. Kinders speel oral bal en hol in raserige groepe rond. Op onverwagste plekke kom jy op die lieflikste mosaiek muur fonteine af waar mense bottels vol water kom haal, hulle voete afspoel en selfs hul perde en donkies was, skynbaar onbeindruk deur die fontein se skoonheid of ouderdom. Vir hulle is dit alles bloot alledaags. Vleis word voor jou verwerk en hang aan hakke, die reuk oorweldigend. Oral sit vrouens en soet gebak optower, in afwagting van die breek van hul vas teen sonsonder. Hulle stapel dit in hoë torings, deurdrenk met heuning en stroop, waarom die bye heeldag boer. Die groter meerderheid van ware is handgemaak en elke prys is onderhandelbaar. Meeste van die goed wat ons gekoop het, was teen meer as helfte die prys wat oorspronklik voorgestel is. Mense sal jou probeer oortuig dat jy steel die kos uit hul kinders se monde, maar wees gerus, niemand hier sal ooit enige iets teen 'n verlies verkoop nie. Probeer om nie aan iets te vat as jy nie werklik van plan is om dit te koop nie. Die mense praat Arabies, Frans en bietjies Spaans en Engels. By die groter stalletjies en restaurante sal jy regkom met Engels en almal is so gretig om jou van jou geld te verlos dat hulle hulself verstaanbaar maak, al weet jy nie altyd na die tyd hoe jy dit regekry het om te kommunikeer nie. Toeriste kan meerendeels aantrek wat hulle wil, maar vir vrouens sal ek aanbeveel om wel langrokke te dra en jou arms toe te hou. As die son skerp is, is dit nogal 'n verligting om jou serp oor jou kop te hou en sal die tannies minder vir jou gluur. Dit is ook beter om in 'n paartjie te loop, want as jou man effens agter raak sal jy gou vind dat jong mans vreeslik belangstellend is en allerhande praatjies wil aanknoop. 


As die Medina jou 'n bietjie begin onder kry, is die koel skadus van die Jardin Jnan Sbil net 'n kort stappie weg van die hek af. Met lieflike rose, koel fonteine, lemoenbome, kriue en elle lange palmbome is dit 'n heerlike plek om te sit en ontspan. Toegang is vernuut, en die tuine is elke dag oop buiten Maandae.


Restaurante is maklik om te vind, want by elke ingang sal daar 'n man staan wat jou probeer oortuig om in te gaan. Dit is dus 'n goeie idee om vooraf te besluit waarheen jy wil gaan en 'n bietjie onderstoek op die internet in te stel, want as jy onseker lyk gaan hulle jou gou vasvang. Omdat dit Ramadan was, was meeste van die restaurante toe gedurende die dag, maar Cafe Clock was darm oop en 'n welkome ruskans van die besige strate. Dit word besit deur 'n Brit en almal daar kan Engels praat. Die kameel burger is rerig lekker en daar is mooi terrasse waar mens in die skaduwee kan sit en afkoel. Ons het selfs daar eendag die vas gebreuk en 'n tradisionele Ftour gedeel met die eienaar, hul vriende en die personeel. Almal was so gaaf en ons het heerlik saam met hulle gekuier. Ons het ook baie lekker skaaptjops geëet by die Kasbah wat een van die eerste restaurante is soos jy by die Bab Boujloud inkom. Pasop net of die kat steel jou tjoppie. Die Kasbah se daktarras is 'n lekker plek om te sit en kruisement tee drink terwyl jy kyk hoe die mense kom en gaan deur Blou hek. Die toeriste is kostelik! Die eienaar gesels vreeslik lekker elke keer as jy daar verbystap. Die omie het Mnr. Kaalvoet een middag aan die arm gevat en gevra of hy hom nie onthou nie. Ons verduidelik ons was dan gister daar vir tee, maar hy sê nee, man, voor dit, op 'n ander tyd en plek. Nee, verduidelik ons, Mnr. Kaalvoet het 'n baie slegte geheue, ons sal nie kan onthou nie. Die omie lag toe so lekker, nou onthou hy, dit was 500 jaar gelede op Mars dat hy ons raakgeloop het. Maar natuurlik! 


Die ander groot toeriste aantreklikheid is die Couara leerlooiery, waar kameel-, skaap-, bees- en bokleer al vir amper 'n duisend jaar op dieselfde manier verwerk word. Ons was vertel dat die reuk oorweldigend sou wees, maar het dit nie so gevind nie. Om die leerlooiery te sien, moet mens deur een van die winkel eienaars genooi word om vanaf hulle dakterrasse daarna te kyk. Daarna word daar dan natuurlik verwag dat iets in die winkel gekoop moet word. Die man het hard probeer om aan ons 'n kameel poef te verkoop en selfs gedemonstreer hoe klein hy dit kan oprol om in my tas te pas, maar hy moes maar verlief neem met die kameel belt wat ons vir Mnr. Kaalvoet gekoop het. Die prys was heel billik vir 'n handgemaakte belt en hulle het selfs verstellings gedoen vir geen ekstra koste. Die eienaar van die winkel, Mnr Couscous (sy regte naam!), het verduidelik hoe die leer verwerk word. Die wit/blou vate bevat onderandere urine en duif guano wat oortollige vet en hare vanaf die velle stroop en ook die leer sag maak. Dan is daar 'n groot watermeul wat hierdie mengsel afvas. Ander vate bevat kleurstowwe gemaak van natuurlike produkte soos papawer blomme (rooi), indigo (blou), kruisement (groen), henna (oranje), sederhout (bruin) en saffraan en granaat (geel). Die geel kleursel is die duurste en word dus met die hand opgesit. Die velle word ook met olyfolie bewerk om dit glad en blink te maak.  Alles word met die hand gedoen en mens voel nogal sleg om op die rue van die werkers neer te kyk soos hulle werskaf in daai bitter warm son.   


Buite Ramadan is dinge sekerlik anders, maar as jy gedink het die strate is besig gedurende die dag, wag net vir die kanonne om af te gaan om die breek van die vas aan te kondig en die meuzzins om te begin roep na die gelowiges vanuit die minarette. Na die eerste maal is almal verfris na die lang dag sonder kos en water en is almal baie jolig. Skielik is daar selfs meer mense, kinders en katte op straat. Meer kos, meer verkeer en meer geraas. Op die plein is daar 'n karnaval met rondomtalies, karretjies en stalletjies. Die atmosfeer is aansteeklik en almal is gemoedelik. Hulle sê hulle kuier reg deur die nag, maar na 'n lang dag se stap, is ons baie vroeg in die bed. Deur die nag skiet hulle weer 'n paar keer die kanonne, dis so hard dat daar stof uit die dak uit kom en die bed bewe. Ons was so moeg, dit het ons skaars wakker gemaak.

Oppad terug was ons gedetermineerd om die bus terug lughawe toe te neem, maar eers het ons afskeid geneem van die stad, deur na die Bjord Nord toe te gaan om van buite neer te kyk oor die ou Medina. Hierdie uitkykpunt en fort is in die 16de eeu gebou, nie om die stad teen inval te beskerm nie, maar om 'n ogie te hou oor die onrustige populasie. Vandag is dit 'n wapen museum. Toegang is netelig en ons was die enigste mense daar. Van hier kan jy ook die Joodse begrafplaas sien wat ons nooit besoek het. Ons is vertel dat die sonsondergang baie mooi is van daar af, maar dat daar skelms by die hekke is wat toeriste vreeslik indoen en het dus nie gegaan nie.  


Buiten die Medina, waar motors nie mag kom nie, vind jy oral Petit Taxis, sulke klein rooi karretjies, wat jou orals heen neem. Hulle is baie goedkoop, maar mens moet seker maak die man verstaan waarheen jy wil gaan en dat sy meter werk. Hulle mag jou dalk probeer vertel hul meter is gebreek  of meters tel nie in die aand nie, maar dit is nie waar nie. Bo-op die Petit Taxi se dak is daar 'n vlak boks waarin jy jou bagasie kan laai met niks om dit vas te hou nie. Met hoe die mense daar ry, het ek nie gewaag om my tas daarin te sit nie, maar Mnr. Kaalvoet het dit gedoen en daar was geen probleem nie. Aangesien die strate ook nie vol tasse gerol het, moet ek aanneem dat dit 'n aanvare plek is om jou tas te bere, maar ek kon dit net nie doen nie. Terwyl jy ook natuurlik met jou taxi man op straat praat, sal ander taxi manne ook daar opdaag en jou probeer neem na allerhande plekke - ignoreer hulle net en probeer om nie in 'n stryery of gesprek met hul betrokke te raak nie. Terwyl jy nog met hulle redekawel, klim iemand anders in jou taxi en ry daarmee weg.

Ons het ons pad gevind na die trein stasie vanwaar die nommer 16 bus na die lughawe toe vertrek. Die stasie self is pragtig, modern en skoon terwyl die busstop, effens verder af in die straat, lyk soos 'n plek waar jy eerder nie wil wees nie. Niks word aangedui nie en taxi manne bly aan om jou te vra of hulle jou kan lughawe toe neem. Ons het maar saam met die tannies staan en wag in die skadu van 'n advertensie bord en gehoop die son braai ons nie vrek voor die bus daar opdaag nie. Ons geluk was in en dit was nie lank voor die bus daar opgedaag het nie. Dit was verspot goedkoop, maar 'n man wat reg in die deur sit, het wel probeer om vir my selfoon 'n nuwe tuiste te vind. Gelukkig is ek baie gesteld op aanraking en het hom beloon met 'n vreeslike vuil kyk. Hy het nie lank daarna die bus verlaat. Ons was die enigste toeriste op die bus en aangesien die taxis so goedkoop is, kan ek verstaan hoekom mense dit sou vermy, maar ons het die ondervinding geniet.


By die lughawe was alles natuurlik Afrika tyd en het ons vlug laat vertrek sonder enige afkondigings of verduideliking, maar ons het rustig op die gras onder die palmbome gekuier en geluister na die gekweter van die swaeltjies terwyl ons wag. Ek was bly ek het gegaan en ek het dit geniet om daar te wees, maar was ook verlig toe dit tyd raak om huis toe te gaan. Dis nie 'n vakansie wat jy sommer aan ander aanbeveel nie, tensy hulle mal is oor stalletjies en stry, en jy weet self nie hoekom jy soontoe wil gaan nie, maar die plek het 'n vreemde aantrekkingskrag wat maak dat jy weer wil gaan. 

Volgende keer gaan ek meer skaaptjops eet en beslis meer inkopies doen. Hulle sê dit is baie mooi daar in April... 

Wednesday, 10 June 2015

Klapper Beskuit vir 'n koue Somersdag

Met die weer wat net dreig om te reën en die grys wolke wat heeldag oor ons hang, het ek gister besluit genoeg is genoeg, en my gagga gasoond ingespan om lekker beskuit te bak. 

Sedert ons hierheen getrek het, het ek nog nie kans gesien om beskuit te bak nie, want my oond is net nie lekker nie. Die gebak is oneweredig en dinge verbrand bo-op terwyl dit terselfde tyd nog rou bly onder. Ek het dus 'n bietjie gesukkel om my beskuit gebak te kry, maar ek deel graag die resep, wat enige ander oond sommer tjoef tjaf kan kaf draf. 

Klapper Sonneblomsaad Beskuit Resep

1kg Bruismeel
5ml Sout
200gr Ligte Bruinsuiker
100gr Klapper
1 koppie Sonneblomsaad
250gr Botter (gesmelt)
500ml Karringmelk
1 teelepel Vanilla geursel
2 Eiers

Voorverhit jou (hopelik normale) oond tot 180 grade. Smeer een groot bakpan of twee broodpanne soos benodig.

Meng die droë bestandele saam in 'n groot bak. As jy baie fluks is, kan jy die meel sif, maar ek glo nie dis nodig nie. 

Smelt die botter in die mikrogolf en voeg dan die karringmelk daarby. Die karringmelk help om die botter af te koel, sodat die geklitste eiers dan bygevoeg kan word sonder enige probleme. Voeg dan die vanilla by. 

Maak 'n holte in die droë mengsel en vul dit met die nat mengsel. Meng dit twee goed - jy gaan tien teen een jou hande moet vuil maak. 

Skep uit in bakpan(ne) en bak in die oond vir ongeveer 'n uur tot 'n toetspen skoon uitkom. 

Laat dan effens afkoel, sny in vingers en droog in die oond uit teen ongeveer 100 grade. 

Ek het hierdie keer 'n mengsel volgraan en wit bruismeel gebruik om darm so effens my gewete te sus - met al daai botter en suiker is beskuit nou nie juis gesond nie - en ek voeg ook sommer ander sade en selfs rosyne, of in hierdie geval cranberries, by soos ek lus kry. Ek vind solank jou basiese resep reg is, kan mens maar las en aanpas soos dinge vir jou lekker is met meeste beskuit resepte. Die resep is wel lekker nes hy is en mens het nie eens die sonneblomsaad nodig as jy dit nie byderhand het nie. 

Ek moet altyd 'n stukkie eenkant hou voor ek begin droog, sodat Mnr. Kaalvoet daarvan kan eet met botter op. Die voëls kry weer al die krummels en so hou ek almal gelukkig.

Vandag voel ek dus glad nie skuldig om 'n bietjie terug te sit met 'n koppie koffie en 'n bakkie beskuit, kamera in die hand en my oog op die tuin, waar die voëls vrate maak van hulself oor al draai lekker beskuit krummels. 

Monday, 1 June 2015

Die Somer is hier..of is dit?

Vandag is die 1ste Junie en amptelik die begin van die Britse Somer. Hoera! 

Lê ek en baai in die tuin? Gaan ons die naweek see toe? Het ek 'n rok aan en is my sonbril aan my neus vas gegom? Nee, natuurlik nie. Die wind waai 'n woeste hou en dit reën basies al drie dae aaneen...en dit gaan sweerlik so aanhou vir nog drie dae. Tipies! Natuurlik word daar beter weer voorspel vir die naweek, maar dit sal ek eers glo as ek dit sien.

Mei was buitengewoon koel en die groente in die tuin vorder dus maar bitter stadig. Ek het gehoop om nou al iets te hê om te wys vir my harde werk, maar kan bloot spog met 'n paar aarbei en ertjie blommetjies. 


My een troos die afgelope maand - en dit was 'n reuse vreugde - was al die baba voeltjies wat trotse ouers mee kom spog het in ons tuin. Die spreeus het eerste hul opwagting gemaak met hul reuse kroos van vaal bruin kinders. Die blue tit het haar kleintjie kom leer bad in ons dammetjie en toe het die mossies ook hier opgedaag met die drie ougatse goedjies wat ek al ooit gesien het. Oral hol hul rond met vlerkies was flap en groot oop bekkies. Ouers moet net kos instop en verder moet ek net katte wegjaag. Die mossies is elke dag hier en is so mak, hul kom loer vir my deur die agterdeur opsoek na kos. Die blackbird was oor die naweek hier met sy een reuse kind, maar die het ons nog nie weer gesien nie. Die ouers dra nog kos aan, so ons weet hy word iewers versteek.


Dis natuurlik nie net die voëls wat tans kleintjies grootmaak nie. Onlangs het ons 'n bitter klein muis ook onder die laventel bossies gewaar, so rats, jy kan hom skaars met die blote oog sien. Met ons ou muis gaan dit nog goed en ons is al dik pelle. Ek los vir haar kos op spesiale plekkies en sy kom uit om dit te eet terwyl ek nog in die tuin rondwoel, ewe mak. Ons is natuurlik nie seker hoeveel muise ons het nie, maar hulle is welkom hier - al eet hulle al die voëls se kos op.


Verder maak die Iris bolle wat ek oral geplant het nou hul verskyning en is daar oral spikkels kleur in die tuin. Ons tuin tafel en stoele is ook geverf en gereed vir warmer dae en ek kan nie wag tot ons weer 'n slag buite kan sit en kuier.

Tuesday, 5 May 2015

Ons maak vordering

Gister het Mnr. Kaalvoet 'n bietjie vakansie gehad en het ek hom lekker in die tuin ingespan om vir ons 'n windskerm te bou terwyl ek van my plantjies uitgeplant het. 

Die weer hier wil maar net nie regkom nie en vreeslike winde word vir die volgende paar dae voorspel. Dus moes ons maar 'n plan maak, want my plantjies kon net eenvoudig nie langer in die huis bly nie. Dus het ons gister lekker in die tuin gewerk en ek is trots op wat ons uitgerig gekry het. Met net 'n paar potte grond behoort ons heelwat groente te kan groei en sien ek baie uit om te sien wat ons kan lewer.

In die voorafgaande dae het ek elke dag my jong plantjies buite gelaat om hulle gewoond te maak aan die verskil in temperatuur binne en buite die huis. Aangesien die volgende paar aande heel warm gaan wees, is dit nou ideaal om hulle uit te plant. Dit is belangrik om die plantjies te akklimatiseer voor hulle uitgeplant word, andersins mag die skok dalk hul ondergang beteken en sal hulle groei beslis vertraag word. Die grond het ek vooraf goed voorberei en deurgewerk met beenmeel en was alles dus gereed vir die groot trek. 

Een groot teleurstelling tot dusver is die feit dat ek nie die tromboncino saad, wat ek vanaf die internet bestel het, kon kry om te ontkiem nie en wil dit voorkom asof ons dit nie gegroei gaan kry nie. Ek dink die saad is dalk beskadig omdat dit al die pad van China af gekom het - nie dat hulle dit duidelik gemaak het op die internet nie. Dit het my beslis 'n les geleer en ek sal maar die saad moet gaan soek in 'n kwekery en weer probeer.

Ertjies - voor en na die kruisement bygevoeg is
Die kruisement saad het ook nie opgekom nie, maar ten minste kon ons die naweek na die naaste kwekery gaan en vir my 'n klein plantjie koop. Die is nou netjies in die middel van my ertjies geplant en hopelik sal die reuk maak dat die muise my ertjies uitlos. My ertjies vorder tot dusver heel goed en ek glo hulle sal die eerste oes lewer. Nou moet die wind hulle net nie omwaai nie.

Die klein kruie plantjies was natuurlik op 'n uitverkoping, 3 vir £5, en kon ek dus nie help om vir my nog kruie aan te skaf nie. Saam met die kruisement plantjie het ek toe sommer ook 'n klein roosmaryn plantjie gekoop en 'n lieflike appel mint. 

Appel Mint
Roosmaryn is een van my gunsteling kruie en die blommetjies sal bestuiwers (bye) lok na my groente. Die appel mint lyk nie net mooit nie, maar ruik na byde appels en kruisement en ek dink dit sal heel heerlik in slaaie en tee wees. Of sommer net in 'n glas koue water na 'n lang dag se werk in die tuin.

Die appel mint het ek in 'n ou aarbei pot geplant. Al my ander aarbeie het mooi die winter oorleef en dra reeds blomme, maar hierdie een het gevrek. Toe ek hom natuurlik uithaal kon ek sien hoekom - vine weevils! Die kewers eet nie net vreeslik aan jou groente en blare nie, maar die larwes wat hulle in die grond lê, eet die wortels van plante en sodoende vrek die plant dan. Ek het versigtig al die larwes uitgehaal en hulle in 'n klein bakkie bo-op my muur neergesit. My luister het hulle baie vinnig en heel gelukkig opgeëet. Ek het glad nie sleg gevoel nie.

My murgpampoentjies, skorsies, beet en tamaties is nou almal uitgeplant en ons het soveel moontlik beskerming rondom die plantjies opgerig. Nou sal ons maar moet wag en sien hoe dit gaan.

Intussen kom my kappertjies en gousblomme goed aan en het ek sommer 'n paar radys saadjies ook op plekke ingedruk. Die pronkertjies groei maar stadig, maar hopelik sal hulle opskiet sodra die son weer 'n slag uitkom. As ek so na die weervoorspelling kyk, mag dit dalk nog 'n wyle wees, maar ons bly maar hoopvol. 


Groente groei gebeur nie oornag nie en dit is soms harde werk, maar die stryd laat die oorwinning soveel soeter smaak.  

Monday, 13 April 2015

Nuwe tuin, nuwe uitdagings

Met 'n nuwe tuin, kom daar nuwe uitdagings, waarvan die gebrek aan sonlig die grootste hier by ons gaan wees. Ons nuwe tuin is omring met twee groot bome, bosse en 'n motorhuis en kry dus nie naastenby genoeg son om ordentlik groente te groei nie. Verder blyk dit om inelkgeval kouer hier te wees as by ons vorige plek, en moet ek dit in ag neem wanneer dit by plante uitplant kom. Asof dit nie erg genoeg is nie, is ons tuin ook een of ander wind tonnel. Net gister was dit 'n relatiewe heerlike dag met 'n matige sterk wind, maar in my tuin het dit woes gewaai. My voëlstander het tot onlangs gereeld omgewaai, tenspyte van die swaar klippe op sy voetskuk, totdat ek dit geskuif het en met draad aan 'n paar takke vasgemaak het. Aan niks van hierdie dinge kan ek veel doen nie, maar ek gaan ook nie dat dit my keer om te probeer nie.

Die ander uitdagings sluit die plaaslike tuinbewoners in. Krimpvarkies help met slakke en word verwelkom, maar my bosmuis sal tien teen een net so graag my vars ertjies eet, as wat sy die voëlsaad steel. Die bosduiwe hier eet ook graag aan my plante en ek kan sommer klaar aflei dat ek sweerlik nie een aarbei gaan sien as dit van hulle afhang nie. Ons gaan nie te min die uitdagings aanpak en sien wat ons uitgerig kan kry. 

Die vorige huurders het 'n hele paar bruikbare leë potte agtergelaat. Die grond hier is ook so klipperig dat ek vir 'n paar dae lank klippe uitgespit het om onder in my bakke te gooi vir dreinering. Verder het Mnr. Kaalvoet vir ons 'n lieflike hout boks van die werk af gebring, wat hy wonderlik omskep het sodat ons boontjies en meer daarin kan groei. Ons aarbei plante het ons van die vorige huis af gebring en hulle het goed die winter hier oorleef. Baie van my groenuie het ook die winter deurgemaak en is gereed om te blom.

Hierdie jaar gaan ons probeer om ou getroues en staatmakers, soos beet, murgpampoentjies en boontjies te groei. Ek gaan ook weer tamaties groei, maar omdat daar so min son is, mag dit dalk nie lekker groei nie. Daar is geen spasie vir mielies nie, so hulle is van die menu af, maar ek gaan wel ertjies groei. Verder gaan ek weer probeer om skories te groei en die vreemde plant van die jaar gaan 'Tromboncino' wees. Tromboncino is 'n tipe murgpampoentjie maar hy is lank en krom en rank vreeslik. Die boks met raam, wat Mnr. Kaalvoet gebou het, is spesifiek hiervoor. Ek dink nie ek het rerig genoeg spasie vir so 'n groot plant nie, maar ek wou dit nie te min probeer. 

Aangesien ek bekommerd is oor die muisie het ek besluit om kruisement (Spearmint) te probeer groei, want die reuk sit hulle blykbaar af. Geen van die saadjies het nog opgekom nie, maar ek sal weer probeer wanneer dit effens warmer is - hou duime vas. 

Ek gaan hierdie jaar ook gousblomme (Calendula) groei. Die lekker geel blommetjies lok goeie insekte soos goudogies (lacewings) en liewenheersbesies (ladybirds), wat dan slegte goggas in toom hou. Kappertjies maak ook weer 'n verskyning. Hulle dien as 'n offering aan die goggas in die hoop dat die goggas eerder kappertjies sal eet as my groente. Verder lok die helder blomme bye en gee hulle kleur aan die tuin. So hoop ek om, soos in vorige jare, geen gifstowe op my plante te gebruik nie.

By ons nuwe huis het ons nou 'n groot hoeveelheid voëls wat elke dag hier kom kuier. Ek hoop hulle sal meerendeels my groente uitlos, maar ek is bekommerd oor die groot bosduiwe. Die duiwe wat by ons vorige huis gewoon het, was seker stads duiwe, maar hierdie duiwe wat ons nou het, eet nogal graag my plante en ek kan insien dat hulle my groente as 'n heerlike versnapering kan aansien. Ek het nog nie 'n plan beraam om hulle van my plante af weg te hou nie, maar nood kweek vindingrykheid en ek is seker as dinge eers begin skeef loop, sal ek wel aan iets dink - hopelik is dit dan nie reeds te laat nie.

Lys van beplande plante:

Beet - Sanguina & Boltardy
Boontjies - Blauhilde
Chard - Bright Lights
Ertjies - Hurst Greenshaft
Gousblom - Calendula Officinallis
Kappertjies - Tropaeolum Majus
Kruisement - Mentha Spicata
Murgpampoentjies - Verde di Milano
Pronkertjies - Cupani
Skorsie - Smarag
Tamatie - Karalik & Latah
Tromboncino - Courgette Tromboncino Albenga

Baie van my saad het ek in vorige jare gekoop en het volgens die verpakking reeds verval, maar ek vind dat as jy jou saad mooi bêre, jy 'n goeie kans het dat hulle 'n tydjie sal hou. Baie van my saad kom dus die lekker op nie, maar ek hoop tog om 'n paar gesonde plantjies te kweek. Meeste is reeds binneshuis gesaai en van hulle het al opgekom en die ertjies is alreeds buite geplant. Hopelik is daar oor 'n maand of wat lekker vordering en het ek oor 'n paar maande gesonde, vars groente uit my eie tuin.



Tuesday, 31 March 2015

Krimpvarkies

Laas jaar was ons heel verbaas toe ons sekuriteits lig een aand aangaan en ons 'n krimpvarkie in ons nuwe plek se agtertuin vind. Om hom/haar welkom te maak het ons met tyd 'n skuiling gebou waarin ons elke aand 'n bakkie met kos uitgesit het asook 'n krimpvarkie huisie, gebou uit bakstene, indien die krimpvarkie 'n slaapplekkie gesoek het om in te oorwinter.

Elke aand het die varkie gekom en sy kossies geëet en soms het ons gewonder of daar dalk meer as een is. Ons het nooit twee op dieselfde tyd gesien nie en een krimpvarkie lyk maar nes die volgende een, so ons kon nooit seker wees nie.

Soos die dae al korter en kouer geword het, het ons al meer kos uitgesit, bekommerd dat die krimpvarkie nie genoeg geweeg het om die koue winter in hibernasie te oorleef nie. Iewers in November het die krimpvarkie nie meer gekom nie en het ons dus geweet hy/sy het begin hiberneer.

Deur die winter was ek maar soms bekommerd oor of ons hom weer sou sien, maar het geglo ons sou. Lente het aangebreek en ons krimpvarkie is weer terug. En nie net terug nie, maar daar is ook 'n maat. Nou die aand het ons hulle saam by die kos bakkie gekry. Die geritsel by die huisie wat ons gebou het, het ook aangedui dat ons krimpvarkie heel moontlik die huisie gebruik het om te oorwinter. Onlangs het ek ook agtergekom die krimpvarkie is besig om ekstra blare en dinge by die huisie in te sleep. En het gisteraand strooi uitgegooi en dit is ook deur die nag die huisie in. Miskien kikker hulle bietjie die plekkie op omdat daar baba krimpvarkies beplan word - ek kan maar net hoop.

Krimpvarkies is 'n tuinier se vriend. Hulle sal nie jou plantjies eet nie en elke aand jag hulle vir slakke, wurms, kewers, ruspes, oorkruipers, duisendpote en ander goggas. Mense het in die verlede vir krimpvarkies brood en melk uitgesit, maar hulle lei aan laktose intoleransie en brood het nie genoeg voedingswaarde vir hulle nie. As jy krimpvarkies wil uithelp met ekstra kos, kry mens hier spesiale krimpvarkie pille, maar hulle sal ook kat of honde kos eet of ongesoute gekappe neute. My krimpvarkies verkies meelwurms (mealworms) bo enige iets anders en ek koop dit nou sommer in grootmaat aan by hengel plekke. 

Mens moet ook natuurlik sorg dat daar altyd water naby is want krimpvarkies drink nogal baie water met al die droë kos wat hulle eet. Ons probeer ook om hulle nie te veel te versteur nie, sodat hulle gemaklik sal voel in ons tuin. Ons krimpvarkie is nou al so gewoond aan ons, dat hy/sy saans by die kosbakkie wag vir sy kos. Nou die aand moes ek glad die bakkie onder sy pote uittrek sodat ek dit kon volmaak en hy het nie eens omgegee nie. 

Mnr. Kaalvoet het ook vir ons 'n rooi filter bo-oor ons buitelig gesit, sodat die lig nie die krimpvarkie versteur as ons uitgaan nie. Nou eet hy rustig voort as die lig aangaan en is glad nie gepla nie.

Miskien sal die liefde blom tussen ons twee krimpvarkies en kan ek later die jaar weer vir julle skryf met opwindende nuus. Groetnis!

Ps. Ons krimpvarkie huisie is iets soortgelyk, soos hier uiteengesit deur Wildlife Gadgetman - wildlifegadgetman.com/make-a-hedgehog-home-out-of-bricks/

Thursday, 12 March 2015

Soveel om te verken

Ons is nogal gelukkig om deur soveel groen omring te word hier by ons nuwe huisie in Fleet, Hampshire. Deur die Winter was dit nie altyd gerieflik om oor naweke te gaan verken nie, maar nou soos die weer warmer word, kom ons meer en meer uit om dit te geniet. 

Net 'n paar honderd meter van ons huis af, is daar 'n oop veld met 'n klein dam. Daar gaan sit ons saans in die laaste son en kyk na die Reiers wat paddas vang en hou ons ons oë oop vir valkies en jakkalsvoëls wat kom muisie vang. As ons gelukkig is, sien ons selfs 'n bokkie of twee. Daar is hase ook, maar hulle is baie sku. In die dam het die paddas reeds hul eiers gelê en wag ons vir die paddavissies om hul verskyning te maak.


As jy die pad tussen die bome deur volg, kan jy reg bo-oor die M3 stap, waar jy dan in Minley Woods uitkom. Dit grens weer aan Yateley Heath Wood en van daar kan jy aanstap na nog plekke, as jou bene dit sou hou. Hier kan jy stap na hartelus. Ek het al 10km op 'n dag daar gestap en nog nie die einde gevind nie. Daar is oop velde en Dennebosse, koppies met Eikebome en modderige paadjies waar die kleurryke fisante rasserig afdraf. Orals loop daar stroompies en hoor mens die gesang van voëls. Onlangs het ek selfs 'n jakkals in die son tussen die bome sien dut. Sy was so pragtig, haar pels het so sag gelyk en sy het my net rustig lê en beloer - heel geduldig terwyl ek vinnig fotos neem.


Oor naweke vat ons die pad na twee naby geleë natuurreservate - Hazeley Heath (4 myl van ons af) en Farnham Heath (8 myl van ons af). Hazeley Heath is oper met heide en grasvelde - hier staan mens 'n goeie kans om 'n Red Kite ('n tipe rooi valk) in aksie te sien. Daar was so baie roofvoëls toe ons laas daar was, dat ek glad later 'n nekpyn gekry het van so opstaar in die lug in.  


By Farnham Heath is hulle besig om stadig maar seker van die Dennebome ontslae te raak en die landskap terug te vat na sy natuurlike heide en brem bosse. Farnham Heath grens ook aan Bourne Wood, wat 'n wonderlike groot bos is om deur te stap.


Orals waar ons ry, is daar plekkies waar mens kan aftrek langs die pad en in die bosse in kan verdwyn. Soos ons ry maak ons planne om in die toekoms daar te stop en soms voel ek ons gaan nooit alles te sien kry nie. Dit skep alles sulke heerlike vooruitsigte. Ek kan nie wag om nog te gaan verken. Die natuur is 'n wonderlike lavenis vir die siel.