Monday 29 June 2015

'n Reis terug in Tyd - Morokko, Fes

Soms moet mens maar 'n kans vat, die dobbelsteuntjies gooi en kyk waar hulle land. 'n Paar weke terug het ons bloot geweet ons wou op vakansie gaan en dat dit goedkoop moet wees. So soek ons toe die eerste, goedkoopste vlugte die land uit en bevind onsself laas week in the ou Medina van Fes, Fes el Bali, in Morocco. 


Sommer met die aankoms kon ons sien dat dinge baie anders gaan wees hier. Almal is uit daarop om besigheid te doen en niemand vat nee vir 'n antwoord nie. Ons het ons huiswerk gedoen en was van plan om die bus te vat vanaf die lughawe na die Medina en het 'n dame, wat in die lughawe werk, gevra waar ons die bus kan kry. So staan ons, saam met een ander Britse ou, by die busstop en wag terwyl die Noord-Afrika son soos 'n rooi vlam agter die horison verdwyn. Dadelik kom daar manne aan met 'n ou wit Mercedes, hulle maak die kattebak oop en mik om ons bagasie in te laai. Nee, keer ons, ons wag mos vir die bus. Nee, die bus kom nie meer nie, dis Ramadan - of so lei ek af van die Frans en Arabies wat hulle praat. Maar die dame het gesê! So wag ons, terwyl die een na die ander taxi daar stop, baie gedetermineerd om die bus te vang. Sekerlik, as die bus nie sou kom nie, sal een of ander gawe persoon, wat nie 'n taxi besit nie, dit mos vir ons sê. En hoekom sal die vrou in die lughawe niks genoem het nie? So kom die sterre uit en vreemde goggas begin hard hier in die bosse langs die pad skree en gee ons maar later in en klim agter in 'n taxi. 

So 'n rit het ek nog nooit beleef nie. Mnr. Kaalvoet wil ewe saggies by my weet of daar dan nie 'n spoedbeperking is nie. Ek dink die bordjie sê 60, maar ons is te vinnig verby. Die wit skip vleg deur die verkeer en ons vaar verby die ander motors, kinders, donkies en motorfietse. Hy pyl op ander motors af en flits dan sy ligte as hulle nie uit die pad wil kom nie. Daar is bane, maar soos die spoedbeperking en ander verkeersreëls, is dit bloot 'n voorstel, wat meestal geignoreer word. Hierdie man is begeesterd om ons so gou moontlik by die Medina te kry. Ons hou maar vas en glo ons gaan daar uitkom.


Die Medina, Fes el Bali, is 'n groot omringde stad en is die grootste motor vrye stedelike ruimte in die wêreld. Die stad was gestig deur Idris I in 789 en word beskou as die mees omvattende en bes bewaarde historiese stede in die Arabiese Moslem wêreld. Ons is by die Blou hek,  Bab Boujloud, afgelaai en het vandaar die nou, besige strate ingevaar om ons hotel, die Riad Tayba, te gaan soek. 

Ons het dit werklik gelukkig getref deur heel toevallig verblyf te bespreek wat nie net naby die hek is nie, maar ook nie te moeilik was om te vind nie. Almal wil jou "help" om by jou hotel uit te kom en jou tasse te dra, maar verwag dan natuurlik geld en mag jou dalk selfs na verkeerde plekke vat of jou aanraai om eers aan te gaan by plekke wat jy nie beplan het nie. Ons was vriendelik, maar ferm en rerig trots en bitter dankbaar toe ons uiteindelik by die pragtige voordeur van ons Riad uitgekom het. Met die eerste oogopslag was die strate daai aand in die donker nogal skokkend met al die baie mense, die geraas, die vuil reuke, die gemors en rou vleis, verskrikte hoenders en ganse en al die baie katte. Oral is daar katte. Hulle lê in hopies, hulle bedel, hulle sit op die dakke, hulle loer vir jou agter mense se bene en onder tafels uit, hulle ignoreer jou en sit in die middel van die pad. Van hulle is klein en van hulle is selfs half mooi, maar hulle is almal maer en van hulle lyk half dood. In die daaropvolgende paar dae het ek selfs 'n paar strate herken aan hulle katte, want die mense en ware verdwyn en dan lyk alles anders, maar die katte bly dieselfde. Toe ek ons gits die volgende oggend vra waarom daar so baie katte is, sê hy ewe ernstig...omdat ons hulle nie eet nie.


Riad Tayba was 'n lafenis vir ons gedurende ons kuiertjie in Fes. Die nou ingang ontsluit in 'n pragtige blou teel atrium met groot rooi Morokaanse sofas, pragtige deure en tradisionele decor. Met slegs 5 kamers en lieflike balkonne en terrasse is die verblyf intiem en rustig. Ons is dadelik met ons aankoms bedien met heerlike sterk,soet kruisement tee en ons lugversorgde kamer was koel, ruim en rustig. Soggens het ons vars plaaslike brode, wat die tannies op die straat verkoop, en konfyt, kaas en olywe geniet saam met vars lemoensap en 'n paar koppies geurige koffie. Ten spyte van die raserige vuil strate, was ons Riad altyd stil en skoon. Die bestuurder het ons die eerste oggend op 'n toer van die Medina geneem wat ons baie gehelp het om onsself te oriënteer in die ongelooflike deurmekaar en verwarrende stad. Al die persooneel was ongelooflik beleef, waardig en behulpsaam en ek sal die plek aan enige iemand aanbeveel.


As jy nie 'n Moslem is nie, mag jy ongelukkig meeste van die historiese geboue hier nie betree nie en kan jy bloot fotos deur die deure van buite af neem. Die Bou Inania Madrasa is een van die min uitsonderinge en is dus 'n moet. Die Madrasa is gebou deur Sultan Abou Inan tussen 1351-56 en word geag as die puikste Meriniede monument in die wêreld. Geen omkoste was gespaar in die bou van hierdie skool en moskee nie. Legende vertel dat die Sultan by die voltooing van die gebou die rekeninge in die rivier gegooi het - 'n ding van skoonheid is buite berekening. Elke oppervlak is versier, daar is gekerfde sederhout en gedetailleerde marmer en sandsteen mure, lieflike koepelvormige plafonne en teels geverf en glasier met Arabiese gedigte wat die lof sing van die Sultan. 


In teenstellings met hierdie wonder, is die strate vuil en besig. Op sekere plekke kan die reuk te veel raak, maar dan kom daar 'n waentjie met 'n hoop kruisement verby en maak alles beter. Almal wil aan jou dinge smous. Sonder motors, word muile en donkies gebruik om groter goed te vervoer en selfs die vullis te verwyder in die oggende. Enkele mense ry met poegies en goed daar rond, maar die inwoners spreek vinnig hul misnoe oor hulle uit en sal hulle soms selfs op die rug slaan as straf. Hoenders, ganse, hase, duiwe, skilpaaie, vinke en  kanaries sit in koukies buite stalletjies. Kinders speel oral bal en hol in raserige groepe rond. Op onverwagste plekke kom jy op die lieflikste mosaiek muur fonteine af waar mense bottels vol water kom haal, hulle voete afspoel en selfs hul perde en donkies was, skynbaar onbeindruk deur die fontein se skoonheid of ouderdom. Vir hulle is dit alles bloot alledaags. Vleis word voor jou verwerk en hang aan hakke, die reuk oorweldigend. Oral sit vrouens en soet gebak optower, in afwagting van die breek van hul vas teen sonsonder. Hulle stapel dit in hoë torings, deurdrenk met heuning en stroop, waarom die bye heeldag boer. Die groter meerderheid van ware is handgemaak en elke prys is onderhandelbaar. Meeste van die goed wat ons gekoop het, was teen meer as helfte die prys wat oorspronklik voorgestel is. Mense sal jou probeer oortuig dat jy steel die kos uit hul kinders se monde, maar wees gerus, niemand hier sal ooit enige iets teen 'n verlies verkoop nie. Probeer om nie aan iets te vat as jy nie werklik van plan is om dit te koop nie. Die mense praat Arabies, Frans en bietjies Spaans en Engels. By die groter stalletjies en restaurante sal jy regkom met Engels en almal is so gretig om jou van jou geld te verlos dat hulle hulself verstaanbaar maak, al weet jy nie altyd na die tyd hoe jy dit regekry het om te kommunikeer nie. Toeriste kan meerendeels aantrek wat hulle wil, maar vir vrouens sal ek aanbeveel om wel langrokke te dra en jou arms toe te hou. As die son skerp is, is dit nogal 'n verligting om jou serp oor jou kop te hou en sal die tannies minder vir jou gluur. Dit is ook beter om in 'n paartjie te loop, want as jou man effens agter raak sal jy gou vind dat jong mans vreeslik belangstellend is en allerhande praatjies wil aanknoop. 


As die Medina jou 'n bietjie begin onder kry, is die koel skadus van die Jardin Jnan Sbil net 'n kort stappie weg van die hek af. Met lieflike rose, koel fonteine, lemoenbome, kriue en elle lange palmbome is dit 'n heerlike plek om te sit en ontspan. Toegang is vernuut, en die tuine is elke dag oop buiten Maandae.


Restaurante is maklik om te vind, want by elke ingang sal daar 'n man staan wat jou probeer oortuig om in te gaan. Dit is dus 'n goeie idee om vooraf te besluit waarheen jy wil gaan en 'n bietjie onderstoek op die internet in te stel, want as jy onseker lyk gaan hulle jou gou vasvang. Omdat dit Ramadan was, was meeste van die restaurante toe gedurende die dag, maar Cafe Clock was darm oop en 'n welkome ruskans van die besige strate. Dit word besit deur 'n Brit en almal daar kan Engels praat. Die kameel burger is rerig lekker en daar is mooi terrasse waar mens in die skaduwee kan sit en afkoel. Ons het selfs daar eendag die vas gebreuk en 'n tradisionele Ftour gedeel met die eienaar, hul vriende en die personeel. Almal was so gaaf en ons het heerlik saam met hulle gekuier. Ons het ook baie lekker skaaptjops geëet by die Kasbah wat een van die eerste restaurante is soos jy by die Bab Boujloud inkom. Pasop net of die kat steel jou tjoppie. Die Kasbah se daktarras is 'n lekker plek om te sit en kruisement tee drink terwyl jy kyk hoe die mense kom en gaan deur Blou hek. Die toeriste is kostelik! Die eienaar gesels vreeslik lekker elke keer as jy daar verbystap. Die omie het Mnr. Kaalvoet een middag aan die arm gevat en gevra of hy hom nie onthou nie. Ons verduidelik ons was dan gister daar vir tee, maar hy sê nee, man, voor dit, op 'n ander tyd en plek. Nee, verduidelik ons, Mnr. Kaalvoet het 'n baie slegte geheue, ons sal nie kan onthou nie. Die omie lag toe so lekker, nou onthou hy, dit was 500 jaar gelede op Mars dat hy ons raakgeloop het. Maar natuurlik! 


Die ander groot toeriste aantreklikheid is die Couara leerlooiery, waar kameel-, skaap-, bees- en bokleer al vir amper 'n duisend jaar op dieselfde manier verwerk word. Ons was vertel dat die reuk oorweldigend sou wees, maar het dit nie so gevind nie. Om die leerlooiery te sien, moet mens deur een van die winkel eienaars genooi word om vanaf hulle dakterrasse daarna te kyk. Daarna word daar dan natuurlik verwag dat iets in die winkel gekoop moet word. Die man het hard probeer om aan ons 'n kameel poef te verkoop en selfs gedemonstreer hoe klein hy dit kan oprol om in my tas te pas, maar hy moes maar verlief neem met die kameel belt wat ons vir Mnr. Kaalvoet gekoop het. Die prys was heel billik vir 'n handgemaakte belt en hulle het selfs verstellings gedoen vir geen ekstra koste. Die eienaar van die winkel, Mnr Couscous (sy regte naam!), het verduidelik hoe die leer verwerk word. Die wit/blou vate bevat onderandere urine en duif guano wat oortollige vet en hare vanaf die velle stroop en ook die leer sag maak. Dan is daar 'n groot watermeul wat hierdie mengsel afvas. Ander vate bevat kleurstowwe gemaak van natuurlike produkte soos papawer blomme (rooi), indigo (blou), kruisement (groen), henna (oranje), sederhout (bruin) en saffraan en granaat (geel). Die geel kleursel is die duurste en word dus met die hand opgesit. Die velle word ook met olyfolie bewerk om dit glad en blink te maak.  Alles word met die hand gedoen en mens voel nogal sleg om op die rue van die werkers neer te kyk soos hulle werskaf in daai bitter warm son.   


Buite Ramadan is dinge sekerlik anders, maar as jy gedink het die strate is besig gedurende die dag, wag net vir die kanonne om af te gaan om die breek van die vas aan te kondig en die meuzzins om te begin roep na die gelowiges vanuit die minarette. Na die eerste maal is almal verfris na die lang dag sonder kos en water en is almal baie jolig. Skielik is daar selfs meer mense, kinders en katte op straat. Meer kos, meer verkeer en meer geraas. Op die plein is daar 'n karnaval met rondomtalies, karretjies en stalletjies. Die atmosfeer is aansteeklik en almal is gemoedelik. Hulle sê hulle kuier reg deur die nag, maar na 'n lang dag se stap, is ons baie vroeg in die bed. Deur die nag skiet hulle weer 'n paar keer die kanonne, dis so hard dat daar stof uit die dak uit kom en die bed bewe. Ons was so moeg, dit het ons skaars wakker gemaak.

Oppad terug was ons gedetermineerd om die bus terug lughawe toe te neem, maar eers het ons afskeid geneem van die stad, deur na die Bjord Nord toe te gaan om van buite neer te kyk oor die ou Medina. Hierdie uitkykpunt en fort is in die 16de eeu gebou, nie om die stad teen inval te beskerm nie, maar om 'n ogie te hou oor die onrustige populasie. Vandag is dit 'n wapen museum. Toegang is netelig en ons was die enigste mense daar. Van hier kan jy ook die Joodse begrafplaas sien wat ons nooit besoek het. Ons is vertel dat die sonsondergang baie mooi is van daar af, maar dat daar skelms by die hekke is wat toeriste vreeslik indoen en het dus nie gegaan nie.  


Buiten die Medina, waar motors nie mag kom nie, vind jy oral Petit Taxis, sulke klein rooi karretjies, wat jou orals heen neem. Hulle is baie goedkoop, maar mens moet seker maak die man verstaan waarheen jy wil gaan en dat sy meter werk. Hulle mag jou dalk probeer vertel hul meter is gebreek  of meters tel nie in die aand nie, maar dit is nie waar nie. Bo-op die Petit Taxi se dak is daar 'n vlak boks waarin jy jou bagasie kan laai met niks om dit vas te hou nie. Met hoe die mense daar ry, het ek nie gewaag om my tas daarin te sit nie, maar Mnr. Kaalvoet het dit gedoen en daar was geen probleem nie. Aangesien die strate ook nie vol tasse gerol het, moet ek aanneem dat dit 'n aanvare plek is om jou tas te bere, maar ek kon dit net nie doen nie. Terwyl jy ook natuurlik met jou taxi man op straat praat, sal ander taxi manne ook daar opdaag en jou probeer neem na allerhande plekke - ignoreer hulle net en probeer om nie in 'n stryery of gesprek met hul betrokke te raak nie. Terwyl jy nog met hulle redekawel, klim iemand anders in jou taxi en ry daarmee weg.

Ons het ons pad gevind na die trein stasie vanwaar die nommer 16 bus na die lughawe toe vertrek. Die stasie self is pragtig, modern en skoon terwyl die busstop, effens verder af in die straat, lyk soos 'n plek waar jy eerder nie wil wees nie. Niks word aangedui nie en taxi manne bly aan om jou te vra of hulle jou kan lughawe toe neem. Ons het maar saam met die tannies staan en wag in die skadu van 'n advertensie bord en gehoop die son braai ons nie vrek voor die bus daar opdaag nie. Ons geluk was in en dit was nie lank voor die bus daar opgedaag het nie. Dit was verspot goedkoop, maar 'n man wat reg in die deur sit, het wel probeer om vir my selfoon 'n nuwe tuiste te vind. Gelukkig is ek baie gesteld op aanraking en het hom beloon met 'n vreeslike vuil kyk. Hy het nie lank daarna die bus verlaat. Ons was die enigste toeriste op die bus en aangesien die taxis so goedkoop is, kan ek verstaan hoekom mense dit sou vermy, maar ons het die ondervinding geniet.


By die lughawe was alles natuurlik Afrika tyd en het ons vlug laat vertrek sonder enige afkondigings of verduideliking, maar ons het rustig op die gras onder die palmbome gekuier en geluister na die gekweter van die swaeltjies terwyl ons wag. Ek was bly ek het gegaan en ek het dit geniet om daar te wees, maar was ook verlig toe dit tyd raak om huis toe te gaan. Dis nie 'n vakansie wat jy sommer aan ander aanbeveel nie, tensy hulle mal is oor stalletjies en stry, en jy weet self nie hoekom jy soontoe wil gaan nie, maar die plek het 'n vreemde aantrekkingskrag wat maak dat jy weer wil gaan. 

Volgende keer gaan ek meer skaaptjops eet en beslis meer inkopies doen. Hulle sê dit is baie mooi daar in April... 

3 comments:

  1. Baie interessant en vinnig kennis opgedoen in die kort rukkie wat jul daar was! Het lekker gelees :-) W

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie - dis lekker om ons avonture te deel! Groete!

      Delete
  2. This comment has been removed by a blog administrator.

    ReplyDelete