Wednesday 10 June 2015

Klapper Beskuit vir 'n koue Somersdag

Met die weer wat net dreig om te reën en die grys wolke wat heeldag oor ons hang, het ek gister besluit genoeg is genoeg, en my gagga gasoond ingespan om lekker beskuit te bak. 

Sedert ons hierheen getrek het, het ek nog nie kans gesien om beskuit te bak nie, want my oond is net nie lekker nie. Die gebak is oneweredig en dinge verbrand bo-op terwyl dit terselfde tyd nog rou bly onder. Ek het dus 'n bietjie gesukkel om my beskuit gebak te kry, maar ek deel graag die resep, wat enige ander oond sommer tjoef tjaf kan kaf draf. 

Klapper Sonneblomsaad Beskuit Resep

1kg Bruismeel
5ml Sout
200gr Ligte Bruinsuiker
100gr Klapper
1 koppie Sonneblomsaad
250gr Botter (gesmelt)
500ml Karringmelk
1 teelepel Vanilla geursel
2 Eiers

Voorverhit jou (hopelik normale) oond tot 180 grade. Smeer een groot bakpan of twee broodpanne soos benodig.

Meng die droë bestandele saam in 'n groot bak. As jy baie fluks is, kan jy die meel sif, maar ek glo nie dis nodig nie. 

Smelt die botter in die mikrogolf en voeg dan die karringmelk daarby. Die karringmelk help om die botter af te koel, sodat die geklitste eiers dan bygevoeg kan word sonder enige probleme. Voeg dan die vanilla by. 

Maak 'n holte in die droë mengsel en vul dit met die nat mengsel. Meng dit twee goed - jy gaan tien teen een jou hande moet vuil maak. 

Skep uit in bakpan(ne) en bak in die oond vir ongeveer 'n uur tot 'n toetspen skoon uitkom. 

Laat dan effens afkoel, sny in vingers en droog in die oond uit teen ongeveer 100 grade. 

Ek het hierdie keer 'n mengsel volgraan en wit bruismeel gebruik om darm so effens my gewete te sus - met al daai botter en suiker is beskuit nou nie juis gesond nie - en ek voeg ook sommer ander sade en selfs rosyne, of in hierdie geval cranberries, by soos ek lus kry. Ek vind solank jou basiese resep reg is, kan mens maar las en aanpas soos dinge vir jou lekker is met meeste beskuit resepte. Die resep is wel lekker nes hy is en mens het nie eens die sonneblomsaad nodig as jy dit nie byderhand het nie. 

Ek moet altyd 'n stukkie eenkant hou voor ek begin droog, sodat Mnr. Kaalvoet daarvan kan eet met botter op. Die voëls kry weer al die krummels en so hou ek almal gelukkig.

Vandag voel ek dus glad nie skuldig om 'n bietjie terug te sit met 'n koppie koffie en 'n bakkie beskuit, kamera in die hand en my oog op die tuin, waar die voëls vrate maak van hulself oor al draai lekker beskuit krummels. 

No comments:

Post a Comment