Wednesday, 25 December 2013

Geseënde Feesgety!

En so staan ons jaar vinnig einde se kant toe en is die feesseisoen op hande. Ons boom is opgeslaan, ons klein geskenkies is toegedraai en ons kos is beplan vir more...maar skielik lyk die boom vir my 'n bietjie kaal en wonder ek of ek van iets vergeet het. Natuurlik, my jaarlikste kerskoekies! 

As kind het my Tannie se boom altyd tuisgebakte koekies opgehad en dit was vir my meer magical as al die liggies en geskenke saam. Ek maak dus 'n punt daarvan om self ook koekies te maak elke jaar. Ek het 'n resep wat ek aanlyn gevind het bietjie aangepas en is heel tevrede met die resultate. 

Kerskoekie Resep
  • 100g sagte botter
  • 100g strooisuiker (ek gebruik sommer bruin)
  • 1 geklopte eier
  • 275g gesifte meel
  • 1 teelepel vanieljegeursel
  • Gemengde speserye (kaneel, naeltjie ens.)
Om te versier:
  • 50g versiersuiker
  • 1 - 3 teelepels water
  • kleursel 
Voorverhit die oond tot 190 grade en voer 'n bakplaat met bakpapier uit. 
Verroom die botter en suiker saam tot sag. Voeg die vanielje  en 'n paar skote gemengde speserye by die eier en klits dit dan stadig by die botter mengsel tot goed gemeng. 

Roer die gesifte meel dan in totdat die mengsel saam kom tot 'n deeg.

Rol die deeg uit op 'n meelbestrooide werksoppervlak tot 'n dikte van nie meer as 1cm. Gebruik dan jou gunsteling koekiedrukkers of 'n glasie om die koekies uit te druk. Hou maar die meel byderhande om te help dat alles nie aan alles anders vassit nie. 

As jy van plan is om hulle aan die boom te hang, onthou om 'n gaaitjie te maak om 'n lussie aan te ryg.  
Bak die koekies vir 8-10 minute tot bleek goudbruin. Los dit op die bakplaat vir 5 minute om hard te raak en haal dan versigtig af en laat afkoel op 'n draadrak. 

Vir die versiersel, sif die versiersuiker in 'n mengbak en roer stadig maar seker genoeg water in om 'n gladde mengsel te skep. Voeg dan versigtig 'n druppel of twee voedselkleursel by tot jy die regte kleur bereik het. 

Versier jou koekies soos jy goed dink. Ek is nie besonders goed met hierdie sy van dinge nie, maar ek dink soms hoe leliker hulle is, hoe meer tuisgemaak lyk hulle. 

Jy kan versiersuiker bo-oor sif of glitter of gekleurde of silwer balletjies gebruik om dit verder mooi te maak. Los eenkant om hard te raak, ryg dan garing deur en hang aan jou boom.

Pragtig op die boom en lekker om te eet saam met 'n lekker koppie tee - wat meer wil jy nou hê? Salig! 

Ons wens julle almal 'n vreeslike Geseënde Feesseisoen toe en net alles wat mooi is vir die Nuwe Jaar wat voorlê. Ek het sommer 'n baie goeie gevoel oor 2014... 

Monday, 23 December 2013

Daar is sterre in my man se oë

Mr. Kaalvoet het onlangs verjaar en ek het hom verras met 'n 'geskenkbewys' om homself 'n bietjie te bederf met 'n nuwe teleskoop. Ek hou natuurlik daarvan om deur dit na die planete en maan te kyk (en sterre kyk is baie romanties en als), maar ek verstaan nie helfte van die werkinge van die goeters nie en het hom dus gevra om 'n bietjie meer te vertel, vir die wat belangstel.

Dus...Mr. Kaalvoet, die vloer is joune...
Al kry mens honderde tipes teleskope, is daar basies net twee keuses, en die vraag wat jy moet vra wanner jy een kies is, wat wil jy sien. Diep ruimte voorwerpe (Deep Space Objects) of planete?
Enige normale mens sal sê maar hoekom nie als nie? Wel...vir diep ruimte voorwerpe benodig jy soveel as moontlik lensopening en vinnige fokale lengte (f/5, wide-angle, low-zoom, helder) waar planete 'n kleiner lensopening en lang fokale lengte benodig (f/15, narrow-angle, high-zoom, dof). Ugh!
My besluit was om met iets te gaan wat:
a. Vervoerbaar maar stewig is,
b. Iets van als kan doen, en
c. Nie die bank gaan breek nou of in die toekoms nie.
Schmidt-Cassegrain Telescope (SCT) was blykbaar die antwoord met f/10!

'n Man het 'n paar maande terug 'n Celestron C6 XLT 150mm (6") f/10 Schmidt-Cassegrain met EQ5 mount en tripod met 'n enkel-as motor en 'polar scope' geadverteer op Astrobuysell. Ek het my oog daarop gehad en na hope navorsing hom gekontak in die hoop dat iemand anders dit nog nie opgeraap het nie. Na 'n week se gewag het ons uiteindelik by sy huis opgedaag om dit te besigtig. Die man was vol raad en het vir ons 'n paar ekstras by gegee, plus 'n afslag en ons is baie tevrede daar weg. Dit is 'n aangename verbetering op wat ek reeds het...

Natuurlik, met die koop van 'n nuwe teleskoop, is dit tipies dat die nagte skielik nie meer so wonderlik is vir buite staan met jou nuwe toerusting nie. Uiteindelik was daar darm 'n breuk in die wolke, reen en wind en kon ek dinge uitprobeer. Ek het nog nie die regte fotografiese toerusting nie, maar kon darm net-net fotos met my foon neem van Jupiter om 'n idee te gee van hoe dinge lyk. Hier is die bewyse, sonder enige editing (behalwe crop/cut/paste):

My eerste teleskoop het ek gekoop op eBay en dit was geadverteer as 'for parts or broken', 'n Tasco 114mm (4.5") f/8 Newtonian met EQ1 mount, Aluminium box leg tripod en n 12.5mm oogstuk. Gelukkig het sy vorige eienaar net nie 'n idee gehad hoe om die ding aanmekaar te slaan nie en het ons dus 'n absolute bargain gekry.
Dit is maar groot en effens lomp, maar het my lus vir sterrekunde weer aangewakker. Ten spyte van sy grootte, het ons dit al saam met ons geneem as ons gaan kamp. Ons het al vele dinge gesien onder andere die Swann, Dumbbell en Orion Nebulas en Andromeda sterrestelsel. Natuurlik, nou dat daar twee teleskope is, sal die een sekerlik moet gaan en ek dink ek weet wie...

Ek hoop dat my C6 net so lekker sal saam kamp en dat ons nog wonderlike dinge sal sien. SCT's kan in 'n f/6.3 teleskoop verander word met n fokale verkleiner en dan het mens basies twee teleskope.  Hmpf!

Natuurlik het mens verskillende oogstukke nodig om verskillende dinge te sien. Na ek die eerste teleskoop gekry het, het Mev. Kaalvoet vir my 'n 8-24mm zoom oogstuk gegee.   My vrou gaan nog vir jare geen probleem hê om vir my geskenke uit te kies nie.

Die lysie groei by die dag, maar vir eers is ek heel tevrede...ahoooooooo!!



Sunday, 8 December 2013

Crazy Kersmarkies


Met Manlief se onlangse verjaarsdag is hy lekker bederf met 'n naweek van Britse Kersmarkie pret en ek was natuurlik nie ongewillig nie. As jy nou dink aan Kersmarkies, dink jy seker aan gedetermineerde vrouens wat meestal onwillige mans rondsleep om na dinge te kyk wat hulle nie juis wil sien nie en niemand rerig nodig het nie. Maar moet nie Suid-Afrikaanse Kersmarkies verwar met hulle Britse ekwivalent nie. 

Hier is geen Kerksale met smaakvolle handgemaakte geskenke en stalletjies wat boereworsrolle, kerrie en koekstruif nie. Nee, vanaf middel November word markpleine, hoofstrate en parke hier oortrek met Bavariese houthuisies, mallemeules, rondomtalies, tuimeltreine, teddiebere, lebkuchen en 'n oorvloed van Duitse Bratwurst, Franse Crepes en Spaanse Churros.

Hierdie liplek lekker dinge is hoofsaaklik die rede waarom ons die hordes mal mense, skreuende kinders en verwarrrende naweek verkeer gaan trotseer het. Ons doelwit, om so veel as moontlik van die lekker dinge in twee dae te eet, as wat menslik vir ons moontlik is.

Ja, ek weet dit klink na 'n vreeslike (en baie ongesonde) doelwit, maar hierdie markies kom ook maar net een keer 'n jaar, en elke jaar voel ons ons het nie genoeg lekker dinge ingekry nie. Veral nie die Duitse worsbroodjies nie!

En eet het ons geëet. Saterdag het ons by Kingston se markies afgeskop met Duitse Curry Wurst, gevolg deur Franse Nutella Crepes en Hot Chocolate. Daarna het ons die winkels en strate platgestap en later 'n heerlike lam samoesa gedeel. 

Toe ons voete dit nie meer kon hou nie, het ons die dag afgesluit met uitstekende Japanese Tonkatsu Donburi met sticky rys en groente dim sum in 'n baie gesellige luim. Gelukkig het ons alles gedeel, anders sou ons nie dit alles gemaak het nie, maar het wel baie baie vol en gelukkig by die huis aangekom.

Sondag het ons al die pad gery om Hyde Park se Winter Wonderland  te gaan aandurf. Wat 'n malhuis!! 

Daar was derduisende mense en so baie om jou aan te verkyk en te beleef, ons het omtrent ons voete deurgestap en nekke verrek. Met al die mense, was die pas so stadig, dat elke stalletjie 'n vreeslike temptasie was. 

Daargekom, moes ons dadelik 'n lekker Käse Wurst (Kaaswors) kry om te deel, afgesluk met warm Spiced Cider vir Juan en 'n Hot Chocolate vir my. 

Ek sou nie die guts gehad het om op baie van die rides te gaan wat daar was nie, maar dit was baie lekker om na die mense se gesigte te kyk soos hulle meters in die lug opgeskiet word teen 'n stink spoed of meters bo die grond rondgeswaai word met oorverdowende gille. Jy sien net voete waai! Met die Power Tower, skiet hulle jou 59m in die lug op en laat val jou dan herhaaldelik vanaf daar bo. Ek het maar net op die grond gestaan en kyk, maar selfs daar het dit my half dronk gemaak. 

Later het ons 'n pulled pork rolletjie met stuffing gedeel en vir poeding 'n Belgian Waffle met wit warm sjokolade bo-oor. Ai, hoe lekker! Ek dink ons het ons nou uitgeëet en na dese was selfs ek lus vir 'n klein bietjie groente.

Saturday, 23 November 2013

London in die maanlig

Ek kom nie baie in London nie, en veral nie in die aand nie. Mens vergeet hoe mooi dit daar kan wees, veral in die maanlig op 'n vars November aand.  'n Vriendin het my Vrydagaand genooi na 'n voorlesing deur die gewilde skrywer, Marita van der Vyver, in die Nedbank kantore. Die gebou het 'n benybare posisie op die Teems, reg langs die Millennium Footbridge ('n voetbrug reg oor die Teems) en oorkant St. Paul's Cathedral. Ek het 'n bietjie verdwaal, maar met die pragtige stads liggies wat glinster in die waters van die groot rivier, kan mens nie te sleg voel om daar rond te wandel in die koue nie.

Die voorlesing was heerlik. Marita het 'n nuwe book geskryf oor haar ervaringe in Frankryk ('n Fontein voor ons deur) en ek sien uit om dit self te lees. Soos sy ook verduidelik, ons woon dalk nie almal in dieselfde 'verre land' nie, maar bevind ons wel in die vreemde, waar ons ervaringe in baie gevalle dieselfde is, omdat ons dit met ons Suid-Afrikaner lywe beleef. Hoe lekker om 'n bietjie in Afrikaans te kuier.

Op die rit terug op die trein, verwonder ek my soos altyd aan die mense om my. 'n Meisie sit in 'n hoek en praat heel rit kliphard met haar Ma oor die foon oor haar moeilike dag en al die frustrasies in haar lewe - dis al byna elf uur, ai die geduld van 'n Ma darem. 'n Middeljarige man vang die oog van die vrou wat oorkant hom sit en skraap sy moed bymekaar en skryf vir haar 'n nota op 'n stuk papier wat hy uit 'n boek uit skeur. Skaam skryf sy terug en so, voor my oë kan ek sien hoe twee vreemdelinge mekaar vind. Oorkant my sit twee jong seuns, oppad huistoe vanaf 'n nuwe werk. Hulle ken nog nie hulle kollegas se name nie, so moet hulle kleurvol beskryf...is sy die een met die sweterige hare? Nee, nie daai een nie, die een met die "scary" naels. O ja..daai een! Ek kan maar net lag, toe die een vir die ander met groot oë sê, "Jy weet, dis rerig moeilik, nie net moet ek al hierdie nuwe mense se name onthou nie, maar ook wat hulle doen en hoe hulle lyk." Welkom tot die grootmens lewe van werk, boet!
 
Op die platforms sien ek dronk mens skeef rond weef en ek wonder hoe hulle by die huis gaan kom. Jong meisies, oppad na partytjies, nes ek begin moeg word en wens vir my bed. Ou mense, terug van die teater, styf toegewoeg in groog jasse met warm serpe, wat steeds hande vashou soos hulle saam wag vir hulle trein.

Soos die trein deur die donker nag jaag, vang jy flitse van mense se lewens deur verligte vensters. 'n Woonstel verlig met kerse, 'n groep vriende wat lekker lag om 'n groot tafel. Kantore waar mense nog daai tyd van die nag hard sit en werk of dalk rondstaan met 'n glas wyn by 'n 'office party'. Of couples wat voor die TV op die rusbank lê en wyndrink. 'n Vrou wat woes, elf uur in die nag, stofsuig. Miljoene lewens, almal so styf saamgeprop, almal so hard aan die lewe, elkeen met hul eie storie.

Saturday, 16 November 2013

Pragtige Paddastoele


Met ‘n onlangse sonskyn Sondag, het ons die grootste begrafplaas in Engeland gaan besoek, Brookwood Cemetry, vir ‘n rustige oggend in the natuur. Dit is oor die 500 hektaar groot en alhoewel meer as 235,000 mense daar tot ruste gelê is, kom dit meer soos ‘n woud voor met ‘n paar ou grafstene wat tussen die bome en varings vir jou loer. Om ‘n begrafplaas te besoek klink dalk morbied, maar Broodwood is meer as net ‘n begrafplaas, dit is ‘n stukkie geskiedenis asook ‘n pragtige stukkie natuur. In die verlede het dit sy eie treinstasie gehad, met treine wat direk uit London, Waterloo, geloop het vanaf die London Necropolis stasie. Die platform is steeds in die begrafplaas, met die spore wat doodloop in die gras, maar alhoewel ons ‘n hele paar ure en kilometers gestap het, kon ons dit nie vind nie. Op ons uitstappie het ons ‘n hele paar gesinne teëgekom wat met hulle kinders gekom het vir ‘n uitstappie en selfs ‘n paar drawwers, wat die plek selfs meer van ‘n ‘park’ gevoel gegee het.


Ons het gehoop om ‘n paar besonderse fotos te kry op ons uitstappie, maar ek was nie heeltemal voorbereid vir die wonderlike hoeveelheid interessante sampioene wat daar te vinde was nie. Ek gaan nie eens probeer om hulle te klassifiseer nie, maar hulle was pragtig en die winter son het hulle lieflik belig. Juan moes maar baie geduldig wees, met my wat elke tweede sampioen (en Engel) wou afneem.


Ek het wel van die sampioene probeer opsoek en toe toevallig op ‘n interesante storie afgekom, waar mense voorstel dat die mite van Kersvader sy afkoms van ‘n sampioen het. Ek het nog nooit daarvan gehoor nie en dit nogal interesant gevind. Hulle meen dat daar in die verlede 'n sjamanistiese stam in Siberia was, die Koryak, wat in hulle rituele die sampioen Amanita Muscaria gebruik het. Dit is die tipiese paddastoel van sprokies met sy wit steel, rooi kappie en wit kolletjies. Alhoewel hierdie sampioen giftig is, is dit meer bekend vir sy hallusinogeniese eienskappe en het mense dit oor die jare gebruik om met geeste te kommunikeer en visioene te sien. Nie net het die Koryak die sampioene so gebruik nie, maar die rendiere wat hulle aangehou het, was ook besonders lief vir hierdie sampioen en die effekte daarvan. Daar word vertel dat die rendiere vir myle na die sampioen gesoek het en dan daarvan geëet het todat hulle heeltemal hoog geraak het op die effekte daarvan. Hulle sê dat die gedrag van die rendiere en die kleure van die sampioen (rooi en wit) alles bygedra het tot die mite van Kersvader en sy vlieende rendiere. Dit is natuurlik net ‘n vreemde hipotese en ek dink nie die legende van Kersvader se afkoms het werklik veel hiermee uit te waai nie, in teendeel, ek glo die oorspronklike Kersvader het op ‘n perd gery, maar dit is tog interesant om op sulke brokkies af te kom en die verskillende oorspronge en mites aangaande Sinterklaas is baie meer ingewikkeld as net ‘n enkele afkoms.


‘n Baie meer algemene fabel aangaande paddastoele, is die van ‘Fairy Rings’, ‘n perfekte sirkel van sampioene in ‘n woud of veld. In Frankryk word hulle ronds de sorciers ("sorcerers' rings") genoem en in Duitsland, Hexenringe ("witches' rings"). Maar in meeste legendes word hulle veroorsaak deur die dans van feetjies in kringe en is dit nie noodwendig ‘n goeie idee om ooit binne een te trap nie, want jy kan onder die invloed van die feë val of saam met hulle dans tot jou einde. Om een te beskadig sal jou net die toorn van die feë op die hals haal, maar dit is blykbaar goeie geluk om een op jou gronde te vind, want jou oes en kudde sal floreer. Ons het self op ‘n baie effense sirkel afgekom, maar ongelukkig geen feetjies nie.


Ons het ‘n heerlike uitstappie gehad, maar die plek was so ongelooflik groot, ons sal tien teen een moet teruggaan om alles te sien. Wonder wat ons volgende keer daar sal teëkom?



Saturday, 9 November 2013

Tyd vir 'n Stewige Ontbyt

Heel week is ek al lus om my man te bederf met 'American Breakfast Pancakes' met spek en stroop vir ontbyt. Vir sulke ondernemings het jy wel tyd nodig (miskien nie vir die maak nie, maar om na die tyd rond te lê en niks doen nie), so ek moes maar wag vir 'n lekker koue Saterdag oggend. Soos meeste dinge waarvoor ek lus raak is dit beslis nie gesond nie, maar vreeslik lekker. 

Ons Suid-Afrikaaners noem hierdie pannekoekies sommer plaatkoekies en in Engeland is dit 'n Drop Scone of 'n Scotch Pancake, maar die Amerikaners is bekend daarvoor om dit te eet met spek en stroop - en as dit vir jou vreemd klink, moenie worry nie, dis baie lekker. Ek het sommer 'n Britse twis ook bygesit, deur 'n paar lekker 'bangers' by te maak - of te wel, vark worsies. Hierdie resep is beslis bedoel vir 'n gesin van vier of meer, maar dis nie moeilik vir die twee van ons om dit te eet vir breakfast, lunch en supper nie. 


Amerikaanse Ontbyt Pannekoek Resep (Plaatkoekies)

1 Eetlepel Bakpoeier
1 Knippie Sout
1 Teelepel Suiker
225g Meel

30g Botter (gesmelt en afgekoel)
300ml Melk
2 Eiers

Meng die droë en nat bestandele apart en dan goed saam. Ek klits hulle sommer met die hand saam totdat alles 'n gladde beslag vorm, maar 'n elektriese menger sal seker vinniger werk en die beslag beter meng. Ek hou ook daarvan om die beslag in 'n groot maatbeker aan te maak, sodat dit makliker is om bietjies bietjies in die pan te gooi. 

Smelt botter in 'n swaarboompan en gooi die beslag stadig uit totdat dit so groot is soos jy graag jou pannekoekies wil hê - ek pas gewoonlik vier pannekoekies in my groot pan. Laat hulle dan braai totdat borrels bo-op breek, so weet jy die onderkant is reg. Draai dan om en braai vir nog 'n minuut. Hou so aan tot die hele beslag op is - of bêre oorblywende beslag in die yskas vir die volgende oggend. 


Hierdie pannekoekies sal lekker wees met roomys ook of jy kan 'n handvol bevrore bessies in die beslag gooi en dit bedien met stroop, maar ek het vir ons spek en wors by gebraai en dit bedien met 'n sterk beleë kaas en 'n goeie Kanadese esdoringstroop (of te wel, Maple Syrup). Saam met 'n lekker bitter sterk koffietjie, kan daar net nie op verbeter word vir 'n goeie begin aan die dag nie. 


Monday, 4 November 2013

Pampoen Plesier

November is hier en met dit, die koue. Net ‘n week of twee gelede het ons die grootste storm in jare gehad. Ons het relatief ongeskaad van dit afgekom met net ‘n paar bosse platgewaai, maar oral langs die paaie sien jy steeds omgewaaide bome. Dit was omtrent 'n belewenis om so veilig, in die vroee oggendure, in jou huisie te staan en te sien hoe die bure se vullisdromme in die pad afwaai en die bome so buig en ruk. Juan het daai oggend al 4uur vertrek om ‘n vlug te vang na Europa en ek was maar bekommerd oor hoe veilig die paaie en die vlug sou wees, maar alles het goed afgeloop.

Onlangs het die eerste sneeu in Skotland geval en ek wonder wanneer dit ons beurt gaan wees. Ons sorg maar dat die tuin in orde is, want as die weer eers werklik gedraai het, wil jy nie buite wees onnodiglik nie. 

Laat middae by die werk gaan die son al lank voor 5uur onder en is die vensters swart spieels. Die dae is kort en raak al kouer. Hierdie is beslis nie tyd vir slaai en ligte etes nie, maar vir lekker warm stewige kos wat vir jou ‘n drukkie kan gee van binne. 

Ek en Juan het nie ‘n pampoen gekerf vir Halloween nie, maar het hom eerder in die oond gebak met room – dit was beslis die beter opsie. Toe kon ons eerder na die tyd die ete gaan afstap in die buurt en kyk na ander mense se gekerfte pampoene en hoe die kinders en hull baie moeë ouers ‘trick or treat’. Baie huise was maar baie donker, seker te bang die kinders kom klop vir lekkers, maar ander huise was baie mooi opgemaak en ons het ‘n hele paar baie mooi pampoene gesien. 

Ek het ‘n lekker klein pampoen gekies – net genoeg vir twee – en die moeilikste gedeelte van hierdie resep is om die pampoen mooi in die middel deur te sny, sonder om ‘n vinger te verloor, sodat jy twee ‘bakkies’ het om jou room in te gooi. Uiters lui het ek vinnig oor middagete die pampoen in twee gedeel. Ek het elke helfte gevul met room, droeë kruie en gemaalde sout oorgegooi, en met ‘n bietjie water onder in die oondbak, het ek dit bedek met foelie en in die oond geprop. So het ek dit vir 20minute teen 180 gebak en toe net die oond afgesit en terug werk toe gegaan. Die oorblywende hitte in die oond het die pampoen stadig deurgekook en kans gegee vir die gedroogte kruie om lekker in te trek. 


Toe ek die aand by die huis kom, het ek spek en uie in ‘n pan gebraai terwyl ek weer die oond aangesit het om die pampoen warm te maak. Eenkant het ek vinnig 'n bietjie koeskoes in 'n koppie aangemaak om die ete aan te vul. Jy kan jou koeskoes meng met enige iets, maar ek hou van spek en uie saam met my pampoen. Gooi dan ook ‘n handvol sade by en dalk ‘n handvol gedroogte bessies en bedien alles warm saam (met ‘n bietjie kaas as jy so voel).


Ek het maar 'n paar van die pampoen se pitte eenkant gehou...sal interessant wees om te sien of ek dalk volgende jaar een in my tuin kan groei...dit was 'n baie lekker pampoen.