Monday 17 August 2015

Net Vlugtig Vriende

Ek dink nie die Britse Somer was al ooit vir my so sleg soos hierdie jaar nie. My groente vrot van al die reën en ons kom net een of twee keer 'n week uit vir 'n stappie of 'n fietsry. Verlede week het dit weer so gereën en het ek hier binne op die rekenaar sit en werk toe ek skielik 'n beweging by die agterdeur sien. Toe ek die groot wit en swart voël gewaar, het ek gedog hy sou dadelik wegvlieg as ek beweeg, want die Magpies in ons area is maar sku. Die een het net daar bly sit en kyk vir my. 

Sopnat en jonk het ek hom nogal jammer gekry en gedink ek sal vir hom 'n stukkie wors opsny en uitsit. Hoe verbaas was ek nie, toe hy op my hand land en gulsig die kos wegsluk. En toe hy eers op my hand is, toe wil hy ook nie af nie. So het ons vlugtige vriendskap begin. 


Mnr. Kaalvoet kon nie glo wat ek hom vertel nie. Vir die volgende drie dae het ons baie tyd saam spandeer. As hy weet jy is buite, dan vlieg hy vinnig nader. Ek voer hom stukkies kaas, wors en gedroogte wurms. Van die wurms hou hy die meeste. As hy meer kos kry as wat hy kan eet, hou hy daarvan om dit weg te steek. Soms steek hy dit weg in my man se kraag of onder my arm en het selfs 'n grondboontjie agter Mnr. Kaalvoet se oor ingedruk. Ek maak vir hom dinge interessant deur sy kos soms binne, agter of onder dinge te sit. Hy is slim en werk vinnig uit hoe om daarby uit te kom. As jy aan iets werk, wil hy daarmee peuter, hy is baie nuuskierig en bang vir niks. 

Hy hou daarvan om op mens se kop te sit en as hy op jou skouer is, kan hy nie jou ore of hare uitlos nie. As hy jou 'n tydjie nie gesien het nie, kom land hy op jou voorarm en vryf dan ywerig sy kop op en af teen jou bo-arm terwyl hy sulke klein geluidjies maak. Saterdag, na 'n lang dag, het  hy selfs op my arm aan die slaap geraak.


Die mense in die buurt is mal oor hom en almal bederf hom vreeslik al is hy stout en vlieg by hulle vensters en oop deure in. My buurvrou is natuurlik die uitsondering. Sy is bitterlik  bang vir voëls en skreeu wild en hard na my as hy na haar toe kom sodat ek hom kan wegvat. Sy hou aan vir my sê ek moet hom in 'n krat sit en mense bel om hom weg te vat. Ek kan dit nie oor my hart kry nie en die RSPB het aangeraai dat ons dit nie moet doen nie. So karring die vrou heel Saterdag aan ons dat ons iets moet doen, dit kan nie so aangaan nie. Maar niemand anders blyk om veel van 'n probleem te hê nie en hy doen die rondtes by almal, ons het geen reg om iets aan hom te doen nie.


Sondag het die son 'n slag geskyn en kon ons ons fietse oplaai en 'n bietjie wegkom.  Laat middag kom ons tuis en is ons besig om die fietse af te laai toe die buurvrou haar deur oopmaak. Sy wou net laat weet, want sy het ons gewaarsku ons moet iets doen, iemand het hom nek omgedraai.

2 comments:

  1. That's amazing if you have a volatile friendship with it. This association will heal her wounds soon.
    gatwick parking north terminal

    ReplyDelete
  2. The Internet of Things involves the increasing prevalence of objects and entities – known, in this context as things, provided with unique identifiers and the ability to automatically transfer data over a network. Though considered the future of technology, security experts have warned of the potential risk of large numbers of unsecured devices connecting to the Internet
    internet of things IoT Design company

    ReplyDelete